4 dae gelede
Afrika struikel
Sadio ManĂ© van Senegal is een van Liverpool se groot staatmakers.Foto: gallo images  ~ 

NÓG ’n Wêreldbeker-sokkertoernooi (WB) staan einde se kant toe en steeds spook die destydse voorspelling dat ’n Afrikaland dit nog sal wen by miljoene sokkergeesdriftiges op die kontinent.

Daar is aanvanklik geglo dat in die WB vanjaar in Rusland ’n Afrika-span die beste kans het om ten minste tot die halfeindronde te vorder­.

Die tafel was ook daarvoor gedek toe die groot gunsteling en verdedigende kampioen, Duitsland, in die groepfase uitgeboender is.

In die groep waarin Ni­gerië gespeel het, was Argentinië ook op die drumpel daarvan om vroeg uit te val.

As Nigerië net kon vasbyt vir ’n gelykop uitslag teen die Suid-Amerikaners...

Maar soos die gesegde lui, is as verbrande hout, en dis steeds ’n feit dat geen Afrikaland nog die halfeindronde van die WB kon haal nie.

Ster-spelers

Die legendariese Brasiliaanse speler Pelé het een keer voorspel dat Afrika nog voor 2000 ’n WB-kampioen sal oplewer. Dít klink nou soos ’n grap.

Die kontinent se voorste sokkermoondhede (die sukkel­ende Suid-Afrika natuurlik uitgesluit) lewer verskeie ster-spelers op.

Egipte spog met die Engelse Premierliga (EPL) se speler­ van die jaar, Mo­hamed Salah. Sy spanmaat by Liverpool Sadio Mané is ook een van die ster-spelers met wie Senegal gehoop het om ver te vorder in die WB.

Die Nigeriese span het met sterre soos John Obi Mikel, Alex Iwobi, Victor Moses, Wilfred Ndidi en Ahmed Musa in Rusland opgedaag.

Die spelers van Tunisië en Marokko is nou wel minder bekend, maar hulle is steeds spanne wat vir ’n opskudding of twee kon sorg.

Afrika se vyf verteen­woordigers kon altesaam net drie oorwinnings in die groepfase verseker.

In die vorige WB in Brasilië het twee Afrikalande die uitklop­fase gehaal: Nigerië en Algerië.

In 2010 in Suid-Afrika was Ghana ongelukkig om ná ’n verbroude strafdoel nie die eerste Afrika-span te word wat vir die halfeindronde kon kwalifiseer nie.

Ná Afrikalande se mislukte sending in Rusland sal gewonder word daaroor of die kontinent vyf verteen­woordigers in ’n WB gegun moet word.

Die kontinent se sokker­beheerliggaam, CAF, het egter­ voor die WB geëis dat meer Afrikalande deelneem.

Bewys

Daardie eis sal ná dié WB beslis nie oorweeg word nie.

Trouens, die kontinent se spanne sal hulself in die volgende WB-skouspel in 2022 in Katar eerder van voor af moet bewys.

Die internasionale sokkerbeheerliggaam, Fifa, het reeds aangekondig dat meer spanne aan die WB in 2026 sal deelneem.

Meer Afrikalande sal dan hopelik die geleentheid gebied­ word om deel te neem.

In dié WB, wat gesamentlik deur Amerika, Mexiko en Kanada aangebied sal word, sal 48 spanne, pleks van die huidige 32, deelneem.

En in die uitklopfase sal ’n ekstra ronde gespeel word, waaraan 32 spanne sal deelneem.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters