Verlede jaar
'Beste sege ooit'
seëvierend: SuperSport United het sy afrigter, Stuart Baxter, die perfekte afskeidsgeskenk gegee toe hulle die Nedbank-titel die tweede jaar agtereenvolgens gewen het. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

CLAYTON Daniels beskryf hul maklike sege van 4-1 oor Orlando Pirates in Saterdag se Nedbank Cup-eindstryd as “sy beste sege ooit”.

Twee doele deur Bradley Grobler en een elk deur Jeremy Brockie en Kingston Nkhatha het die Matsatsan­tsa gehelp om die geskiedenisboeke te herskryf toe hulle net te sterk was vir die Seerowers.

Stuart Baxter (afrigter) se span is die eerste in die Premierliga wat die titel twee keer agtereenvolgens gewen het.

Dié sege is ook die geskikte afskeidsgeskenk vir die Skot, wat nou die Bafana Bafana-pos op ’n permanente basis oorneem.

Die voormalige Cape Town City-afrigter, Eric Tinkler, is reeds as Baxter se opvolger aangewys.

“Ons het ons seisoen in ’n goeie een omskep deur met die titel af te sluit,” het Daniels, SuperSport se ervare verdediger, gesê. “Ons het verwag dat Pirates met ’n helse aanslag sou kom aangesien ons hulle vroeër in die seisoen ook ’n loesing (6-1) gegee het.

“Dít het egter nié gebeur nie. Dis omdat ons die coach se instruc­tions to the ‘T’ uitgevoer het.

“Dis vir my ’n baie spesiale geleentheid om deel van die klub se geskiedenis te wees. Dis my beste sege ooit,” het die boorling van Mitchells Plain gesê.

Daniels het ook sy spanmaats aangemoedig om hul goeie peil in Vrydag se CAF-stryd teen Horoya AC voort te sit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters