8 maande gelede
‘Struggle was die moeite werd’
Roger Links  ~ Backpagepix

DAAR is seker nie ’n groter gentleman in die plaaslike en landwye sokkerkringe as Batts­wood en Cape Town Spurs se legende Roger Links nie.

Selfs in sy speeldae was Links al ’n ware rolmodel.

Maar dit beteken nie dat die lenige Links, wat 12 wedstryde vir Bafana Bafana gespeel het, nie baklei het vir sy ding in die lewe nie.

Soos talle sportmanne en -vroue wat in die apartheidsbedeling grootgeword het, was Links bewus van die deurslaggewende rol wat sport in die versoening van die land gespeel het.

“As ek terugkyk, was dit ’n tyd van huge excitement. Die land het deur baie veranderinge gegaan,” onthou die 57-jarige Links.

“Ons (sokker) was terug in die Fifa-familie. Beroepsokker en die nasionale span was ook terug.

“Jy word in die limelight gestoot om jou land te verteenwoordig.

“Dieselfde land wat baie van jou persoonlike ambisies en drome as ’n sportpersoon gekniehalter het.

“Maar dit was nogtans vir my baie exciting wanneer ons saamgekom het vir die nasionale sokkerspan.

“Ek gaan nie lieg nie, dit was challenging as jy kyk dat jy van die minority is. Dis ’n gevoel wat by jou opduik dat jy net ’n small fish is.

“Maar die gevoel dat jy jou land verteenwoordig, was oorweldigend.

“Jy het besef dat jy ook die mense verteenwoordig wat jou ondersteun en wat agter jou gestaan het.

“Ek dink al die hassle en challenges wat jy in die gesig gestaar het, word oorskadu wanneer jy daai nasionale trui oor jou kop trek.

Talentvol

“Dis was vir my goeie experiences, maar terselfdertyd was ek bewus van die feit dat ek ook ander sportmanne en -vroue verteenwoordig wat meer talentvol was.

“Daar was ’n groter cause waarvan jy altyd bewus was. Die sokkerspelers saam met wie en teen wie ek gespeel het wat nooit die kans gekry het nie.

“Die feit dat ék daar gestaan het, het my laat besef ek moet hulle op ’n opregte en regverdige manier verteenwoordig.

“Hulle moet krediet gegee word vir hul rol in die struggle. Jy hoop altyd jou opofferings is die moeite werd.

“Dit was vir my moeilik om in die nasionale span in te breek, maar ek was seker as ek die kans kry, sou ek my bes doen. Volgens my het ek dit gedoen.

“Ek dink ek het respek verdien oor alle racial di­vides vir die effort wat ek gegee het in my kort tyd op nasionale vlak.

“As ek mooi kan onthou, was ek in my eerste wedstryd vir Suid-Afrika die man of the match.

“As ek terugdink, besef ek hoe senuweeagtig ek was.

“Maar ek het alles ingesit, want ek het geweet die geleentheid sou nie altyd daar wees nie.”

Daar is ’n gevoel dat Links veel meer sou bereik het as hy nie in 1995 sy stewels opgehang het nie.

“Kyk, wat my in die lewe opgeval het, is soms is jou journey lank en soms is dit kort, maar dis wat jy daarvan maak wanneer jy daar is,” raak Links filosofies.

YESTERYEAR: Roger Links (regs) in sy heyday. Foto: Verskaf

Links, ’n gedugte centre back in sy speeldae, verduidelik dat hy ’n swaar besluit moes neem wat sy nasionale toekoms betref het.

“Ek dink dit was voor ons home game teen Nigerië,” vertel hy.

“Ek het locally ’n dyspierbesering opgedoen.

“Die heel week het ek treatment gekry en teen die Vrydag moes ek ’n besluit neem: Speel ek met ’n besering wat nie ten volle herstel het nie of wat?

“Ek was bewus dat ek my plek in die nasionale span sou verloor.

Uitsit

“Maar ek het myself afgevra of ek justice sal doen aan my land en aan myself.

“Ek het toe besluit ek gaan eerder die wedstryd uitsit en iemand anders ’n kans te gee wat ook in spanning wag om vir sy land te speel.

“Dis hoe my stint tot ’n einde gekom het. Ek het ook die hassle met Spurs gehad wat my nie ’n kontrak wou gee nie.

“Ek het gevoel ek is ’n nasionale speler en ek verdien een.

“Hulle wou my uit die agtersak betaal, maar ek was nie geïnteresseerd nie,” vertel hy.

AKSIE: Bitter min spelers het Roger Links (regs) se lang pote ontsnap. Foto: Verskaf

Links het ná sy speeldae die Kaapse sokkertalent by die Old Mutual Akademie onder sy vlerk geneem waar hulle groot sukses gehad met die ontwikkeling van gedugte talent.

Ook by Ajax Cape Town en Ubuntu Cape Town het Links sy stempel as breier afgedruk.

Deesdae is Links steeds betrokke by die aankweek van jong talent in die Vishoek-area, waar hy hopelik die volgende Matthew Booth of Franklin Cale kan ontdek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters