Verlede maand
Sukses op die hoogste vlak
PURE GOUD: Donovan Wright vier sy goue medalje in die Comrades Marathon.  ~ Gallo Images

AS JONG seun het Donovan Wright in Pacaltsdorp ander mense se donkies sonder toestemming gery.

Die mense was baie ontevrede daarmee en het hom met ’n sweep gejaag. Een van die laities wat hom gejaag het, was John Gabriels, die destydse SWD se 800 m-kampioen

Wright wou so vinnig as moontlik wegkom, want hy wou nie met ’n sweep geneuk word nie.

Hy vertel: “Vir iemand wat van Mitchells Plain in die Kaap afkomstig is, was dit baie lekker om ’n donkie re ry. Toe ek agterna uitvind John Gabriels is die SWD-kampioen en ek kan vir hom weghardloop, het ek besluit om atletiek te doen en dit is waar alles vir my begin het.”

Wright se eerste blootstelling aan atletiek was op laerskool, waar hy die geleentheid gekry het om teen ’n atleet met die naam van Nolan Prins te hardloop.

“Hy was my kompetisie van standerd 6 tot standerd 9. Die outjie was die 100 m-kampioen en hy het ook uitgeblink in die middelafstande. Ek het hom drie jaar geklop.”

Ná skool het Wright gewissel tussen tennis, krieket en rugby. Hy was ook on van die skool se Wiskunde-olimpiade. In 1986, toe hy in matriek kom, het hy besluit om in atletiek te spesialiseer. By UWK het hy as jong atleet begin en sy eerste SA kleure in 1988 verwerf. En toe weer in 1998. Daarna het sy loopbaan so gegroei dat hy kaptein van UWK, die WP en die SA Atletiekspan geword het.

Uiteindelik het hy die bekroonde atleet Jantjie Marthinus – vir wie hy groot respek gehad het – onttroon as Udubs se sportman van die jaar.

“Dit was ’n groot oomblik in my loopbaan. Met eenwording in 1992 het ek ook die geleentheid gekry om Sacos te verteenwoordig met eenheid-besprekings.

Verbeter

Ná eenwording het Wright sy visier ingestel om al die bestaande rekords te verpletter. John Donald, wat as ’n legende beskou is, se rekord het eerste gespat.

John September het Ewald Bonzet, een van die grootse legendes in die middelafstande, se rekords verbeter.

“Owen Machelm het nog ’n bestaande legende, Peter Williams, se cross-country-rekord verpletter. So, as hulle as legendes beskou word, dan weet ek nie wat ek, Owen en John is nie.

“Ná eenwording was daar vyf name uit Sacos-geledere: Francine Scheepers (beter bekend as Farwa Mentoor) wat die Comrades se rekords oortref het.

“Jowaine Lategan (Parrott) het dieselfde gedoen. Daar is nie ’n rekord in Kaapstad wat nie aan ons behoort het nie.

Positiwiteit

“Ons het seker gemaak dat ons wat nie geleenthede in die apartheidsjare gekry het nie, daardie bestaande rekords verbeter. Wayde van Niekerk se ma, Odessa Krause (Swarts), was in die WP-span toe ek kaptein was.

“Dis mense wat nooit die geleentheid gehad het nie.”

DANKBAAR: Donovan Wright by die eindstreep van die Comrades Marathon in 2000. Foto: Gallo Images

Ná eenwording het Wright 27 marathons gewen, insluitend goue medaljes by die Comrades (89 km) en die Two Oceans (56 km).

’n Breingewas is toe by hom gediagnoseer. Sy deursettingsvermoë en positiwiteit het egter daartoe gelei dat hy teen alle verwagtinge in sukses op die hoogste vlak behaal het. Sy vasberadenheid het hom uiteindelik gehelp om sy stryd teen kanker onder uiters swaar omstandighede te wen.

Die 53-jarige het sedertdien ’n reeks van 39 operasies gehad.

Hy verteenwoordig deesdae steeds sy land op die hoogste vlak by die World Transplant Games.

Wright is getroud met Marita (Braaf) en hulle het vier seuns, Landou, Dougan, Decland en Larkan.

LANGASEMS: Donovan Wright (heel links) John September, Derek Fredericks, Ebenezer Felix, Sammy Klassen en Keith Meyer. Foto: Verskaf
FAMILIEMAN: Donovan herstel in die hospitaal met sy seun Larkan. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters