Verlede jaar
Chippa te ongeduldig
en toe ...? Andile Mbenyane en Chippa Mpengesi spog met die NFD-trofee. Deesdae besoek die relegsie-spook die klub.Foto: gallo images  ~ 

WAT is die een ding wat Chippa Unit­ed moes gedoen het om relegasie vry te spring?

Daar is eintlik baie wat die klub kon doen – soos om meer doele aan te teken – maar die een groot ding was om meer vertroue in en geduld met sy hoofafrigter, Dan Malesela, te hê.

Maar kyk die penarie waarin Chippa United hom egter nou bevind: Ná tien wedstryde sonder ’n oorwinning is Malesela met spesiale verlof gestuur.

Dis maar net ’n mooi manier om te sê hy is ge-fire.

Tien is wel baie nederlae, maar soveel faktore het bygedra daartoe dat Chippa gesukkel het in die tweede helfte van sy Premiersokkerliga (PSL)-veldtog.

Van die faktore is die verkoop van spelers en beserings.

Malesela het ’n goeie grondslag begin lê nadat hy hom by Chippa gevestig het.

Die klub se jeugspanne is aan die gang en Malesela het selfs plaaslike spelers in die senior-span laat speel. Dít het nooit gebeur in Chippa se eerste twee seisoene in die Baai nie.

Nou sit Chippa sonder ’n afrigter en ses vername spelers en probeer hy relegasie vermy – dít is nadat hy die grootste deel van die seisoen probeer het om weer onder die top-agt te wees.

Toe Malesela met spesiale verlof gegaan het, het die Chilli Boys vyf PSL-wedstryde oor gehad. Daarvan het Chippa drie verloor teen spanne onder hom op die puntelys.

Ál wat hy basies moes probeer doen het, was om in twee tuiswedstryde een te wen en een gelykop te speel.

Dit behoort sy veiligheid soort van te verseker het.

Dis natuurlik baie makliker gesê as gedaan – veral vir ’n span wat toe al tien ligawedstryde verloor het.

Tog, met Malesela as afrigter het Chippa nie sleg gespeel nie; dis net die uitslae wat teleurstellend was.

’n Span moet egter wen, anders beteken aantreklike spel net mooi niks nie.

Sondag pak Chippa Highlands Park, wat onder aan die puntelys is. Dié wedstryd is Chippa se beste kans vir ’n oorwinning.

As Malesela steeds in beheer was, sou Chippa dit waarskynlik reggekry het.

Daarna kom SuperSport United en Free State Stars aan die beurt. SuperSport is die moeilikste van die drie bepalings, maar dis ook ’n tuiswedstryd.

Chippa kon dié een geteiken het vir ’n gelykop uitslag, maar ek dink sy kanse daarvoor sou beter gewees het met Malesela in beheer.

Hy weet immers beter as enige afrigter wat dié span se sterk en swak punte is.

Onder die waarnemende afrigter, Mbuyi­selo Sambu, het niks sover verander nie: Die spel is dieselfde.

Saterdag in die Sisa Dukashe-stadion in Oos-Londen het hulle teen Ajax so hard geveg soos toe hulle onder Malesela gespeel het.

Daar is ook weer baie faktore wat veroorsaak dat Suid-Afrikaanse klubs afrigters gou die trekpas gee.

Anders as in plekke soos Engeland, Spanje en Duitsland is dit nie lekker om in dié land se tweede liga, die Nasionale Eerste Liga (NFD), te speel nie.

Soms werk dit wanneer ’n afrigter gepos word. Onthou egter wat gebeur het met Manchester United nadat Alex Ferguson die klub ná 27 jaar verlaat het.

Arsenal-ondersteuners eis nou Arsène Wenger se kop, maar die klub kan dieselfde oorkom as Wenger waai.

Daarteenoor het spanne soos Chelsea en Leicester City danksy nuwe afrigters herstel van ongunstige posisies.

In Chelsea se geval was dit nadat hy verlede seisoen tiende geëindig het, en Leicester, die kampioen van die Engelse Premierliga (EPL), nadat hy Claudio Ranieri gepos het.

Ons is egter Suid-Afrika, nie Engeland nie. Dis wel duidelik dat ons die formaat van Europa se top-ligas volg, maar as dit so is, wanneer gaan ons hul konsekwentheid daarmee bereik?

Daardie konsekwentheid word net met geduld bereik, maar dís iets wat Suid-Afrikaanse sokker vermoedelik nie ken nie.

Chippa het nou 17 afrigters in 7 jaar gehad. Almal wil graag kits-sukses behaal, maar onthou: Iets wat afgejaag word, hou nie lank nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters