26 dae gelede
Symons sê dit was die goeie tye
VANDAG: Só sien Godrey Symons vandag daarna uit.  ~ Verskaf

GODFREY Symons was in sy roemryke loopbaan ’n begaafde veelsydige sportman wat sy naam as ’n skitterende senter vir die Grens in Saru-Sacos-geledere gemaak het.

Symons is nou ’n 65-jarige pensionaris in Oos-Londen waar hy gebore en getoë is.

Symons het gister op die telefoon uit Oos-Londen met Son gesels.

“Ek is gebore in 1956 in Oos-Londen as die derde oudste. Ek het twee susters voor my, ’n broer ná my en twee susters ná hom, so ons was ses,” begin Symons ons gesprek.

“Dit was wel in die hartjie van apartheid en hoewel ons verskuif is weens die destydse Groepsgebiedewet, het ons as kinders almal saamgespeel, bruin, swart en wit. Ons het gespeel en baklei en dan speel ons môre weer saam, net soos kinders maar is. Ons was nie juis bewus van wat om ons aangegaan het met betrekking tot die politiek nie.”

Die jong Symons is egter weens dieselfde wette van die destydse regering genoodsaak om by sy ouma in Queenstown te gaan bly.

“Ek het by die Laerskool Louis Rex gespeel, eers as haker en later as losskakel,” vertel Gotta, soos sy vriende en spanmaats hom noem.

“Ek het ook krieket, sokker en hokkie gespeel. Ek is daarna na die Hoërskool Maria Louw en hier het ek hoofsaaklik losskakel gespeel.

“Ek het in standerd 6 vir die vyfde span begin speel en met die jare maar so die leer geklim. In standerd 9 het ek een wedstryd vir die tweede span uitgedraf voordat hulle my opgeroep het na die first team.

“Ek moes egter toe heelagter speel, want daar was reeds ’n goeie losskakel in die eerste span. Destyds het ons maar bloot op ons instinkte gespeel en nie juis afrigting ontvang soos die manne nou kry nie. Jy het maar die bal gevang en as daar ’n gat was om te slaan, dan het jy hom gevat. Ons velde was kliphard en jy moes soms saans met die speld sit om die dorings uit jou voete uit te haal. Maar dit was sulke goeie tye,” vertel hy met heimwee.

LAAT LOOP: Symons in 1984 in aksie vir die nasionale Saru-span. Foto: Verskaf

Symons is ná sy skoolloopbaan Port Elizabeth (vandag Gqeberha) toe om aan die Dower-opleidingskollege te studeer.

Gehaal

“Toe ek op Dower kom, het hulle ook ’n nr. 10 gehad en omdat ek as eerstejaar toe ’n groentjie was, het hulle altyd die tweede- en derdejaars voorkeur gegee as dit by die kies van die losskakel gekom het. Ek het daarvandaan net senter gespeel.”

Symons het by Dower ook die Oostelike Provinsie se provinsiale span in 1976 gehaal voordat hy die volgende jaar terug is Oos-Londen toe.

Terug in Oos-Londen het Gotta hom by die Rising Stars-klub aangesluit.

“Hier is ek toe blootgestel aan groot rugby,” gaan Symons voort. “Ek was in 1978 vir die eerste keer vir die Saru-span gekies toe ek vir Border gespeel het. Destyds het ’n mens maar vir die genot van die spel gespeel.

“Ek het nie eens besef watse eer my daai tyd te beurt geval het nie. Vir my was dit maar soos enige ander klubwedstryd, hoewel dit op ’n ander vlak was. Ek het dit nie destyds besef nie, maar ek kon waarskynlik soveel beter gewees het.

“As jongeling jaag ’n mens maar die nice time en jy vat nie altyd jou sport ernstig op nie. Ons het byvoorbeeld baie Vrydae ’n biertjie geniet, maar steeds op Saterdae perform.”

GROEN-EN-GOUD: Godfrey Symons, sewende van links agter, in die Saru-span van 1985. Foto: Verskaf

Symons erken egter sy liefde vir die spel het op ’n kol gekwyn: “Man, ek het soms nie eens gespeel nie. Ek was gelukkig ’n veelsydige sportman en het krieket en sokker gespeel, want die rugby in Oos-Londen het baie eentonig geraak. Soos ek vroeër gesê het, ek het waarskynlik ook nie destyds die omvang van my rugbyprestasies verstaan nie.”

Verlore

Symons was egter nie vir rugby verlore nie. Hy vertel verder: “In 1984 was ek meer volwasse en het toe die erns van die saak beter verstaan en teruggekom. Ek het toe in ’84, ’85 en ’86 weer die Saru-span gehaal en die huppel in my stap was terug. Ek het toe aanhou speel en selfs as veteraan ná eenwording in die nuwe Suid-Afrika gespeel as daar dan en wan ’n man in ’n span kort was.”

Symons het sy onderwysloopbaan in die laat 70’s by Aspiranza Primêr in Oos-Londen begin en was daar betrokke by die afrigting en administrasie van rugby, krieket en atletiek tot en met sy aftrede in 2017. Hy is getroud met Annie en het drie kinders en ses kleinkinders. Hy geniet die rustigheid van die afgetrede lewe.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters