Verlede jaar
Chippa soek volpunte
medies geskik: Chippa se kaptein, Thamsanqa Sangweni (links), is fiks verklaar nadat hy hard gestamp is in die game teen teen Orlando Pirates.  ~ Gallo Images
MAAK nie saak wie in beheer is van Chippa United nie, ál wat saak maak, is drie punte in Oos-Londen.

Die Chilli Boys kan môre in die Sisa Dukashe-stadion hul relegasie-sorge verlig deur Ajax Cape Town te klop.

Maar nou loop die gerugte sterk dat die hulpafrigter, Zipho Dlangalala, sy tasse gepak het.

Asof dit nie genoeg is dat die hoofafrigter, Dan Male­sela, verlede week met spesiale verlof laat gaan is nie.

Dlangalala het hom van Mamelodi Sundowns by dié Oos-Kaapse klub aangesluit.

Malesela se dienste is ná ’n rits teleurstellende vertonings op ys gepak.

Chippa se woordvoerder, Luthando Zibeko, wou egter geen kommentaar lewer op die situasie by die klub nie.

Ál wat Zibeko gesê het, is: “Ek kan nie daaroor praat nie.

“Ál wat ek kan noem, is dat die span gefokus is op die wedstryd teen Ajax.

“Ons wil net ons bes doen. Ons het ’n oorwinning nodig – in dié stadium is dit ál wat belangrik is.”

Dinge lyk tans nie baie goed vir Chippa nie.

En aangesien die relegasiespook in sy midde is, kort hy dringend drie punte.

Chippa is nou reeds tien wedstryde sonder ’n oorwinning. 

Aan die begin van die seisoen was Ajax in ’n soortgelyke penarie.

Dié het hom egter mooi uit die rele­gasie-moeras gewikkel.

In dié spanne se eerste wedstryd het Ajax met 1-0 in die ­Cape Town Stadium gewen.

Chippa voorsien dat die Sisa Dukashe-stadion stampvol sal wees.

“Die kaartjies verkoop flink. Hopelik sal ons dus ’n goeie atmosfeer hê.

“Hopelik sal ’n groot skare ondersteuners die spelers begeester daartoe om die nodige oorwinning te behaal,” het Zibeko gesê.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters