5 maande gelede
Tobias jag nog rekords
tobias
Tobias Philander  ~ Foto Verskaf

IN DIE 1980’s was die naam van Tobias Philander van Elsiesrivier op almal se lippe vir sy sportprestasies in padwedlope, landlope en baan- en veldnommers.

En tot vandag toe ken dié legendariese Kaapse atleet geen einde aan hardloop en rekords probeer opstel nie.

Philander (57) is steeds oor die wêreld heen in aksie om hakskene vir ander atlete te wys.

Hy hou tans die Suid-Afrikaanse rekord in die 1 500 m vir M50 (mansatlete tussen 50 en 55 jaar). Hy het in 2018 die ou SA rekord met meer as 5 sekondes van 04:29,13 na 04:23,75 verbeter.

Sedertdien het Philander opgeskuif na die M55-klas waar hy ook al die WP rekord in die 800 m (02:12,72) sy eie gemaak het. Dit was die tweede keer dat hy dié rekord verbeter het, met sy vorige tyd – ook by ’n Meesters – wat 02:15,97 was.

’n Ander rekord wat agter dié veteraan-langasem se naam pronk, is die 3 000 m-wedloop (11:17,90).

Philander het oor die afgelope vyf jaar (voor die pandemie) aan verskeie Meesters-kampioenskapsbyeenkomste deelgeneem en hy en John September, sy groot rival sedert 1981, is steeds in kompetisie.

“Ek het glad nie my SA roots vergeet nie en was derde in die Twee Oseane-halfmarathon in April 2019. In September 2019 was ek vierde op die SA Landloopkampioenskapsbyeenkoms en op 6, 7 en 8 Desember daai jaar in Barbados was ek eerste in die myl en 10 km en tweede in die 21,1 km.

“Soos ek genoem het, is John plaaslik my grootste teenstander en oorsee moet ek die Kanadese en Spanjaarde probeer kafdraf,” gesels hy.

“Omdat my loopbaan oor soveel jare strek, het my rivals gekom en gegaan, maar ek kan net nie van my kompetisie met John ontslae raak nie. Die ander wat lank gebly het om ons albei ore aan te sit, was Moos Hartnick, Donovan Wright, Martin Saayman, Johan Landsman en Daniel Johnson. Dis nog net John en Donovan wat hardloop.”

Philander onthou ook ’n komiese oomblik van sy rivalry met sy grootste mededinger, September.

“Dit was in ’n landloopwedloop vir seuns o. 19 in Zeekoevlei,” vertel Philander. “Ál die groot name, soos vroeër genoem, was daar.

“Ek en die Elsiesrivier-manne was natuurlik die gunstelinge om die landloop te wen en John moes toe die Elsies-pak opbreek en my uitstof.

Momentum

“Deel van die wedloop was op ’n nou paadjie tussen bosse deur, met takke wat plek-plek oor die paadjie hang. Toe ons die paadjie en die bosse nader, het almal geskarrel om eerste by die paadjie te kom, want jy moes dan agter die voorste ou draf.

“Ek was natuurlik eerste daar met John agter my en eers het ek onder die takke gebuk, maar besef ek verloor momentum. By die volgende tak het ek dit vorentoe gestoot en laat los.

“Die tak het John in die gesig getref. Hy het dit nie verwag nie en een harde skree gegee. Daar het nie ’n blaar op daai tak oorgebly nie.

“Agterna het die ouens gelê soos hulle lag toe hulle nou van die petalje gehoor het.

“Onthou, in ’n wedloop het jy nie maats nie, maar agterna was ons almal buddies. Selfs vandag nog,” sê Philander.

“Ek het ook ’n komiese oomblik in 2015 in Lyon beleef toe ek oor die laaste watersprong in die 3 000-hindernis geval en met ’n split second op die bronsmedalje uitgemis het.”

Vir Philander is dit steeds ’n groot hartseer dat sy rekordtye en dié van ander bruin en swart atlete in die dae van apartheid nie erkenning in die nuwe Suid-Afrika gekry het nie.

“Onder Sacos het ek die rekords in die 1 500, 3 000 en 3 000-hindernis gehou. Ná samesmelting is daar nooit weer na dié rekords gekyk nie – die ou apartheid-sportliggaam se rekords is gebruik en ek dink dit was ’n groot fout van ons Sacos-leiers om nie te veg vir die erkenning van ons rekords nie.

“Volgens my moes alle rekords geskrap word en daar van vooraf begin word,” meen Philander.

Die gekwalifiseerde boilermaker en onderwyser is nie net aktief as veteraan­atleet by sy sport betrokke nie. Hy is ook lid van administrasie as die nuwe voorsitter van WP Atletiek se komitee. Dan hou hy ook sy lyf afrigter by die Hoërskool Leiden, in Delft, waar hy ’n wiskundeonderwyser is.

“As ek vandag se atletiek met in my dae vergelyk, het dit baie groter geraak, maar die omstandighede waaronder atlete uit ons klubs, skole en gemeenskappe moet deelneem, het nog nie verander nie.” vertel hy.

“Baie van hulle het nie genoeg of glad nie geriewe nie en hul geldelike omstandighede maak dit steeds vir hulle onmoontlik om by wedlope of oefeninge uit te kom.

“Die meeste ouers het ook nog nooit hul kinders in aksie gesien nie, want hulle werk lang ure.

“Ek wil graag probeer om dié situasie te verander. In Desember 2019 het ek twee van my juniors, Carlo Flink en Curtis Booysen, op ’n eerste oorsese reis geneem om in Barbados te gaan deelneem. Carlo was vierde algeheel en die eerste junior in die myl, tweede algeheel en die eerste junior in die 10 km en 21,1 km. Curtis was die tweede junior in die myl, 10 km en 21,1 km. Ek wil aan die jeug van Delft bewys dat als moontlik is. Jy moet net bereid wees om hard genoeg daarvoor te werk.”

Philander is nou al vier jaar met sy vrou, Aleida, getroud. Dit is sy tweede huwelik nadat hy 10 jaar gelede geskei is.

Droom

“Sy (Aleida) en my dogter Emmarenthia word ook deur my afgerig. Ek het vyf dogters. Ja, ek was baie besig ...” skerts hy.

“Hulle presteer in hokkie en karate.”

Philander sê sy droom is om die SA rekord in die 1 500 m in die M55-klas te verbeter voordat hy uittree.

“Ek is oorgehaal daarvoor. Ek wens net atletiek kan nou weer ordentlik aan die gang kom. Ek het gewig aangesit en my vrou het haar voet neergesit en ek het Desember weer begin oefen en weeg nou 75,9 kg nadat ek 86 kg geweeg het.”

Hoogtepunte van Philander se loopbaan as jong atleet, sê hy, is sy eerste deelname aan die SA Kampioenskapsbyeenkoms in Durban.

Verjaardag

“Die 1992 Olimpiese Spele in Barcelona sal ook altyd spesiaal wees, want dis waar ek my kans op internasionale deelname en die groot verhoog gekry het.

“Daarna sal ál my jare as meestersatleet uitstaan, want ek het van 35-jarige ouderdom begin deelneem. Ek neem al vanaf my 41ste verjaardag gereeld vir Suid-Afrika aan die Wêreld-Meestersbyeenkomste deel.”

Sy mees onvergeetlike baan is Vygieskraal.

“Op Vygieskraal het ek in 1981 aan my eerste baanwedloop as junior deelgeneem. Daarna het ek aan my eerste WP- en SA kampioenskapsbyeenkomste deelgeneem én my eerste WP- en SA rekords opgestel.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters