Verlede maand
Wayde se ma ewe haastig
NETJIES UITGEVAT: ’n Onlangse foto van Odessa Swarts.  ~ Foto Verskaf

SY IS vandag die trotse mammie van ’n Olimpiese en wêreldkampioen wat ook die vinnigste man nóg oor 400 m is.

Wayde van Niekerk se weg is ongetwyfeld deur sy ma, Odessa Swarts, gebaan.

Odessa, destyds nog Krause, was op haar dag self ’n bobaasatleet. Maar bloot weens apartheid het die wêreld haar nooit geken nie.

Son het Donderdag met die 46-jarige ma van drie gesels oor haar loopbaan en lewe.

Tjommies

Odessa sê sy was maar van kleins af ’n rabbedoe.

“Ek het maar saam die seuns in die buurt rugby en krieket gespeel en saam hulle op dakke en bome geklim.

“Ek het nie saam die meisies gespeel nie, want hulle was boelies. Hulle het my altyd laat voel asof ek nie infit nie en nie goed genoeg is nie. So, die seuns was maar my tjommies.”

Swarts sê sy probeer nou help dat meisies nie dieselfde ervaring deurgaan nie.

“Ek rig deesdae laerskoolmeisies af en ek probeer hulle leer om op te staan vir hulself, maar ook om nie ’n boelie te wees nie. Daar was destyds niemand wat dit vir my geleer het nie.”

Maar die jong Odessa se “wraak” was soet.

Sy vertel: “Omdat die seuns atletiek gedoen het, het ek ook. Dit was vir my lekker, want ek het besef dieselfde meisies wat my ’n ‘misgewas’ genoem het, het ek geklop in die atletiek.

“Dit het my altyd laat goed voel, want hoewel hulle my soos ’n niks laat voel het, kon hulle my nie klop nie. Dis dalk ook waar die passie vir atletiek begin het.”

As tiener het die rabbedoe ook probleme gehad.

“Toe ek so 14 was, het ek deur ’n baie dramatiese tyd gegaan,” verduidelik sy.

“Ek het ’n vriendin, Merchia, gehad wat baie outspoken was terwyl ek meer die skaam tipe was, juis omdat ek so ’n lae selfbeeld gehad het. Sy het altyd my battles gefight, my geïnspireer en gemotiveer.

“Sy sou sê: ‘Jissie, jy’s só goed in atletiek. Komaan, keep going, keep going.’ Op laerskool het ek altyd derde of vierde gekom, maar toe ek vir Merchia ontmoet, het sy my lewe kom verander, die groter prentjie laat sien en meer selfvertroue gegee.”

Potensiaal

Dit was in hierdie tydperk dat Odessa die derde en vierde plekke in eerstes verander het.

“Toe ek so 16 was, het ons Kraaifontein toe getrek en daar het ek ’n onderwyser, Cliffie Booysen, gehad wat my potensiaal gesien het. Hy het my spoed gesien toe ek saam die seuns touch rugby gespeel het.

“My ma was ’n enkelouer en al kon sy nooit bekostig om te koop wat ons altyd nodig gehad het nie, het ons ook nooit tekort gehad nie.

“Booysen het toe ’n soort vaderfiguur vir my geword en baie in my invest, spikes en tracksuits gekoop, want hy wou my na die next level vat.”

GESINSVROU: Odessa Swarts en haar familie pronk saam buite. Foto: Verskaf

Odessa sê in die 1980’s het sy nooit daarvan gedroom om internasionaal deel te neem nie.

“Dit was altyd lekker om my tye met wit atlete s’n te compare aangesien hul byeenkomste altyd op TV was. Ek sou dan my tye vat en sê: ‘Ek sou eerste of tweede in daai race gekom het.’

“Ek het nooit gedroom van die Olimpiese Spele nie, want ons het geweet daai geleenthede was ons nie beskore nie. Maar dit was vir my ’n baie groot ding toe ek die SAAB- en Sassa-span haal. Ek het geweet ek kon nie op die world stage perform nie, maar ek het wel my SA klere en dit was vir my ’n helse ding.”

Odessa het verskeie rekords in haar loopbaan gebreek voordat sy in 1992 Wayde se ma geword het.

Sy praat passievol oor haar superster-seun.

“Ek was nooit beskore om great­ te wees nie, maar ek was beskore om die ma van iemand te wees wat great­ is. Ons in Suid-Afrika besef nie regtig wat ons in Wayde het nie.

“Hy is ’n lewende legende en enig in sy soort.”

Sy sluit ons gesprek af: “Wayde is gesond en honger. Hy hardloop goeie tye in oefeninge. Die Olimpiese Spele volgende jaar gaan iets wees om na uit te sien.”

OOGLOPENDE OOREENKOMSTE: Odessa en Wayde op die atletiekbaan. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters