11 dae gelede
Aggressie die sleutel
MAN WAT KAN: Mark Boucher, hoofafrigter van die Proteas, sê sy sê.  ~ Gallo Images

MARK Boucher, hoofafrigter van die Proteas, het gister erken sy span gaan aggressiewe krieket in die komende witbalreekse teen Engeland in die Wes-Kaap moet speel.

Die voormalige Protea-paaltjiewagter het die media gister virtueel oor verskeie kwessies toegespreek. Hy het ook laat hoor dat hy vroeër vanjaar Covid-19 onder lede gehad het, maar dit nie geweet het nie.

Suid-Afrika pak Engeland van 27 November in drie T20I’s en drie ODI’s. Dié wedstryde word op Nuweland en Bolandpark beslis.

Opgewonde

“Ons het weer begin en ons waardes herstruktureer,” sê Boucher. “Dis alles op ’n prestasiemodel gebaseer. Dis tyd dat ons dit op die proef stel ... en wie kan ons beter toets as die wêreldkampioen, Engeland?

“Ek is opgewonde en senuweeagtig, maar ek dink dis ’n goeie ding. Baie van die spelers is ook senuweeagtig,” het Boucher erken.

Die breier verduidelik die nuwe filosofie gaan oor ’n verandering in ingesteld en ’n meer positiewe benadering tot die spel.

“Ons wil lekker aggressief wees – dis die rigting waarin die spel beweeg. Maar ons kan ook nie mavericks wees nie. Jy moet slim wees. Ons probeer die kolwers en boulers nuwe houe of verskillende soorte balle leer om hulle te help ontwikkel.”

Boucher is ook gepols oor of sy spelers weer sal kniel ter ondersteuning van die #BLM-beweging soos hulle vroeër vanjaar tydens die driespan-wedstryd (3TC) gedoen het.

“Ek het met die man gesels wat die hele beweging binne ons opset gedryf het (Lungi Ngidi), ” het Boucher geanwoord. “Hy is redelik tevrede dat ons gedoen het wat ons moes doen, veral by daai wedstryd (3TC).”

Boucher, wat ’n magdom rekords in sy 147 toetse en 295 ODI’s vir die Proteas hou, het onthul dat hy nie by die 3TC-wedstryd was nie omdat hy daai tyd Covid-19 onder lede gehad het.

“Ek het nie eers geweet dat ek dit het nie. Ek was besig om vir wedlope voor te berei waaraan ons deelneem in die afseisoen, en ek het nog gehardloop.

“Ek het (daarna) balle aan manne in die nette gegooi en pyne en skete in my liggaam ervaar, maar gedink dis omdat ek lanklaas balle gegooi het.

“Gelukkig het dit net twee of drie dae gehou en toe was dit oor.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters