27 dae gelede
Van Macassar tot Athene ...

BELY, bely en laat staan! Pillay, Pillay, sy gaan wen!

Dié woorde van die bekende liedjie het destyds vir Geraldine Pillay Viret in haar skooldae tot nuwe hoogtes aangespoor.

Die Olimpiese naelloper van Macassar het vandeesweek met Son in ’n openhartige gesprek oor haar ongeloof­like atletiekloopbaan gesels.

Pillay, wat Dinsdag haar 43ste verjaardag gevier het, sê dit het alles vir haar as sesjarige in haar sub A-jaar by die Laerskool Raithby se interhuis-byeenkoms begin.

Hoewel sy nie haar eerste wedloop gewen het nie, het die atletiekgogga vir haar op daai baie jong ouderdom gebyt.

Sy vertel: “My ouers was daar en die crowd het mal gegaan. In sub B het ons Macassar toe getrek waar my ma-hulle my by die Laerskool Oklahoma­straat ingeskryf het.

“Daar was ’n gestruktureerde program met dedicated onderwysers wat aangestel is om jou PT-klasse te gee. Die hoof van die skool het ook ’n baie groot passie vir sport gehad, veral vir atletiek.

“By die Hoërskool Zandvliet was daar net sulke passievolle onnies.

“Ek onthou ons het ’n onder­wyser, mnr. Langeveld, gehad wat vir ons gesê het ons moet op die rugbyveld 10 keer van die een rugbypaal na die ander een hardloop. Daai was ons training.

“Niks was specialised nie, maar die toewyding van die onderwysers was next level. Dis wat my gemotiveer het om altyd my bes te doen.

“Aan die begin van die jaar moes ons van die skool tot by Macassar se beach hardloop. Dit was deel van ons conditioning. Die gees wat daar destyds was, was ongelooflik, veral as dit kom by die interskool-byeenkomste.

Koortjie

“My skool het ’n spesiale liedjie vir my by die interskole gehad. As ek by die start van die 100 m gestaan het, het hulle gesing: ‘Hier kom onse WP.’

“Dit is toe hoe die koortjie van die skool ook begin sing het: ‘Pillay, Pillay, sy gaan wen.’

“Die oorspronklike woorde was eintlik van ’n ou kerkliedjie: ‘Bely, bely en laat staan.’

“Obviously het ons skoolkinders dit gechange na ‘Pillay, Pillay sy gaan wen!’

“Dis almal dinge wat bygedra het dat ek harder begin oefen het.

“Die hele skool en gemeenskap was daar om my te ondersteun. Dit was ongelooflike tye.

“Die Champs of Champs was altyd sold out soos ’n rugbywedstryd op ’n vol Loftus Vers­feld. Dit was net heeltemal ’n ander tipe vibe. Ek dink dis waarom ons atlete daai tyd so goed gevaar het.”

Die spesialis in die 100 m en 200 m het egter nooit gedink sy gaan ná skool atletiek doen nie.

Ná matriek het sy besluit om te gaan studeer sodat sy ’n “regte werk” kon kry.

“Ek het atletiek nie as ’n werk beskou nie. Mnr. Langeveld het altyd gesê ek kan nog eendag die vinnigste vrou in Suid-Afrika word en met atletiek wêreldwyd reis. Hy’t regtig my mind vir dit oopgemaak.

“Aan die begin het ek gedink dit is far-fetched.

“Ek sou nooit kon dink dat ek op TV en oorsee sou hardloop nie. Ek het gedink dit was iets wat net wit atlete beskore was. Dit was nie iets wat ons as gekleurde atlete van die agtergeblewe gemeenskappe aan gedink het nie.

“Ons kon destyds net op gras by Athlone Stadium en Vygieskraal hardloop.”

Aangesluit

Dit was dus nooit ’n droom wat Pillay nagestreef het nie.

In 1995 het sy die eerste keer in Groenpunt op ’n tartan-baan gehardloop teen atlete van die Hoërskool DF Malan, Hottentots-Holland en Strand.

“My onderwysers het gesê wanneer die playing field level gaan wees, sal ek ook goed doen.

“Die onderwysers het my geïnspireer en gesê dat ek dit kan doen as ek blootgestel word aan dieselfde resources. Ek het nie eens geweet daar is atletiekklubs nie.

“Dit was my journey as ’n jong atleet. Eventually het ek besluit dat ek dit ernstig wil opneem en het my toe by UWK-atletiekklub aangesluit.

“By die UWK het hulle in die 1990’s elke Woensdag ’n program met die naam Discover a Star gehad. Kinders van regoor die Wes-Kaap kon deelneem.

“As jy wen, het jy R50 in ’n klein koevertjie gekry. Dit was ’n nice outing vir elke Woensdag om uit Macassar uit Bellville in ’n bus te ry met die vooruitsig dat jy dalk ’n R50 gaan wen.

“Dis in daai reeks dat naellopers soos Odessa (Swarts, die ma van Wayde van Niekerk, wêreldrekordhouer in die 400 m) deurgekom het. Dit is hoe ons blootstelling gekry het.

“Daar was nie wegspringblokke en spykerskoene nie. Jy moes maar kaalvoet hardloop.”

GESINSTYD: Geraldine ontspan met haar seun, Diego, en haar man, Dimitri Viret. Foto: Verskaf

Pillay sê dit was alles deel van haar ontwikkeling as atleet en het haar gehelp toe sy in 2004 die Reënboognasie op die Olimpiese Spele in Athene, Griekeland, verteenwoordig het.

In 2000 het Pillay as junior rekenaarprogrammeerder by Naspers in die Kaap gewerk. Sy was per trein van Macassar op pad werk toe. Die mense op die trein het oor die Spele gepraat.

Verhuis

Net daar het sy besluit om haar werk te bedank en ál haar aandag daarop toe te spits om haar land by die Spele te verteenwoordig.

Sy het in 2001 as 23-jarige in Boston, Amerika, as au pair gaan werk waar sy ook waardevolle ervaring by die plaaslike atletiekklub opgedoen het.

Toe sy in 2002 terugkeer, het sy na Pretoria verhuis.

In 2003 wen sy haar eerste goue medalje op die SA Nasionale Atletiekbyeenkoms. Sy het toe haar land by die World Champs in Parys, Frankryk, verteenwoordig.

In 2004 het sy goud in die 200 m by die Afrika-byeenkoms in Brazzaville in die Kongo gewen. Dis tóé dat sy gehoor het sy’t vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer.

Oor haar ervaring by die Spele sê sy: “Dit was surreal! Die atmosfeer in die Olympic Village was ongelooflik – met atlete van 250 lande in die wêreld.

“Dit was die pinnacle van my loopbaan, want dit is elke atleet se droom om na die Spele toe te gaan. Athene was ’n amazing er­varing, want dit is waar die Spele oorspronklik plaasgevind het.

“Ja, almal wil goud wen, maar ek glo die belangrikste vir my was net om deel te neem, sowel as die onvergeetlike memories en vriendskappe wat gebou is.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters