3 maande gelede
Zammie is meer as net spoed

NAZEEM Smith sal altyd onthou word vir sy prestasies as ’n blitsige naelloper op die baan.

Maar “Zammie,” soos hy alombekend is, was ook ’n besonderse rugby- en krieketspeler.

Die 58-jarige het in 2007 na Auckland, Nieu-Seeland, verhuis. Hy en sy familie het sowat vier maande gelede na die Gold Coast in Australië geskuif omdat sy seun Mogammad Ebrahiem (18) daar ’n beurs vir atletiek by die Griffith University gekry het.

Mogammad Ebrahiem word daar deur die voormalige Olimpiese naelloper van Australië Sally Pearson afgerig.

Kranige

Die talent is in die gene en die appel val beslis nie ver van die boom af nie.

Smith se vrou, Lameez (Laveder October), was ook op haar dag ’n kranige atleet wat teen Odessa Krause, die ma van Wayde van Niekerk, die Olimpiese 400 m-kam­pioen en wêreldrekordhouer, gekompeteer het.

Benewens Mogammad Ebrahiem, het Smith se 24-jarige seun, Zubayr (atletiek), en sy 15-jarige dogter, Zayyaan (atletiek en netbal), Nieu-Seeland ook al op internasionale vlak in hul ouderdomsgroep verteenwoordig.

Smith het gister ’n nostalgiese gesprek met Son oor sy besonderse sportloopbaan gehad.

SPOEDVRAAT: Smith in aksie in die kleure van Hewat. Foto: Verskaf

Hy vertel: “Ja, as ’n youngster­ het ons by nr. 6 Dreyerstraat in Claremont gewoon. Dit is waar die ingang van Cavendish Square deesdae is. Ons het daar is die strate van Claremont ons eie resies gehou.

“Ek het teen my ouer broers, suster en vriende gehardloop.

“Ek het daarvan gehou om die mense op die sypaadjies te sidestep. Dit was ook my eerste ervaring van atletiek.

“As vyfjarige het my ouers­ vir my en my tweelingsuster, Nazeema, na die Laerskool Stephen Reagon gestuur.

Gesloop

“Met die Groepsgebiedewet tydens die apartheidsjare, het ek elke dag wanneer ek vanaf die skool teruggekeer het, gesien daar was bulldozers in die pad wat huise gesloop het.

“As ’n jong laitie het ek nie verstaan wat aangaan nie. Ons was van die laaste families wat gedwing was om uit Claremont te trek en het in Manenberg op die Kaapse Vlakte opgeëindig.”

VLYMSKERP. Nazeem Smith en Faiek Davids (links) was ’n gedugte middelveld-kombinasie vir Cities. Foto: Verskaf

Volgens Smith het Nathan Jeneker, ’n onderwyser by die Laerskool Portia in Lansdowne, ’n groot rol in sy lewe gespeel.

“Mnr. Jeneker het my aangemoedig om deel te neem aan atletiek.

“Nes mnr. Jeneker het ek ook aangegaan om ’n onderwyser in liggaamsopvoeding te word.”

By Portia het Smith in die kort naellope presteer en het hy in 1974 sy WP-kleure in atletiek ontvang.

In die hoërskool by Alexander Sinton in Athlone het Smith aanvanklik sokker gespeel.

Hy het egter op skool nie net aan atletiek deelgeneem nie. Hy het ook rugby vir Primrose gespeel en was ’n krieketspeler van formaat.

Terwyl hy in 1980 en 1981 ’n leerder by Sinton was, is hy vir die Suid-Afrikaanse Senior Skolesportvereniging (Sasssa) se krieketspan gekies.

VEELSYDIG. Nazeem wys sy slag met die kolf op die krieketveld. Hy was ook ’n snelbouler. Foto: Verskaf

Toe Smith in 1983 by die Hewat Teacher’s Training College as senior atleet op die baan stap, het hy ’n bespotting gemaak van die 100 m-, 200 m-, 400 m-, 4x100 m en die 4x400 m-aflos-rekords.

Inspireer

Hy het vir Hewat op die rugbyveld uitgedraf en die City and Suburban Rugby Football Union in die Saru-era verteenwoordig.

Smith het ook veral sy pa, Boeta Hiema “Fatty” Smith, uitgesonder vir die rol wat hy in sy loopbaan gespeel het. “Hy het my altyd inspireer om my beste te gee. Hy was ’n afrigter en sportadministrateur.”

Smith beskou dit as een van sy grootste prestasies toe hy die destydse SA rekord van 10.02 sek. in die 100 m opgestel het. “Ek het dit op die gras op Green­point Track reggekry.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters