Verlede jaar
Baxter weer in beheer
stuart baxterFoto: gallo images  ~ 

DIS nou amptelik: Stuart Baxter is die nuwe afrigter van Suid-Afrika se sokkerspan.

Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het gister aangekondig dat hy ’n ooreenkoms met SuperSport United bereik het oor die dienste van dié afrigter.

Baxter sal egter tot die einde van die huidige seisoen by SuperSport aanbly, waarna hy die leisels by Bafana Bafana sal oorneem.

SuperSport het nog vier ligawedstryde, die Nedbank Cup-eindstryd en Confederations Cup-verpligtinge oor voor die einde van die seisoen.

Safa het egter met SuperSport onderhandel sodat dié afrigter met die nasionale span kan voorberei vir die Afrikabeker-kwalifiseringswedstryd in Junie teen Nigerië.

Dié stryd vind die naweek van 9 tot 11 Junie plaas.

Dit is die tweede keer dat Baxter die leisels by die SA span oorneem.

Safa se uitvoerende hoof, Dennis Mumble, het gesê: “Ons voel Baxter het die nodige vaardighede om Bafana Bafana deur die kwalifiseringsreeks vir die Afrikabeker-toernooi, sowel as die Wêreldbeker-toernooi, te kry.”

Baxter het in Januarie 2016 by SuperSport United aangesluit en het verlede seisoen die Nedbank Cup met dié span gewen.

SuperSport sal op 20 Mei weer in die eindstryd van dié uitklopkompetisie speel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters