Verlede jaar
Chippa dring deur
vat my hand . . . Buyani Sali (6) het die eerste van Chippa United se twee doele teen Polokwane City aangeteken. Foto: gallo images  ~ 

CHIPPA United het sy plek in die kwarteindronde van die gewilde Nedbank Cup-uitklopreeks bespreek.

Dis nadat die Chilli Boyz Polokwane City in die Nelson Mandelabaai-stadion met 2-0 geklop het.

Die middelskakels Buyani Sali en Andile Mbenyane het die doele aangeteken.

Chippa moet egter nou weer fokus op die Premier-sokkerliga (PSL), waarin Polokwane City môreaand in die Nelson Mandelabaai-stadion weer sy teenstander is.

Chippa se enigste ander ­sege in sewe wedstryde was dié in sy vorige Cup-wedstryd oor Witbank Spurs.

Die Chilli Boyz se kaptein, Thamsanqa Sangweni, sê hy is verheug daaroor dat hulle die kwarteindronde van die Cup gehaal het.

Die loting daarvoor word vandag gedoen.

Sangweni het egter gemaan dat sy span hom nou in die PSL sal moet regruk.

Verloor

“City het ons hard laat werk. Dit wys ons net hoe moeilik dit gaan wees om dieselfde uitslag môreaand te behaal,” sê Sangweni.

In die PSL is Polokwane drie plekke bo Chippa, wat ál ses sy PSL-wedstryde tot dusver verloor het.

So, daar is geen twyfel dat die Chilli Boyz dieselfde uitslag sal wil behaal nie.

Al het Polokwane vir City Chippa behoorlik laat sweet, is die Chilli Boyz se afrigter, Dan Malesela, ­tevrede daarmee.

Malesela sê nes die Cup-oorwinning oor Witbank bied dié een die span ’n groot hupstoot.

“Ons het dit nodig gehad. Dis geen geheim nie, maar vandag het dit weer gevoel asof almal saamgewerk het om die uitslag te behaal,” sê Malesela.

“Almal weet nou ons kan dit doen, maar Polokwane City is ’n goeie span. Om dit nóg moeiliker vir ons te maak, sal hulle dalk nou aanpassings doen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters