26 dae gelede
Vuurvreter Dale het die pap dik aangemaak
TROTS: Dale Santon spog met sy Springbok-baadjie.  ~ Adnaan Mohamed

TOE Dale Santon die eerste keer aan ’n rugbybal raak, het hy die venster by sy huis stukkend geskop.

Sy ma was nie baie happy nie, maar sy sou nooit kon glo watter ongelooflike impak die spel van rugby voort­aan op haar seun se lewe sou maak nie.

Santon was later die eerste speler wat in die Saru-era voor eenwording gespeel het en daarna onder die nuwe bedeling ’n Springbok geword het.

Die vurige haker het ’n reputasie opgebou vir sy meedoënlose inklimspel.

Hy vertel: “Ons het Mitchells Plain toe getrek waar ek by my ouma grootgeword het. Ek onthou skolesport was destyds goed georganise.

“Op laerskool het ek ál die sport gespeel, soos krieket, rugby en sokker. Ek het eers serious geraak oor rugby op hoërskool en het die WP-skolespan gehaal.

“Hulle het jou destyds ’n toksak, ’n tracksuit en ’n badge gegee. Jou ouers moes jou eie blazer, vaal broek en hemp koop.”

Toe Santon sy ouma meedeel dat hy die volgende week Pacaltsdorp in George toe moet reis om die WP-span te verteenwoordig, is hy vrot uitgeskel.

“Sy het gesê: ‘Waar moet ons nou geld kry om ’n blazer te koop, want daar is nie genoeg tyd vir lay-by nie?’

“Vandag sal mense alles gee om hul kinders in ’n WP-span te kry. Ek is uitgeskel omdat ek WP-kleure verwerf het, want daar was nie geld nie.

Besluit

“Gelukkig was ek by ’n goeie skool soos Spine Road.

“Hulle het besluit om dit vir my te koop, want ek was die eerste leerder by die skool wat die WP-span gehaal het. Daar het alles vir my begin.”

DIE MANNE: Dale Santon pose saam met sy Bok-spanmaats wat Suid-Afrika in 2003 by die World Cup verteenwoordig het. Foto: Verskaf

Santon het sy junior rugby vir Westridge Rugbyklub op City Park in Athlone gespeel.

Toe hy die skool verlaat, het hy hom aangesluit by Kalk Bay Marines, wat op Green Point Track in die WP Rugbyunie gespeel het.

“Ek is gekies om vir die WP-senior span te speel. Dit was ’n groot eer, want ek wou altyd vir WP speel. Dit was die beste unie met die tafste ouens.

“Daar was ook uitstekende afrigters soos Salie Fredericks en Dickie Sieed wat die game rêrig geken het. Ek kon altyd die vrees van die ander unies in hul gesigte sien wanneer ons teen hulle te staan gekom het.

“Ek het saam met geharde, seasoned campaigners soos die Toefy-boers, Aslam en Nazeem, en Riyaad Najaar gespeel.

“Ek onthou toe ons vir Tygerberg in 1989 in die Athlone Stadium klop om die SA Cup te wen. Ek was die jongste in die span. Dit was ongelooflik om dit as 18-jarige youngster te ervaar.”

Volgens Santon was die lekkerste van Saru-rugby dat jy die Saterdag vir jou unie kon speel en dan die Sondag jou spanmaats vir jou klub kon aandurf.

“Dit was oorlog op die veld, maar Maandag in die oefening is ons almal weer vriende,” onthou hy.

LEGENDES: Die legendariese All Black makro-vleuel, Jonah Lomu, en Dale Santon in Mitchells Plain Foto: Mark Ward

Santon sê met eenwording het hy die geleentheid gekry om met die manne te speel wat hy altyd op TV gesien het. Omdat hy nog jonk was, het hy geweet dat hy dit kon maak. Hy moes net harder oefen.

“Baie mense het vir my gesê dit gaan moeilik wees om as ’n haker die Springbok-span te haal.

“Dit was vir my net hartseer vir die manne wat dit nie in die nuwe bedeling kon maak nie omdat die tyd hulle ingehaal het.

“Daar was manne met wie ek in Springbok-spanne gespeel het wat nie helfte die talent gehad het van die destydse Saru-spelers nie.

“In elke oorlog is daar casualties. Hulle was casualties van die apartheid-era.

“Hulle het gesacrifice deur offers van die hand te wys. Ons motto was ‘no normal sport in an abnormal society’. Daai manne het by hul beginsels gehou.

“Ek haal my hoed af vir hulle. In die 1980’s en die 1990’s het ’n swart of bruin speler ’n beter kans gestaan om pregnant te raak as om vir die Bokke te speel. Ná 1992 was daar egter nie meer verskonings nie.”

In die nuwe era het Santon hom by die Valsbaai-rugbyklub aangesluit waar Nick Mallett die afrigter was.

Eer

Die WP het hom ’n baie groter aanbod gemaak om in die Kaap te bly, maar hy het besluit om vir die helfte minder eerder saam met Mallett Boland toe te gaan.

“WP se budget was 10 maal groter as Boland s’n. Ek moes elke dag Wellington toe ry.

“Ná sewe jaar by Boland het ek 120 wedstryde vir hulle gespeel. Toe Mallett Bok-afrigter word, toe kies hy my vir die Bokke.

“Ek was ook die emerging Springbok-kaptein teen die Britse en Ierse Leeus. Dit was ’n groot eer vir my. In dieselfde jaar het ek met die Bokke in Europa gaan toer.”

Ná dit het Santon ’n kontrak vir vier jaar by die Blou Bulle gesluit.

“Dit was my beste jare. Ons het altyd gedink die mense van Pretoria is verkramp, maar hulle worry nie wie jy is en waarvandaan jy kom nie. Hulle is rugbymal.

“In 2003 het ek op die ouderdom van 34 die Tri-Nations en die World Cup squad gehaal. Dit was vir my ’n groot mylpaal in my loopbaan. Ek het daarna besluit om te retire.”

VUUR EN VLAM: Dale Santon was altyd bekend vir sy inklimspel. Foto: Gallo Images
KLIPHARD: Dale Santon het gebloei vir die Blou Bulle. Foto: Gallo Images
KLIPHARD: Santon het bloed gesweet vir die Bulls. Foto: Gallo Images

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters