10 dae gelede
Ackermann ’n booster
waardevol: Colin Ackermann se terugkeer versterk die Warriors se kolflys aansienlik.Foto: netwerk24  ~ 

COLIN Ackermann se terugkeer tot die Warriors sal die kolflys aansienlik versterk.

Die Warriors speel van môre af teen die Titans op SuperSportpark in Cen­turion.

Die Warriors het in die eerste wedstryd teen die Lions­ in Port Elizabeth nie juis die wêreld aan die brand gekolf nie.

Dit was eintlik net Sine­themba Qeshile, Yaseen Vallie en Gihahn Cloete wat met eer uit die stryd getree het.

Cloete is egter nie beskikbaar nie, aangesien hy by die groep Protea-spelers vir die T20-reeks teen Zim­babwe ingesluit is.

Ackermann het nie teen die Lions gespeel nie omdat hy weens sy druk program in Engelse graafskapkrieket ’n ruskans gebied is.

Die 19-jarige Qeshile is egter gereed om sy hoë peil voort te sit.

Hy het teen die Lions verreweg die beste met die kolf gevaar deur 127 lopies in die twee beurte aan te teken.

Qeshile het voor die War­riors se oefening gister aan Son gesê: “Ek glo daar is ’n honderdtal op pad vir my.

“Ek moet net aanhou om te doen wat ek tot dusver gedoen het.”

Hy was indrukwekkend toe hy sy 69 onoorwonne lopies in die tweede beurt teen die Lions aangeteken het.

Verskil

Qeshile het die Lion-boulers gefrustreer, en die naatbouler Beuran Hendricks het hom goed laat verstaan hy hou nie daarvan nie.

Qeshile sê: “As ’n youngster is ek gereed vir sledging. Ek love dit, want dan speel ek éérs.

“Daar is ’n groot verskil tussen skole- en franchise-krieket. Ek geniet die atmosfeer van eersterangse krieket­.”

Qeshile sê hy weet hy is onder druk om aan hoë verwagtinge te voldoen.

“Ja, ek het al baie gehoor watter goeie speler ek is, maar ek probeer daardie dinge uit my spel hou,” sê hy.

Hy wil sy hoë kolfpeil teen die Lions voortsit, maar sê hy besef hy sal van voor af hard moet werk vir lopies.

“Dis ’n ander span en ’n ander omgewing,” sê Qe­shile.

“Ek sal eers by die toe­stande moet aanpas en dan gebeur dinge hopelik.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters