19 dae gelede
Ajax verspeel kanse in nederlaag
TWEESTRYD: Ajax se Grant Margeman (regs) veg om balbesit met Leopards se Aro Andrianarimanana.  ~ BackpagePix

AJAX Cape Town moet hard bid dat Woensdag se verspeelde kanse nie later in die promosie-relegasie-toernooi vir ’n plek in die Premierliga (PSL) by hom spook nie.

Calvin Marlin, waarnemende afrigter, se span het in die FNB-stadion met 0-1 teen Black Leopards vasgeval.

Ajax het gulde kanse verbrou om ’n vroeë wurggreep in dié play-offs te kry, veral nadat hy Tshakhuma Tsha Madzivhandila met 3-2 in die eerste wedstryd daarvan geklop het.

Dit gaan die verstand te bowe dat Marlin se troepe soveel goeie kanse verspeel het.

Ná die wedstryd sê Marlin: “Ek weet nie hoe verloor jy ’n wedstryd soos dié nie. Ons het nege kanse geskep en as jy dit nie kan vat nie, gaan jy altyd sukkel.

“As die spelers ook nie luister as ons sê moenie square balls speel in die midfield nie, dan gaan jy doele soos daai op die teenaanval afstaan.

Marlin verwys hier na Leopards se kaptein en voorste doelskieter, Mwape Musonda, se kolskoot.

Fout

Musonda het met ’n kliniese skoot met die regtervoet van binne die doelgebied Ajax se Nick Hengelman geklop vir die wendoel.

“Ek dink ons het die game onder beheer gehad, maar dit is hoe sokker is, waar een fout jou die wedstryd kos.”

Met ’n plek in die PSL op die spel, is daar meer verwag van die Urban Warriors.

Ajax se afronding het hom reeds in die vierde minuut in die steek gelaat toe sy defender Thendo Mukumela die bal van reg voor die doelhok oor die dwarspaal gestuur het.

Die Parow-span het telkens goeie bewegings bymekaar­gesit met high balls en crosses vir hul ervare doelskieter Eleazar­ Rodgers. Maar dit was dieselfde uitslag met talle aanvallende bewegings en kanse wat skipbreuk gely het.

Leopards was tot sy krediet baie kompak en het Ajax geforseer om wyd te speel of die met lang balle aan te val.

Sonwabile Mfecane het voor die halfuurmerk ’n gulde kans verbrou toe hy skeef gekorrel het met sy poging van reg voor die doelhok.

Rodrick Kabwe het in die 36ste minuut laat waai met ’n langafstandpoging van ver buite die doelgebied. Dit het Kgosietsile Ndlovu in die Leopards-doelhok byna onkant betrap.

Gelyk

Mfecane het voor die rustyd ’n verspotmaklike kans gemis ná goeie werk deur Chumani Butsaka op die linkervleuel wat die bal so te sê op ’n platter aangegee het.

Ná die rustyd het Ajax se kaptein, Grant Margeman, probeer om die telling gelyk te maak, maar sy linkervoet­poging het ook oor die dwarspaal geseil. Ajax en Leopards het nou albei drie punte in die toernooi.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters