Verlede jaar
Chippa nie honger genoeg – Malesela
BALANSEER: Justice Chabalala (links) probeer op sy voete bly tydens die wedstryd teen Polokwane City in die Nelson Mandelabaai-stadion.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

NÁ CHIPPA United se sewe agtereenvolgende segelose PSL-wedstryde moet hy Kaizer Chiefs Saterdag in die Mbombela-stadion aandurf.

Die Chilli Boys het Dinsdagaand in die Nelson Mandelabaai-stadion met 0-0 teen Polokwane City gelykop gespeel.

Dit kom net dae nadat hulle die einste City met 2-0 in ’n Nedbank Cup-stryd geklop het.

Weens dié gelykop uitslag raak Chippa se kanse om die top-agt te haal nou al hoe skraler. Chippa het met ’n plek na 11de op die punteleer geval en het nou net sewe wedstryde in die liga oor.

Die Chippa-afrigter, Dan Malesela, voel sy spelers was nie honger genoeg in die stryd teen Polokwane nie, maar hy voeg by beserings het ook ’n rol gespeel in die span se swak vertoning.

“Ongelukkig hou ons aan beserings opdoen en dit maak alles moeiliker. Ek het gedink ons begin selfvertroue optel, maar as die spelers beseer word, is hulle af en dit maak ’n impak op die res van die span,” sê hy.

Diamond Thopola, die ­Bafana Bafana-verdediger, is steeds beseer en sal die wedstryd teen Chiefs misloop.

Malesela bevestig ook dat Rhulani Manzini, sy doelskieter, weer beseer is.

Hy het pas teruggekeer van sy tweede besering van die seisoen.

“Ek is nie seker hoe ernstig dit is nie, maar die gevoel is dat hy nie Saterdag sal kan speel nie.

“Dit is regtig ’n slag vir hom én die span,” gesels die afrigter.

Daar is darem ook ’n brokkie goeie nuus vir die Chilli Boys voor Saterdag.

Lerato Manzini, hul ander doelskieter, is weer beskikbaar nadat hy sy skorsing van twee wedstryde uitgedien het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters