Verlede jaar
Menzo loof sy Warriors
op sy stukke: Brandon Pietersen het nie ’n enkele doel in sy span se vorige drie wedstryde afgestaan nie. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

STANLEY Menzo het sy Ajax Cape Town-spelers se lofsange besing ná sy span se gemaklike sege van 2-0 oor Bloemfontein Celtic Saterdag in die Athlone-stadion.

Twee doele in die eerste helfte deur Bantu Mzwakali en ­Prince Nxumalo het die Urban Warriors op die wenpad geplaas.

Dis Ajax se derde ligasege agtereenvolgens.

Boonop het Ajax nié ’n enkele doel in dié drie wedstryde afgestaan nie.

Dis veral hier waar Ajax se doelwagter, Brandon Pietersen, krediet verdien omdat sy uitstekende peil die doele uithou.

Pietersen het twee goeie stukkies keerwerk opgedis om Ajax se voorsprong te beskerm.

Die sege beteken ook dat Ajax (35 punte) weer die agtste posisie beklee met ’n beter doeleverskil teenoor Golden Arrows (ook 35 punte) wat in die negende posisie is.

Volgens Menzo was dit hul “fantastiese” vertoning in die eerste helfte wat die grondslag gelê het vir die oorwinning.

“Ons het baie energie in die eerste helfte ingesit,” verduidelik Menzo.

“Ek dink ons het verwag hulle sou terugsit en met teenaanvalle vorendag kom.

“Maar ons het goed gedoen om die wedstryde te beheer op ’n veld wat nie swak was nie, maar goed.

“Ons het geweet dit gaan moeilik wees in die tweede helfte.”

Ajax reis Woensdag na die Soweto-stadion vir sy ligawedstryd teen Orlando Pirates voordat hy afsluit teen Polokwane City op sy tuisveld. Menzo is bewus dat hulle nog niks bereik het nie.

“Daar lê nog harde werk voor en ons moet gefokus bly.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters