24 dae gelede
Tarzan-broers was vreesaanjaend
KRAGMANNE: Die Tarzan-broers, Aslam en Nazeem Toefy.  ~ Foto Verskaf

WANNEER die Tarzan-broers, Aslam en Nazeem Toefy, in die 1970’s op ’n rugbyveld uitgedraf het, was daar beslis geen vreesaanjaender en skrikwekkender gesigte vir ’n opposisiespan nie.

Aslam, wat slot en agsteman gespeel het, het meer as 6 voet in sy rugbystewels gestaan en het die skaal op ’n allemintige 125 kg laat kreun.

Daarteenoor was Nazeem ’n uiters sterk stut van 130 kg wat sy teenstanders behoorlik in die skrums laat les opsê het.

Dit was dus ’n moeilike taak om dié twee kragmanne in toom te hou wanneer hulle eers aan die gang gekom het.

Dit is boonop verstaanbaar – met ’n bynaam soos die “Tarzan-broers” en met die reputasie wat hulle vooruitgegaan het – dat hul teenstanders die twee broers altyd gevrees het.

Aslam is nie in rugby gebore nie. Op die ouderdom van 20 het hy geen idee van die spel gehad nie. Hy was ’n seeman by Safmarine.

Hy was op twee weke seeverlof toe hy en sy ma by Green Point Track gaan kyk het hoe Nazeem, sy broer, daai tyd net 18 jaar oud, rugby gespeel het.

Hy vertel: “Ek het nie ’n idee gehad waarna ek kyk nie, maar ek was mal oor die fisieke aspek van die spel.

“Ek het gesien hoe my broer op die veld geboelie is. Vir my het dit meer soos ’n boksgeveg gelyk.

“Ek het my ma gevra hoe dit ’n sportsoort kan wees as mense moet bloei.

“Ek het net daar besluit dat ek my broer op die veld gaan help.”

BLOEDBROERS: Nazeem en Aslam spog met hul Saru- en WP-baadjies. Foto: Verskaf

In 1974 is Aslam toe by Kalk Bay Marines as ’n slot ingespan waar hy die rol van die enforcer vervul het.

“Al was ek ’n groot ou, was ek ’n redelike saggeaarde persoon. Die coach by Kalk Bay Marines het vir my gesê dat ek ’n perfekte slot sou wees. Ek het nie geweet wat dié posisie behels nie.

Aggressief

“Ek is na die coach se huis gevat waar hulle twee boksies vuurhoutjies op ’n tafel in sy voorkamer leeggemaak het. Só het hulle my gewys hoe die rugbyposisies werk.

“Ál wat hulle vir my gesê het, was om die spelers met verskillende kouse dop te hou. As dit nie dieselfde soos myne was nie, moes ek net sake so moeilik as moontlik vir hulle maak.

“Dit was ’n terrible tyd vir my, want die spectators het my uitgelag omdat ek nie geweet het waar ek moet staan en wat ek moes doen nie. Ek was groot en baie aggressief en het sake met my vuiste uitgesorteer.

“Hulle het my as groot en dom beskryf. Die gogga het egter gou vir my gebyt en ek het baie gou die game geleer.

“Ek het vir Marines teen die legendariese Saru-slot Salie ‘Lippe’ Fredericks en Yusuf ‘Touch’ Davids gespeel en het geweet dat die bloed aan beide kante gaan vloei.

“Ek het op ’n skip gewerk waar ek vir my kos moes veg en het geweet hoe om myself te verdedig.

“Die game is kliphard gespeel waar geen genade gegee of gevra is nie.

“Ek kon die pak vat, so hard soos ek dit kon uitdeel. Dit is dié game waar die bynaam Tarzan vandaan gekom het en waar my rugbyloopbaan posgevat het.”

STORMLOOP: Aslam Toefy met volle vaart in aksie vir die WP teen Tygerberg. Foto Verskaf

Die volgende seisoen het Aslam en Nazeem saam vir die WP-rugbyspan begin speel. Aslam moes voortaan Fredericks se groot rugbystewels volstaan.

Geskors

“Nazeem was baie swaarder en breër as ek.

“Ons het vir sowat 11 jaar orals in die land saamgespeel. Die enigste tyd wanneer ek nie span gehaal het nie, was toe ek vir ongeoorloofde spel geskors was.

“Wanneer ek daai blou-en-wit streeptrui oor my kop getrek het, het ek myself as ’n gladiator beskou. Ek het geweet waaroor dit alles gaan. Orals in die land het ek ’n reputasie begin opbou as ’n persoon wat die game baie hard gespeel het.

“Agterna was ons egter die beste van vriende.

“Ek het ongelooflik baie respek vir die spelers teen wie ek gespeel het. Ek dink ek het meer vriende as vyande gemaak. Dit het egter teen my gewerk.

“Ek was nie een van die gelukkige mense wat vir die Saru-span gekies is nie omdat daar amptenare was wat nie so lief was vir my nie.

“Ek het dit egter net met ’n smile gevat en op die ouderdom van 35 het ek besluit om my stewels op te hang omdat ek tevrede was dat ek ’n genoegsame bydrae tot rugby gemaak het.”

VAARDIG: Aslam Toefy stuur Shahied Martin van die WP weg vir ’n drie. Foto: Verskaf

Aslam sê hy is trots dat hy teen van die beste spelers van die Sacos Saru-era gespeel het. Benewens sy broer, Nazeem, wat hy as een van die beste Saru-voorrymanne tot nog toe beskryf, is die WP-heelagter Ghalieb Hendricks, die slotte Peter Jooste van Tygerberg en Temba Ludwaba van Kwaru, sowel as Saait Majiet van City en Suburban van die beste spelers teen wie hy gespeel het.

Op 40-jarige ouderdom, ná eenwording, het die oud-Bok-skrumskakel Divan Serfontein en die losvoorspeler Rob Louw Aslam genader om ’n Springbok-span by die World Rugby Classics-toernooi in Bermuda te verteenwoordig. Aslam het daar in 17 wedstryde teen spanne soos die All Blacks en Engeland uitgedraf.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters