11 dae gelede
Van Elim tot in Bradford
Dave Barends  ~ Verskaf

DAVID “Dave” Barends is die eerste speler van nie-Britse oorsprong wat die Britse Leeus in die rugbyliga verteenwoordig het.

Die boorling van die dorpie Elim dorpie naby Kaap Agulhas in die Overberg-streek in die Wes-Kaap, woon steeds in Engeland.

Barends was een van net ’n klein groepie swart Suid-Afrikaners wat in Brittanje in die professionele rugbyliga gespeel het.

As ’n laitie was die Morawiese Kerk in Elim die middelpunt van Barends se gemeenskapslewe.

Elim is ’n tradisionele rugbydorp. Die plaaslike klub Rock Roses was lid van die Bolandse rugbygemeenskap.

Genooi

Aan die begin van die 20ste eeu het die plaaslike klubs, waaronder Caledon Pirates en Progress van die buurdorp Genadendal, onder die vaandel van die Caledon Rugby Union gespeel.

Dit is gevolg deur die Southern Rugby Union, ’n filiaal van die destydse South African Coloured Rugby Football Board.

Barends het op laerskool rugby leer speel en by die nabygeleë Hoërskool Emil Weder in Genadendal sy vaardighede verder verfyn.

Dit was een van die min swart hoërskole in die destydse landelike Wes-Kaap.

Ná Barends se skoolloopbaan het hy na Kaapstad verhuis en hom aangesluit by Progress, wat in die City and Suburban Rugby-unie gespeel het.

Barends het Cities in ’n interprovinsiale kompetisie as ’n vleuel verteenwoordig.

Hierna het hy vir Roslyns in die Westelike Provinsie-rugbyunie uitgedraf.

Hy het gevorder en die Streeptruie in die Rhodes Cup verteenwoordig.

Op 24 Augustus 1970 het Barends sy buiging vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie-span gemaak –teen die swart Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalraad se span.

Swart spelers is destyds weens apartheid verbied om vir die wit Springbokspan te speel.

HANDS OFF: Barends stamp een van sy teenstanders weg in ’n rugbyliga-game in Engeland. Foto: Bradford Bulls Heritage Project

Barends se debuut-toets het saamgeval met die toer van die All Blacks in 1970. Dit was die eerste keer dat Maori’s toegelaat is om vir die All Blacks in Suid-Afrika te speel.

Dié game, wat op die Green Point Track in Kaapstad plaasgevind het, is gereël om die gehalte van swart rugby aan die Nieu-Seelandse besoekers ten toon te stel.

Daarbenewens is beplan om die All Blacks voor die wedstryd aan die spelers voor te stel.

Wyle dr. Danie Craven en die Springbokke van die SA Rugbyraad is ook genooi om hierdie wedstryd by te woon.

Om hierdie proses te vergemaklik, het die departement van gemeenskapsontwikkeling toestemming gegee dat wit Suid-Afrikaners die wedstryd kon bywoon.

Beroepsrugby

Kaartjies vir die kragmeting was vir wittes te koop by die Logans Sports-winkel in Kaapstad en by die Green Point Track vir bruin en swart mense.

NZ Herald het berig Ron Burk, destydse All Black-bestuurder, het die uitnodiging laat ontvang en nooit vir die game opgedaag nie.

Die Saru-span het die kragmeting met 17-6 gewen. In daai game het Barends twee drieë gedruk.

DRIEËVRAAT: Barends druk op skouspelagtige wyse ’n drie. Foto: Bradford Bulls Heritage Project

Barends het in Desember 1970 besluit om Suid-Afrika te verlaat om in Engeland beroepsrugby te gaan speel.

Danksy gesamentlike pogings van Ivor Dorrington en die Leeds-rugbyligaklub se sportpromotor, Jim Windsor, het Barends hom by Wakefield Trinity aangesluit teen ’n aanmeldfooi van £1 000 (destyds sowat R1 500).

Barends het in sy debuut-game twee drieë gedruk. Dít het sy plek in die reeks verseker. Hy het hom in die span gevestig en drie seisoene daar deurgebring.

Hy is daarna by York RLFC gekontrakteer. Ná nog vier produktiewe jare het Bradford Northern hom in 1977 gesign.

In dié tyd het hy 202 eersterangse verskynings gemaak en 70 drieë gedruk en homself as ’n ikoon in die rugbyliga gevestig.

In 1979, nadat Barends die vereiste verblyftydperk voltooi het, is sy voortreflike spel beloon toe hy gekies is om Groot-Brittanje in die reeks teen Australië te verteenwoordig.

En só het Barends die eerste speler geword wat nie van Britse oorsprong was nie en vir die Britse Leeus uitgedraf het. Hy het 16 keer vir die Leeus gespeel. Dit sluit die eerste twee toetse teen Australië in.

DRIEËVRAAT: Dave druk een van sy talle drieë. Foto: Bradford Bulls Heritage Project

Die kragtige vleuel het in die Britse trui altesaam 10 drieë aangeteken.

Hoewel die Leeus buite die toetswedstryde suksesvol was, het Australië die reeks met 3-0 gewen.

David se debuut was in ’n nederlaag van 35-0 in die eerste toets in Brisbane.

Hy het ook in Sydney in die tweede toets gespeel. Groot-Brittanje het dié met 24–16 verloor.

Bron: Tries and Conversions, Peter Lush en Hendrik Snyders.

SPANWERK: Barends saam met sy Engelse spanmaats. Foto: Bradford Bulls Heritage Project

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters