Verlede jaar
Chippa het hoop
ongelukkig: Zephania Mbokoma val tydens die Nedbank Cup-stryd met Supersport United. Foto: Theo Jeptha  ~ 

CHIPPA United kon nie Saterdag in die Sisa Dukashe-stadion verder geskiedenis uitkrap vir die klub nie, maar die span lyk goed om relegasie vry te spring.

Chippa se breier, Dan Malesela, se span het ’n goeie vertoning ingesit teen Stuart Baxter se Supersport United. Dít net vier dae ná die Chilli Boys die einste Supersport in ’n Premierliga-wedstryd met 3-0 geklop het.

Dié oorwinning het die Oos-Kaapse span se kanse om oorlewing ’n reuse-hupstoot gegee.

Kenners het agterna Malesela se besluite bevraagteken om met dieselfde span te speel wat SuperSport vroeër geklop het.

Die breier voel daar was geen fout met sy besluit nie.

“Dit is vir die eerste keer in ’n lang tyd dat ek dieselfde span kon kies uit my groep.

“Ek wou die momentum behou het,” sê hy.

Die held van die oorwinning met 3-0, Rhulani Manzini, het steeds op die plaasvervangerbank begin en dit was ook bevraagteken.

“Dit is iets wat ons bespreek het en Manzini was gelukkig met my besluit. Kyk, ons het dieselfde sokker as Woensdag gespeel. Die wedstryd het met 0-0 gelykop geëindig. Ons het met skoppe van die strafmerk verloor.”

Malesela sê dit gee hom hoop vir die laaste wedstryd teen Free State Stars.

“Die manier wat die spelers tans speel en die veggees wat hulle vir die hele 120 minute gehandhaaf het, was besonders.

“Indien ons in ons laaste wedstryd só speel, het ons beslis ’n kans om maksimum punte in te samel.”

Malesela moes agterna ook verduidelik of sy tipe sokker nie die span benadeel nie. “Dit is belangrik om ook die skare te vermaak,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters