22 dae gelede
‘Dis ’n bedekte seën’
kopskoot! The Magic se Danian Warley wen die bal teen Santos se Mthuthuzeli Motshabane in die Nedbank-bekerstryd van die ABC Motsepe-liga in Lansdowne. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

BOEBIE Solomons is min gespin oor die romanse en prestige wat die geldryke Nedbank-bekerreeks inhou.

Dis juis waarom dié gesoute en berese afrigter van Santos geen slaap gaan verloor nie – veral nie nadat The Magic sy span se onoorwonne lopie van 18 wedstryde in alle kompetisies Saterdag tydens ’n Nedbank-bekerstryd stopgesit het nie.

Dit was beslis ’n taai stryd waar albei spanne niks weggegee het nie.

Die ervare doelskieter Danian Warley was op dié dag die verskil in ’n sege van 1-0 aan die besoekers.

Solomons, wat die leisels laas seisoen oorgeneem het, is steeds onoorwonne in sy vorige 17 liga-wedstryde.

Volgens hom beteken die bekernederlaag eintlik niks vir hom of sy span nie.

“Dis wel ’n bedekte seën en ek is eintlik happy dat ons uit die cup is,” het Solomons gesê.

“Ons fokus is om promosie in die liga te wen en die cup sou niks meer as ’n distraction vir ons gewees het nie.

“Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie, ons het gespeel om te wen.

“Om te verloor beteken niks. Ons fokus is op die liga en niks anders nie.”

Santos pak The Magic weer Vrydag, maar dié keer in ’n ligastryd op Mutualpark. The Magic kan verseker daarvan wees dat Santos sake wil regstel.

“As ons hulle geklop het, sal my spelers te relaxed gewees het. Hulle weet nou wat op spel is,” het Solomons afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters