9 dae gelede
Toetie méér as slegs 'n Bok-breier
XX
GOEIE BREIER: Allister Coetzee was tot onlangs nog die afrigter van die Canon Eagles in Japan.  ~ Foto Verskaf

ALLISTER Coetzee is vir die gemiddelde rugbyondersteuner ’n voormalige afrigter van die Springbokke.

Toetie, soos hy in die rugbywêreld bekendstaan, was egter een van die beste skrumskakels uit die Sacos-era. Hy het in die 80’s waarskynlik nie sy gelyke gehad nie en later die Saru-span aangevoer.

Son het verlede week oor koffie met hom in ’n Kaapse voorstad oor sy roemryke loopbaan gesels.

“Sport was maar altyd in die Coetzees van Grahamstad se bloed,” het die 57-jarige Coetzee gesê. “My pa was ’n baie goeie sportman en het uitgeblink in krieket, rugby en tennis. My ma was ook ’n goeie tennisspeelster en albei van hulle was onderwysers.

“Ek, my twee broers en my suster sou ook later almal onderwys swot en skool gee. My pa het baie stabiliteit aan ons gesin gebring.

“Hy het die voorbeeld gestel, was die stem in ons huis en was ’n uitstekende kompas om vir ons almal rigting te gee in die huis.

“Ons het ongelukkig my pa aan die dood afgestaan – hy het in ’n motorongeluk omgekom toe ek in st. 3 (1973) was – maar hy het toe reeds ’n goeie fondasie vir ons gelê.

“Hy was bekend in die gemeenskap as ‘Coetie’ en was ’n gerespekteerde onnie.

“My pa het uitgeblink in krieket. Hy was ook ’n skrumskakel en losskakel en ek was maar altyd saam hom op een of ander sportveld.”

Coetzee sê hy was maar altyd sportmal. “Ek en my broer sou baie one-on-one sport teen mekaar speel en ons was uiters kompeterend.

“Ons speel deesdae teen mekaar gholf en dan kom dit weer sterk na vore. Ons het saam teen mekaar in die sitkamer op ons knieë rugby gespeel tot laat in die nag. Ons het sommer ’n eetkamer- of kombuistafel in ’n tafeltennisblad omskep. Ons sou dan boeke vat en dit sou ons net wees en dit het natuurlik baie gehelp met die hand-oog-koördinasie,” vertel Coetzee met die heimwee wat duidelik sigbaar is op sy gesig.

XX
TOENTERTYD: Coetzee was bekend vir sy duikaangeë. Foto: Verskaf

Nou wanneer het hy besef hy kan rugby speel?

“Ek was seker in st. 2 en wou maar altyd soos my pa nommer 9 of 10 speel. Ek onthou die een onnie het eendag vir my gevra: ‘Speel jy agter die oond?’ Toe sê ek: ‘Nee, Meneer, ek speel scrumhalf,’ ” sê hy terwyl hy lekker lag.

Verwerf

“Toe ek op hoërskool by Mary Waters kom, is ek gekies vir die o. 14 B-span vir die eerste wedstryd omdat hulle my toe nog nie gesien speel het nie. Ek is daarna vir die o. 14 A’s gekies en is sommer onmiddellik ná my tweede wedstryd vir die skool se eerste span gekies.”

Hy vertel voorts: “Ek het in 1978, toe ek in st. 8 was, die eerste keer provinsiale kleure verwerf.

“Die volgende jaar het ek skelm my toks by die venster uitgesmokkel en dan in die township vir Old Collegians gespeel. Dit was nogal ’n ding, want diegene wat geweet het, het altyd gesê: ‘Jou pa draai in sy graf om as hy weet jy speel nie vir Swallows nie.’ My ma het darem nie uitgevind nie.

“Ek het ook in daai tyd vir Sedru gespeel. Dit was baie lekker dae.”

allister coetzee
EENWORDING: Coetzee in 1993 in aksie teen die Engelse toerspan. Foto: Verskaf

Ná Grahamstad is Coetzee na Dower College in Port Elizabeth om hom as onderwyser te bekwaam.

“In 1982 is ek vir die eerste keer vir die OP SA Cup gekies, maar eers nadat ek en China Bell saam vir die B-span gespeel het. Ek het ook hier by Wallabies aangesluit en ons was baie suksesvol. Jy kan maar die manne hier in die Kaap en veral die manne van Pniël Villagers vra wat ons met hulle op City Park gemaak het.

“Ons het die klubkam­pioenskappe gedomineer en ek het van my beste ver­tonings hier gelewer.”

Skugter

Coetzee was volgens sy tydgenote een van die beste skrumskakels uit die Sacos-geledere. Hy was bekend vir aangeë wat baie akkuraat was. Hy het glo ook die reverse-aangeë vervolmaak en was lief vir duikaangeë.

Coetzee is egter skugter om homself lof toe te swaai.

“Rugby in daai era was baie goed – daar was baie goeie spelers in elke span en die mense het dit só baie geniet. Ek onthou as OP byvoorbeeld teen Kwaru op die Adcock (stadion) gespeel het, sit die mense op die Livingstone-hospitaal se dakke en kyk. Ons het week ná week vól velde gehad, sonder bemarking, sonder selfone en ál die foefies van vandag. Dit was eenvoudig wonderlike dae.

“Ons het hard gespeel destyds en mekaar opgekeil, maar vandag kan ons blad skud en lekker terugkyk op daai goue era van ons rugbygeskiedenis.”

allister coetzee
GROEN-EN-GOUD: Die Saru-span in 1991 met Coetzee as kaptein. Foto: Verskaf

Coetzee het die OP met onderskeiding verteenwoordig tot en met sy uittrede in 1996. Hy het ná eenwording die Oostelike Provinsie in die Curriebeker en Super-10 verteenwoordig. Hy het ook die Saru nasionale span van 1986 tot 1991 verteenwoordig en was die laaste kaptein van Saru. Coetzee het ook provinsiale kleure in krieket verwerf.

Hy was tot met die uitbreking van die Covid-19-pandemie die afrigter van die Canon Eagles in Japan.

Kritikus

Deesdae is hy egter terug in die land en spandeer soveel moontlik tyd saam met sy kleinkinders. Hy geniet ook ’n potjie gholf.

Coetzee is reeds 30 jaar  met sy vrou, Dianne, getroud. Hy beskou haar as sy grootste ondersteuner en kritikus. Hulle het twee dogters, Mariscka (25) en Melissa (28), en twee kleinkinders, Marissa en Max.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters