DIE ervare Kaapse boksman Jeremy Bean is lid van ’n span wat die Rumble in the Jungle gaan laat herleef.
“Dis tyd dat Afrika sy regmatige plek op die bokskalender kry.
“Amerika en Europa het wêreldboks jare lank oorheers.
“Nou het die Midde-Ooste ook ’n vastrapplek gekry, maar ons gaan sorg dat Afrika nie agterbly nie,” sê hy.
Bean sluit hom in Tanzanië aan by Scott Patrick Farrell en Kelvin Twissa, wat glo Afrika het “massiewe potensiaal” om pan- Afrika-boks ’n reuse-hupstoot te gee.
Vennootskap
Hul eerste toernooi word op 29 Januarie in Dar es Salaam gehou en heet Rumble in Dar.
Bean was jare lank die promotor Steve Kalakoda se regterhand in die Kaap.
Hy het nou weggebreek om deel van dié opwindende vennootskap tussen Global Boxing Stars en The Jackson Group te wees.
“Dis opwindende tye wat voorlê,” sê Bean.
Hy sê ook hy en Kalakoda is steeds goeie vriende en hulle het besluit om die opkomende swaargewig Ardi Ndembo saam te bestuur.
Hoofgevegte
Luidens ’n verklaring sal die nuwe vennootskap se openingstoernooi deur toeskouers bygewoon word omdat Tanzanië min deur die Covid-pandemie geaffekteer is.
In die twee hoofgevegte van die aand pak Ibrahim Class en Dennis Mwale mekaar om die WBF se interkontinentale liggewigtitel, terwyl Tervel Pulev en Vikapita Meroro mekaar pak.
Pulev is die broer van Kubrat Pulev, wat onlangs deur Anthony Joshua uitgeslaan is.