2 maande gelede
Tiny bly ’n rugbyreus in Raithby
tiny
John ‘Tiny’ Isaacs  ~ Lyndon Julius

AL KEN almal in rugbykringe hom as “Tiny”, bly John Isaacs een van die groot geeste van die spel wat by die klub Raithby Universals in dié dorp naam gemaak het.

In Raithby, ’n dorpie wat in 1875 deur die Metodistesendingwerker Barnabas Shaw gestig is, word daar reeds meer as 100 jaar met die ovaal bal rondgehardloop.

Rugby is in die bloed van elke familie en soos in talle gemeenskappe is daar altyd een of twee spelers wat as legendes beskryf kan word.

En dis hier waar Tiny sy stempel afdruk.

Dié 74-jarige voormalige speler van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbal-federasie (SARFF) het diep spore getrap. Hoewel hy nie in Raithby grootgeword het nie, het hy sy skoolloopbaan en kinderjare in dié dorp deurgebring.

In die 1960’s en ’70’s was Tiny een van die reuse vir Universals (Raithby).

Afgedruk

Isaacs het met sy ouers en ses sibbes op een van die omliggende plase grootgeword. Sy rugbyhelde en vriende was almal van dié dorp.

PROTEA: Isaacs het in 1971 na Engeland getoer saam met die rugbyspan van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbal-federasie. Foto: Verskaf

Tiny – die naam wat hy by een van sy neefs gekry het – het van die begin van sy seniorjare by Universals sy merk gemaak.

In 1992 het die klubs Raithby en Universals saamgesmelt en die eenwordingsproses in SA sport as Raithby Universals binnegegaan.

Omdat Raithby die sentrale punt was vir die omliggende plase, het Tiny en sy broers vinnig ’n baie nou verbintenis met die dorp gekweek.

Op skool was daar net een sport wat pouses en tydens liggaamsoefeninge gespeel is. En dit was rugby.

Son het met Tiny in sy nuwe tuiste in Botrivier gaan gesels.

“My liefde en passie vir rugby het in my ouerhuis op ’n plaas naby Somerset-Wes begin,” vertel hy met trots.

“My pa, Damon (“Dampies”), en sy broers was almal gedugte rugbyspelers en dis iets waarop ek baie trots is.”

Ná skool het Tiny en sy goeie vriend Ernie Hendricks rugby op die klub se veld oorkant die Hendricks-gesin se huis gespeel.

Ernie se pa was toe ook Universals se voorsitter en die Hendricks-gesin het ’n baie groot invloed in die gemeenskap gehad.

Dié invloed het sterk na vore gekom toe ’n tweede klub in latere jare in die dorp gestig is.

“Ek haal my hoed af en bring hulde aan Mickey Hendricks vir sy bydrae in my vormingsjare as rugbyspeler.

“Ek het later besef watter impak die Hendricks-gesin op my gehad het.

“Hul pa, oom Davy Hendricks, was die voorsitter van Universals.”

Tiny het hom in 1966 by Universals aangesluit. Dit was toe nog die enigste klub in Raithby, onder die vaandel van die SARFF se Stellenbosch-streek.

Kontrei

Volgens Tiny het dié affiliasie jare later groot konflik onder vriende, familie en kollegas veroorsaak. Vir hom het dit egter net oor rugby gegaan en hy wou net met sy helde op die veld draf.

“Dit was destyds nie vir my belangrik onder watter rugbyliggaam my klub gespeel het nie. Almal in die kontrei wou net rugby speel.

“Vir ons was rugby ’n vorm van vermaak en dit was ’n passie vir baie.

“Ons kleedkamer was die stoep van ta’ Greta Rose en later het dit verskuif na oom Johnny Rose se stoep regoor die veld. Jy hardloop van die stoep regoor Raithby se hoofpad, Watsonweg, tot op die veld.

“Dié veld het ’n krieketkolfblad reg in die middel gehad en dit was nerfaf as jy daar beland het.

Dit het ook teen ’n baie steil helling gelê en as tuisspan het ons dit tot ons voordeel gebruik.

“Daar was geen paviljoen of enige sitgeriewe nie. My niggie Annet was my grootste ondersteuner. Sy het reg rondom die veld gehardloop.

“Sy het later ’n maatjie, Ann May, gekry en hulle twee het geklink soos ’n paviljoen vol mense.”

In die 1971-seisoen is Isaacs ingesluit by die SARFF se Proteas-span vir ’n toer na Engeland, waar hy en die vleuel Green Vigo ’n kamer gedeel het.

KLUBMAN: Isaacs se Raithby Universals-baadjie wat hy tot vandag toe nog met trots dra. Foto: Verskaf

Vigo het vroeër jare in ’n Silwerbeker-wedstryd teen Tiny gespeel, maar dit was die Universals- en Raithby-legende wat breëbors van die veld kon stap.

Isaacs sou later in die nie-rassige SA Rugbyunie (Saru­) die eerste afrigter van die Stellenbosch-unie se span word.

“Met die skeuring in rugby onder bruin mense het Raithby-rugbyklub met die Federasie geaffilieer en Universals het hulle by City en Suburban aangesluit.

“Ek het maar gebly by my klub, Universals, al was baie van my vriende en ander helde by Raithby.

“Vir my het dit weer net oor rugby gegaan en dit was al wat vir my saak gemaak het.”

Genooi

Ben Groepes, destyds die president van City and Sub­urban, en een van Raithby se inwoners, Denzil Rabie, was baie goeie vriende. Groepes het Universals toe genooi om met City and Suburban saam te smelt.

Dít was egter net een stap te ver vir die manne van die Wynland-streek.

Dis was tóé dat oorlede Max McClaren, tesame met die klubs Excelsiors, Kyle­more en Pniel Villagers, die Stellenbosch-Rugbyunie gestig het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters