8 maande gelede
Swem was eintlik Die Berg se sport
SPOGGERIG: Charles Kleinbooi met sy Saru-baadjie.  ~ Charles Pullen

WAS dit nie vir ’n trip op die nippertjie Oos-Londen toe saam met sy broer en vriende waar hy sy baadjie aan ’n jong dame gegee het nie, het ons “Die Berg” dalk nooit in aksie gesien nie.

Charles Kleinbooi was ’n veelsydige sportman. Baie mense ken hom as “Die Berg” as gevolg van sy stormlopies. Hy het vele opponente plat op die aarde gelos wanneer hy weggebreek het van die pak.

Tog sê Kleinbooi hy is liewer vir swem en dit sal altyd sy eerste liefde bly.

Kleinbooi is in Schauderville gebore. Hy vertel hy het in die strate saam met sy ouer broer begin sport beoefen.

“Ons moes só op die sypaadjie speel dat die bal nie in iemand se jaart opeindig wanneer ons dit skop nie, anders sou ons daai bal nooit terugkry nie,” vertel Kleinbooi laggend.

Hoewel hy op laerskool reeds begin rugby speel het – en dit nogal as skrumskakel – sê Kleinbooi hy het nooit uitgeblink nie.

Natuurlik

“Ek het sokker, krieket en selfs hokkie gespeel, maar was altyd meer in die B-span omdat ek meer op swem gekonsentreer het.”

Volgens die 66-jarige wat steeds hou van swem, het deelname aan watersport baie natuurlik gekom; almal in sy familie is goeie swemmers.

“My ma, pa, broers en susters – almal in die familie – het geswem. My uncle het ons oor naweke almal kom optel en gevat na die North End Beach, waar ons heeldag geswem het. Omdat ons in Schauder grootgeword het en daar ’n swembad was, kon ons ook maklik in die water kom.”

HERINNERINGE: Kleinbooi met foto’s van sy speeldae vir die Oostelike Provinsie, Saru en St. Marks. Foto: Charles Pullen

Kleinbooi sê hy en sy broers en susters het in die somer papiere by die swembad opgetel om hul tyd in die water te verdien.

“Daar was nie altyd vir almal geld nie; daarom het ons soms uitgehelp deur skoon te maak.

“Ander tye het ons die fence gejump of onderdeur gekruip, maar ’n plan het ons gemaak om te swem.”

Kleinbooi was ’n nasionale lewensredder, maar op hoër­skool het hy rugby ál ernstiger begin opneem. Hy het eers vir St. Marks se juniors begin uitdraf.

Hy is toe een jaar saam met sy broer na ’n wedstryd van die Oostelike Provinsie (OP) teen Grens in Oos-Londen.

“Daar op die paviljoen het ek my oorlede vrou, Una, ontmoet. Sy het koud gekry en ek het my baadjie vir haar aangebied, min wetende dat haar broer toe die bestuurder van die OP-span was.”

Die Saru-legende vertel toe sy vrou die baadjie wil teruggee, het hy gesê sy moet dit hou tot in die Baai.

“Dit was mos nou my manier om haar weer te kon sien wanneer ons terug is in die Baai.

“Só het dinge toe begin en ek het in 1976 by OP ernstig begin speel.”

Al het Kleinbooi baie rolmodelle in die sport gehad, soos Sammy Stride en Quinton Daniels, vertel hy sy pa was sy grootste motiveerder.

“My pa het nooit rugby gespeel nie, maar hy was lief vir rugby en hy het altyd baie gelees. Hy kon jou altyd vertel van enige span en speler – of dit nou 1955 se British Lions of die Cheeky Jeeps was. Hy het sy rugby goed geken.”

VOLSTOOM: Kleinbooi wys in ’n SA Cup-stryd in Athlone hakskene vir ’n WP-speler. Foto: Verskaf

Skreeu

Kleinbooi vertel hulle het in 1980 in Kwaru in ’n halfeindstryd gespeel. Hulle toe moes in die eindstryd teen Boland speel.

“Ons was 3-0 voor en Kwaru kry ’n skrum op ons 22. Ons het wel die bal gewen en ek hardloop ’n paar treë en skop dit uit. En daar skreeu die skare my naam: ‘Die Berg! Die Berg!’ En ek voel goed. Van die lynstaan het ons toe weer ’n strafskop gewen en ek skop dit oor om die wedstryd met 6-0 te wen.”

Kleinbooi sê daai aand toe vier hy en die res van die span die oorwinning en een van sy vriende vra sy pa wat hy van sy seun se vertoning dink.

“Met die vraag draai my pa om en klap my dat ek só terugval dat ek die lig by die skakelaar afsit.”

Hy sê selfs sy vrou was baie geskok. Hy vra sy pa toe wat is fout.

“Hy sê toe ek moenie soos die eenoog-stupids daar op die Adcock rugby kyk nie. Jy kry die bal en jou backline staan langs jou en jou teenstanders is 15 treë weg en jy hardloop die hele veld vol en skop die bal weg. Hoekom het jy nie afgegee nie? Dan kon julle gaan druk het.”

Hy sê in 1984 teen Boland het so iets ook gebeur. Dié keer het hy die bal afgegee – en toe score hulle.

“Die aand paartie ons weer ná die wen en my pa kom in. Ek vra toe: ‘Wat dink Daddy nóú?’ en die man klap my weer. En hy verduidelik: ‘Sien, jy as daai tyd al na my geluister het, kon jy lank­al beter gespeel het!’ ” skerts Kleinbooi.

WENNERS: Kleinbooi (links) en die OP-kaptein, Peter Slabbert, pronk met die SA Cup-trofee. Foto: Verskaf

Geëerd

Die legende sê hy het geen regrets oor sy speeldae nie.

Hy het elke oomblik geniet en voel vreeslik geëerd om as ’n legende van die game gesien te word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters