5 maande gelede
Wolf een van Saru se grotes
Trots: Edgar Siljeur pronk met sy kinders en kleinkinders in sy baadjies.  ~ Verskaf

PRAAT ’n mens met rugbylui van weleer, is hulle dit eens dat daar nie baie groter name in rugby voor eenwording is as dié van Edgar Siljeur is nie.

Die nou 73-jarige Siljeur, bekend as Wolf, het in die sestigs en sewentigs veral naam gemaak as ’n skitterende veelsydige sportman.

Hy het daarna ook as rugbyafrigter en administrateur uitgeblink, maar geniet deesdae die rustigheid van die kusdorpie Witsand, waar hy ná hul aftrede saam met sy vrou woon.

Nostalgie

Son het onlangs met Siljeur oor sy roemryke loopbaan gesels toe hy by Liesl, sy dogter, in Wellington op besoek was.

By ons besoek was Cupido “Kiepie Zulu” Cupido, die legendariese Boland-afrigter en vriend van Wolf, juis by Siljeur besig om met nostalgie te praat oor wat hulle “die goeie dae” noem.

“Ek is in 1947 in Robertson gebore, ’n enigste kind,” skop Siljeur ons gesprek af.

“My pa is oorlede nog voor ek ses was, so ek is deur ’n enkelouer grootgemaak.

“My oom, my ma se broer, het wel na ons omgesien. Hy was die eienaar van ’n kafee in Robertson. Ek het basies in ’n kafee grootgeword.

“Ek was bevoorreg om destyds ná laerskool in Robertson my skool­loopbaan by Ath­lone High in die Kaap te kon voortsit.”

Siljeur erken die aanpassing na stadsjapie was aanvanklik moeilik. Hy vertel: “Athlone High het destyds skoliere van oral gelok, veral die platteland. Ons was byvoorbeeld drie van Robertson wat soontoe is en omdat ons boejongens was, was die Engels aanvanklik volksvreemd. Dit het darem mettertyd beter geword.”

Hy was op hoërskool eers skrumskakel voordat sy afrigter, John Bekkers, hom na agtsteman geskuif het.

“Mnr. Bekkers was nie net destyds my afrigter nie, hy het my ook baie rigting gegee in my persoonlike lewe.

“Ek is ná st. 10 na Hewat-onderwyskollege. Ek het toe al ’n bietjie selfvertroue gehad, want ek was darem al die WP-skole-agtsteman. Snaaks genoeg het ek daar begin losskakel speel en ook as nr. 3- kolwer en aanvangsbouler uitgeblink. Ek was daai tyd nog nat agter die ore wat losskakel betref, maar baie bevoorreg om ’n begaafde binnesenter soos Maurice Heemro aan my buitekant te hê.

“Jy moet ook onthou dis ons vleuels John Speelman en Japie Solomons in die City and Suburban-span wat die Rhodes Cup in Johannesburg gewen het. My groot vriend, die slot Okkie Morkel, was ook in die span. Goeie tye,” dink hy hardop.

Hy het Cities ook daai jare met onderskeiding as losskakel verteenwoordig.

In 1969 is Wolf terug Robertson toe. “Ek het vir Robertson uitgedraf en sommer dadelik die SWD-span gehaal.”

Siljeur het daar op Van Zylstraat (Robertson Town se tuisveld) ’n legende geword en was ’n gevreesde en gerespekteerde agtsteman en kaptein van SWD.

Hy noem ook glimlaggend SWD het in 1971 ’n ster­belaaide WP-span geskok.

“Daai span was gelaai. Die legendariese Salie Fredericks, Cassiem (Kat) Jabaar en Yusuf ‘Tats’ Davids was in die span. Ek het aan die einde ’n deurslaggewende skop van die kantlyn af oorgeskop wat die Kaap sommer ordentlik Hollands gemaak het. Ek het geweet wat hul plan was en ons het eindelik gewys hoe om die magtige Province te klop.”

GLORIE: Wolf was ’n trotse kaptein van Robertson Town. Foto: Verskaf

Teen dié tyd het Siljeur al sy staal as agtsteman, skrumskakel, losskakel en senter getoon. Hy is in 1971 vir die Saru- nasionale span as flank gekies.

Spesiaal

“Sjoe, ek was sommer baie spoggerig toe ek die eerste keer vir Saru gekies is. Ek was regtig trots, want dit was die hoogste wat jy in jou sport kon bereik het.

“Wat dinge nog meer spesiaal gemaak het, is die feit dat SWD daai jaar wragtig vier spelers in die Saru-span gehad het. Saam met my was Ikey Mitchell van Spring Roses wat agtsteman was en agterspelers Tollie Grootboom en Clemmie Strydom. Gewoonlik as SWD een speler in die Saru-span gehad het, was ons baie bly. So, jy kan jou indink hoe oorstelp ons was met vier manne wat die span gehaal het.”

Hy was ná sy uittrede nou by rugby betrokke en het in 1996 ’n uitnodiging aanvaar om Nieu-Seeland te besoek, wat Siljeur as een van die hoogtepunte van sy lewe beskou. Hy sê hoewel hy nou sukkel met sy regterknie, is dit niks in vergelyking met die vreugde wat rugby en krieket (hy’t provinsiaal in krieket verwerf) hom gebring het nie.

Edgar en sy vrou, Sonia, was Woensdag 48 jaar getroud. Hulle het drie dogters en twee kleinkinders.

MAAK VAS! Edgar Siljeur aan die spits van sake vir Cities. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters