Verlede maand
Afrigter is tevrede
Stanley Raubenheimer  ~ Ashley Vlotman

DIE Springbok-vrouespan se afrigter, Stanley Raubenheimer, het sy tevredenheid uitgespreek met die vordering wat sy spelers op hul oefenkamp in Stellenbosch maak.

Die vrouespan is besig met voorbereiding vir die Rugby World Cup wat in September in Nieu-Seeland plaasvind.

Raubenheimer het vroeg in Januarie ’n groep van 24 spelers saamgestel vir die eerste fase van die kamp van twee en ’n half maande. Sy oefengroep gaan van 14 tot 28 Maart na 40 spelers uitbrei.

Die Springbokvroue pak Frankryk op Saterdag 18 September om 04:15 (SA tyd) op Eden Park.

Daarna speel hulle teen Engeland 09:15 op Donderdag 23 September in die Northland Events Centre in Whangarei.

Hul laaste kragmeting in groep C met Fidji is 05:45 op Dinsdag 28 September in die Waitakere-stadion in Auckland.

“Die kamp vorder goed,” sê Raubenheimer gister in ’n ver­klaring.

“Die kondisionering, wat die hoofdoel van die oefenkamp is, vorder goed. Die spelers pas goed aan by die werkslading wat ons op hulle plaas.

“Wat die rugby-aspekte betref, is ons nie te ver van wat ons op hierdie kamp wil bereik nie.”

Wanneer die res van die spelers bykom, gaan Raubenheimer die fokus effens verander.

“Ons gaan voortbou op wat ons gedoen het. Ek wil ook wedstryde simuleer om te sien hoe ons sommige van die aspekte waarmee ons sedert laas jaar gewerk het, kan implementeer.

Die afrigter verduidelik hulle beplan om drie wedstryde binne die uitgebreide groep te speel om die situasie by die World Cup na te boots.

“Ons sal dus kan sien hoe die spelers die uitdaging hanteer om drie wedstryde binne vier dae ná mekaar te speel.

“Die fokus van die kamp sal dus wees op voorbereiding van wedstryde en hoe ons dit hanteer,” sê hy.

Volgens Raubenheimer gaan hulle later in die jaar nog ’n kamp van vyf weke hou.

“Ons wil ons tyd saam optimaal benut,” voeg hy by.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters