Verlede jaar
Vonke kan nou spat
Lebogang Manyama sal weer 'n sleutelfiguur wees vir die Citizens teen die Amakhosi.  ~ 

DIE Kaap is weer Hollands, want die Glamour Boys van Kaizer Chiefs is hier!

Die vonke kan vandag weer spat wanneer die voorloper in die Premier­sokkerliga (PSL), Cape Town City, die Soweto-reus in ’n PSL-kragmeting in die Cape Town Stadium pak.

City se afrigter, Eric Tink­ler, sê dis ’n móét-wen-wedstryd vir die Kapenaars.

Tinkler sê: “Ons bereik nou ’n fase in die seisoen waar ons niks het om te verloor nie.

“Ons moet alles in die stryd werp om soveel punte as moontlik in te samel.

“Ons sal ons ook daarop toespits om die liga te wen, en ons eerste hindernis, natuurlik, is Chiefs.”

Tinkler besef ook Chiefs het goeie momentum gebou sedert die onderbrekings gedurende Kerstyd.

Die span van Naturena is onoorwonne in sy vorige 12 wedstryde; 7 daarvan is oorwinnings.

Boonop kan Steve Komphela (afrigter) se troepe die top-posisie op die puntelys oorneem as hulle City stuit.

Tinkler meen egter die Citizens sal op hul heel beste moet wees om dit reg te kry.

“Ons sal hoogs gemotiveerd moet wees omdat ’n moeilike uitdaging voorlê,” maan Tinkler.

“Ons sal gedissiplineerd moet wees en ’n hoë werk­verrigting moet handhaaf.

“Ons sal dieselfde benadering moet toepas wat tot dusver vir ons gewerk het.”

Die voormalige Bafana Bafana-middelskakel meen aangesien Chiefs nog Nedbank Cup-verpligtinge het, kan Komphela se spankeuses daardeur beïnvloed word.

Chiefs het Sater­dag langer as 120 minute gespeel en moes op skoppe van die strafmerk staatmaak om SuperSport United te klop.

Tinkler meen: “Dis vir hom ’n kopseer en iets waaroor ons nie hoef te worry nie, want ons het genoeg dae om te herstel.

“Ons weet watter soort sokker hulle speel en moet net seker maak ons hou by ons wedstrydplan.

“Ons moet op onsself fokus, ongeag wie Steve vandag inspan.”

Die loting vir die Nedbank Cup se halfeindronde is:
Chippa United t SuperSport United
- Golden Arrows t Orlando Pirates

Wedstryde sal oor die naweek van 13 en 14 Mei gespeel word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters