5 maande gelede
Sportsoorte sit in Ambi se bloed

HY HET jare terug Batts­wood op die Gelvan Track uitgehou vir Blackpool, het ’n hand in Ajax Cape Town en swaai steeds ’n gholfstok.

Dit is natuurlik Ambrose Paulsen, of “Ambi” soos hy onder sy spanmaats en vriende bekend was.

Paulsen het in Gelvandale grootgeword en sommer gou in meer as een sportkode uitgeblink.

Hy was meer bekend as ’n doelwagter in die Baai, maar hy was net so ’n giftige bofbalspeler en het later ook die gholfstok begin swaai.

Son het ’n bietjie met dié legende gesels oor sy sportprestasies en herinneringe.

Hy vertel hy het sport begin speel net om ’n bietjie uit die huis te ontsnap.

“Ek het so op 8-jarige ouderdom begin tennis speel, maar in ons era daai tyd was dit meer so dat die seisoene gedikteer het wat ons speel,” vertel hy.

Hy vertel hy het vir Gelvan Park Primary as ’n losskakel gespeel, maar is vir die skolespan as slot gekies. Dit was natuurlik as gevolg van sy lengte – 1,86 m.

Volgens Paulsen het hy nie veel sporthelde gehad toe hy jonger was nie.

“Ons het nie soos vandag al die sporthelde op die TV gesien nie, so ek kon nie na internasionale sterre kyk vir inspirasie nie. Dit was meer my broers en vriende na wie ek moes opkyk, en spelers wat reeds goed gevaar het in die gemeenskap.”

Paulsen se sokkerloopbaan het wel vroeg begin toe hy vir Blackpool FC se o. 14-span doelwagter begin staan het. Hy het ook vir Bethelsdorp Hoërskool se o. 15- en o. 17-spanne in dié tyd gespeel.

STAAN UIT: In die blou van Blackpool se doelwagterstrui kan ’n mens Paulsen nie miskyk nie.

Dis egter by Blackpool wat hy uitgeblink het onder die leiding van Selwyn Erasmus.

Volgens hom is een van sy gunsteling- hoogtepunte in 1979 toe hy as 18-jarige op toer gegaan het met Blackpool om teen Lillies van Hanover Park te gaan speel.

Sy sokkerloopbaan het van 1980 tot 1981 ’n bietjie stilgestaan toe hy vir studies Kaap toe getrek het, maar in 1982 was hy weer in aksie.

“Ek het teruggekom en weer vir Blackpool gespeel. Dié keer was ek daar tot en met 1988.

“Dit is tóé dat ons semi-professioneel vir Blackpool begin speel het.

“Ek het wel daarna saam met Ralton Potgieter, Bravo Jacobs, Aldridge Hop Hing en James Smith by Highlands Spurs in die Nasionale Sokkerliga (NSL) gespeel. Dis basies soos vandag se Premiersokkerliga.”

Gekies

By Blackpool het Paulsen die liga-, Mala Moodaley- en Paastoernooi-titel gewen. In 1986 het hy en Blackpool ook die nasionale klubkam­pioenskapstoernooi geword toe hulle die gevaarlike Kaapse span Battswood met 2-1 op die Gelvan Track geklop het.

Hy is ook gekies om die nasionale tweede span teen Suid-Afrika se o.23-span te verteenwoordig.

“Ons het gespeel teen manne soos Shoes Moshoeu, Fani Madida en Innocent Mncwango.”

Hy het ook as 19-jarige reeds begin bofbal speel vir die bofbalklub Arsenal. Hy het OP gelyktydig in sokker en bofbal verteenwoordig tot en met 1987.

VEILIG! Paulsen maak seker hy het die bal voor Teswald Human van Hellenic daarby kan uitkom in ’n NSL-wedstryd in 1981.

Hy het die bofbal weer ná unifikasie in 1992 opgetel en weer die OP-span gehaal.

Met sy dae op die sokkerveld wat einde se kant toe gestaan het, het hy begin afrig en bestuur by UPE se sokkerspan wat deelgeneem het in die nasionale Tweede Liga.

Hulle het goed gedoen, maar moes later die fran­chise verkoop.

“Ons het dit aan Sevens Stars van die Kaap verkoop.

“Dit het later Ajax Cape Town geword soos hulle vandag bekend staan.”

Dit was nog nie die einde van sy sportloopbaan nie, want in 2012 het hy as 52-jarige weer ’n OP-span gehaal – die keer vir gholf.

Hy sê as gevolg van werk is dit moeilik om te oefen, maar sy mikpunt is om nou as 60-jarige die Super Se­nior-span te haal.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters