3 maande gelede
Sokkies een van Saru se bestes
TROTS: Joslin Ontong in die Saru-baadjie waaroor hy gedroom het.  ~ Foto Verskaf

JOSLIN “Sokkies” Ontong word deur menige oudspeler en ondersteuner as een van Saru se heel bestes beskou.

Dié legendariese senter is nie iemand wat sy eie beuel blaas nie. Hy is baie beskeie as hy oor sy loopbaan praat.

Son moes omtrent die nou 62-jarige Ontong se arm draai om hierdie onderhoud toe te staan, want hy voel “daar is talle groter legendes as ek”.

Ons het hom egter oorreed om gister telefonies oor sy roemryke loopbaan te gesels.

“Ek is in 1958 gebore en ons het naby die ou sportgronde in die ou lokasie (nou Victoriapark) in Worcester gebly en ek was seker ’n tjokker van vier of vyf toe die sport-goggas my behoorlik gebyt het.

“Ek was versot op rugby, atletiek, krieket en selfs tennis, alhoewel dié eintlik (net) vir die elite was. My pa en my oom het ook natuurlik provinsiale en klubrugby gespeel. So, rugby was maar in my bloed.”

Ontong het vroeg reeds op die sportveld naam gemaak en was nasionale o. 13-kampioen in die 100 m- en 200 m-naelloop. Hy noem ook net so terloops dat hy in 1974 die SA Skole-rugbyspan gehaal het.

“Ek was van vroeg al veelsydig. Volgens my het ek meer potensiaal in krieket as rugby getoon en moes uiteindelik op hoërskool kies tussen krieket en rugby.

“Nie baie mense weet nie, maar ek het provinsiale klere in krieket ook en was ’n spesialiskolwer wat op nommers drie en vier gekolf het.”

Kroon

Hy het in 1976 aan Esselenpark gematrikuleer en ook naam gemaak by die Primrose-rugbyklub voordat hy in 1977 onderwys aan Pentech (deesdae CPUT Bellville) gaan swot het. Hy het in dié tyd vir Tygerberg gespeel en ook in sy drie studentejare die SA Studentespan gehaal.

“In 1978 het ek my eerste SA Cup-sukses geproe toe ek saam met Tygerberg die beker gewen het, nogal teen Boland. Om dinge te kroon, het ek laat in daai game ’n breekslag gemaak op die middellyn en die bal deur geskop en een van ons flanke het die bal toegeval. Ons het 6-0 gewen.

“Ek moet egter byvoeg dat dit eintlik ’n woer-woer skop was,” sê hy terwyl hy lekker lag. Hy sou natuurlik later in sy loopbaan weer SA Cup-sukses behaal.

FLAIR: Sokkies laat loop na Ivan Jacobs in 1988. Foto Verskaf

Sokkies, soos hy alombekend is – sy sokkies het altyd om sy enkels gesit – het in 1980 in die destydse Suidwes-Afrika gaan onderwys gee en daar die liefde van sy lewe, Aletta, ontmoet. Dié twee onnies is al 37 jaar getroud en het twee kinders, Juchelle en Craig.

“Ek het in Namibië klubrugby gespeel en is gevra om vir Suidwes in die Sport Pienaar-beker te speel, maar my beginsels het my nie toegelaat nie. So, ek het my nooit beskikbaar gestel vir SWA nie.”

Ontong en sy gesin het in 1984 terug Worcester toe getrek en hy en Aletta het tot hul uittrede in 2013 by die Hoërskool Breërivier skoolgehou. Hy was toe hulle daar aankom in die fleur van sy lewe en loopbaan en het in die Boland-span gedy in die senter-posisie.

“Ek en Christie Noble het lekker gekombineer en ek beskou hom as een van die heel grotes. Ons het reeds van skool af gespeel en was selfs op Pentech ook die senter-paar. Ek het 12 gespeel en die meer senior Christie het nommer 13 verkies.”

Sokkies en die Boland-span van 1988 het teen die verwagtinge die gesogte SA Cup teen die WP gewen. Ontong se onderskepdrie net ná rustyd was die deurslaggewende oomblik wat die wedstryd in die Boland, onder leiding van Francois “Kaballie” Davids, se guns geswaai het. Hulle het met 9-6 gewen nadat hulle in die laaste kwart van die stryd omtrent moes walgooi.

Ontong het die Saru-span met onderskeiding verteenwoordig en beskou dit as ’n droom wat verwesenlik is.

Fenomeen

“Ek het as kind legendes met Saru-baadjies gesien en wou in hul voetspore volg.”

GROEN-EN-GOUD: Joslin Ontong, in Saru-gewaad, agter tweede van regs. Foto Verskaf

Cupido Cupido, oftewel Kiepie Zulu, legendariese afrigter van die Boland en Saru, was vol lof vir Ontong toe Son hom gister om kommentaar genader het: “As ek aan Jossie dink, kom daar net warm gedagtes en goeie herinneringe by my op. Hy was ’n fenomeen en werklikwaar enig in sy soort. Hy was ’n skitterende senter, ’n leier en ’n intelligente speler. In daai tyd was daar net een afrigter, maar hy en Kaballie het my baie gehelp deur onderskeidelik in die agterlyn en in die pak voorspelers leiding te neem. As ek Jossie vandag nog kry, is hy altyd nederig, vriendelik en respekvol.

“ ’n Fenomeen,” het hy herhaal.

Ontong geniet dit om deesdae gholf te speel en spog met ’n voorgee van 10.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters