4 dae gelede
AB wil ’n impak maak
AB de Villiers  ~ Getty Images

SY DEBUUT in T20-krieket se Big Bash League (BBL) in Australië kan die eerste tree wees na ’n kortstondige inter­nasionale terugkeer vir AB de Villiers.

Dié voormalige kaptein van die Proteas speel Dinsdag in sy eerste BBL game vir die Brisbane Heat. Die Heat pak die Adelaide Strikers.

In Desember het die Pro­teas se nuwe afrigter, Mark Boucher, sowel as die Protea-kaptein, Faf du Plessis, onthul hulle wil De Villiers graag weer in ’n Suid-Afrikaanse span sien – al is dit net vir later vanjaar se T20 World Cup in Australië.

Draai

Speelkans by die Heat kan vir De Villiers as perfekte proewe in Australiese toestande dien om die Suid-Afrikaanse keurders se arm te draai vir ’n internasionale terugkeer.

De Villiers het in 2018 uit alle internasionale krieket getree ná suksesvolle reekse teen Indië en Australië op tuisbodem.

Hy was laas jaar gedurende die Proteas se deelname aan die eendaagse formaat se World Cup in Engeland ’n groot besprekingspunt.

Berigte dat hy na bewering die span genader het oor ’n terugkeer na internasionale krieket het vir groot omstredenheid gesorg.

Die Proteas het vrot gevaar in Engeland. Dit het verdere vrae laat ontstaan oor hoekom AB nie maar gekies is nie.

De Villiers is tans goed op dreef. Sy 325 lopies teen ’n treftempo van 152,58 vir die Tshwane Spartans in die Mzansi Superliga getuig daarvan.

Maar, sê De Villiers, hy het ’n belangrike rol om te vervul wanneer hy vandag speel.

Die internasionale speler wat hy vervang, Tom Banton van Engeland, het 223 lopies (3 vyftigtalle) in 8 games vir die Heat aangeteken.

De Villiers het nou wel in Desember laas krieket gespeel, maar hy sê in sy tyd by die Spartans het hy weer van die beste krieket in sy loopbaan begin speel.

“Hopelik sal dit voortduur in die toernooi.

“Ek weet wat van my verwag word om my kant vir die span te bring.

“Daar was ’n hele paar uitstekende vertonings vir die Heat tot dusver en die span vaar goed.

“Tom Banton het ’n fantastiese job gedoen.

“Hopelik kan ek in die middelorde dieselfde rol vervul,” het De Villiers gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters