Verlede jaar
Baxter het plan vir nasionale sokkerspan
stuart baxter Foto: gallo images  ~ 

SUPERSPORT United se oorwinning in die halfeindronde van die Nedbank Cup-uitklopreeks, gaan nie Stuart Baxter (afrigter) se planne met die nasionale sokkerspan omkrap nie.

Dít is die versekering wat Bafana Bafana se nuwe afrigter gegee het nadat sy klubspan Chippa United in die halfeindronde in die Sisa Duka­she-stadion geklop het.

Supersport het Saterdag met 4-2 gewen met skoppe van die strafmerk.

Baxter sal binnekort die leisels van Bafana Bafana oorneem om voor te berei vir die Afrikabeker-kwalifiseringswedstryd teen Nigerië.

Die eindstryd van die Nedbank-reeks vind op 24 Junie in die Moses Mabhida-stadion in Durban plaas.

Baxter sal die leisels by die nasionale span oorneem ná die laaste Premierliga-wedstryd Saterdag.

“Ek gaan definitief terug wees vir die eindstryd. Ek weet nie hoe ek gaan maak nie, maar ek gaan nie die span alleen na die eindstryd toe stuur nie,” het die Skot gesê.

Baxter sê hy het reeds bietjie werk begin doen aan Bafana Bafana se groep. Hy is egter oortuig daarvan dat hy steeds SuperSport United se span gereed sal kan kry vir die eindstryd.

“Ek het reeds begin kyk na die groep vir Bafana Bafana se wedstryd teen Nigerië. Ek lees selfs Nigeriese koerante om die sien wat hulle denke is voor dié wedstryd.”

Hy sê die belangrike ding is om die regte groep te kies vir Bafana Bafana.

“Die volgende twee dae gaan ek my nasionale hoed dra en ek voel dit is uiters belangrik dat ons vir die toekoms die regte spelers na Nigerië neem. Ons wil konsentreer op ons ontwikkeling, maar steeds ’n balans behou.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters