3 maande gelede
Teerpaaie het Vissie help slyp
Edward ‘Vissie’ Williams  ~ Foto Verskaf

WANNEER jy die jaartal 1976 noem, dink jy net aan die Soweto-onluste.

Min mense sal egter kan onthou dat ’n nie-amptelike Amerikaanse rugbyspan Suid-Afrika daai jaar besoek het om ’n wedstryd teen ’n span van die Westelike Provinsie-Liga op Goodwood se skougronde te kom speel.

Amerika het eers in 1975 as lid van die Internasionale Rugbyraad (deesdae Wêreldrugby) geregistreer en sy eerste wedstryd teen Australië verloor.

Die 1976-span was ’n saamgeflanste studentespan wat uit universiteite uit die oostelike deelstate van Amerika gekies is om op St. George’s Park in Gqeberha (toe nog Port Elizabeth) ’n game teen die Crusaders-rugbyklub te kom speel.

Dié toerspan het bestaan uit 25 spelers, maar hulle het glad nie soos rugbyspelers gelyk nie, hulle het meer soos beach boys gelyk in sandale en kort broekies op besoek vir ’n somervakansie.

Een van die Proteas wat wel in 1976 teen die Eagles gespeel het, is Edward “Vissie” Williams (74), ouer broer van John “Pompies” Williams. Vissie was ’n kranige slot onder die kapteinskap van Jack Juries van Groot-Brakrivier.

“In daai game teen die Amerikaners voel ek ek het ook ’n Protea geword,” vertel Vissie aan Son.

“Kyk, van my spanmaats in daai WP-Liga-span was bedrewe Proteas soos Japie Liedeman, Attie Lategan, Hennie Shields, John Stubbs en dan natuurlik Jack.

“Destyds het ek nog vir Paarl-Unie gespeel toe ek gekies is om teen die Amerikaners uit te draf. My eintlike klub was egter Young Peoples.”

Kraal

Vissie sou uiteindelik sy Protea-kleure verwerf toe hy gekies is om uit te draf teen die SA Rugbyvereniging se span en die SA Luiperds van Norman Mbiko.

In 1974 het die vier Williams-broers, John (agtsteman), Edward (slot/agtsteman), Derek (flank) en Gordon (heelagter), in een wedstryd vir Young Peoples teen Laer-Paarl op die Kraal in die Paarl gespeel.

FAMILIE: Van links na regs is die Williams clan, Derek, Pompies, Shirley, Abie en Vissie. Foto: Verskaf

Vissie was die kaptein en wat hy van die wedstryd onthou, is dat hy vir Pompies van die veld wou jaag omdat hy regdeur daai game nie die bal wou uitgee aan sy spanmaats nie.

Vir die wedstryd teen die Amerikaners het die Proteas hulle by die SA Kaapse Korps se rugbyvelde in Faure voorberei. Dougie Dyers het die span gebrei.

“Ons het harde bene gekou by daai oefensessies en goed voorberei. Ons het geweet Amerika speel nie eintlik rugby nie en was dus ’n onbekende faktor, want ons het nie geweet wat hulle kan of nie kan doen nie. Dus was ons takties voorbereid en het maar gewag vir die wedstryd om te begin.

“In die kleedkamer is ons aangemoedig om ons beste te gee en almal was opgewonde om te speel en het mekaar aangemoedig. Ons is almal voorgesê om tog nie beserings op te doen nie, want daar was niks reserwes nie,” lag hy.

Geoefen

Vissie het sy rugbyloopbaan in 1965 by Young Peoples begin en het sy toks in 1976 opgehang. Dit het nie saak gemaak of dit ’n provinsiale of klubwedstryd was waarvoor hy hom moes voorberei nie, hy het alles gegee ter voorbereiding.

“Ek het baie en hard geoefen vir elke wedstryd en het baie langs die riviere rondom die Paarl en ook van my werk tot by die veld gehardloop. Destyds was daar nie ’n gym of oefenprogramme nie. Jy moes self fiks word en die gruis- en teerpaaie is gebruik vir stamina en uithouvermoë bou.

“Tans help ek uit met die jong spelers by Peoples en mis nie graag een van hul wedstryde nie. Ek probeer my kennis terugploeg in vandag se jong rugbyspelers.”

BLOEDLYN: Vissie (middel) se kleinseun Keanan (links) is self ’n kranige rugbyspeler. Hy het die Boland in 2016 se o. 18-Cravenweek verteenwoordig. Regs is Vissie se seun en Keanan se pa, Barry. Foto: Verskaf

Die vyf Williams-broers het almal rugby gespeel. Gordon (heelagter) is al oorlede, maar sy kleinkind Marlin Williams was die kaptein van die Boland-Kavaliers.

Die jongste broer, Abie, is ’n vleuel.

Vissie se kleinseun Keanan is self ’n kranige speler.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters