Verlede maand
Shields glo in gelyke kanse
Hennie Shields  ~  Ian Baard

EEN van Suid-Afrikaanse rugby se top-senters van die apartheidsera is vir geen oomblik spyt dat hy met eenwording nie die eer aanvaar het om as ’n volwaardige Springbok verklaar te word nie.

Die 67-jarige oud-Protea Henry “Hennie” Shields, wat in ’n steeds verdeelde bruin rugbygemeenskap dalk nie die erkenning kry wat hom toekom nie, het onlangs Son se uitnodiging aanvaar om oor sy ervaringe te gesels.

Shields, wat in die Strand gebore en getoë is, is sy ouers, James en Elizabeth, se jongste seun van sewe kinders.

Hy sê dis danksy die Almagtige se genade dat hy sy storie van rugby kan vertel.

Hy onthou nog goed die storie van ’n moeilike geboorte.

Sy ouers het gedink hy gaan dit nie maak nie en het inderhaas die hoof van die St. George’s Anglikaanse Kerkskool, Richard Abrahams, ontbied om hom te doop toe dit lyk asof ’n siektetoestand sy lewe sou eis.

“God was my genadig, maar toe ek 12 jaar oud was, moes ek vir eerste keer kennis maak met die hartseer daarvan om ’n ouer te verloor,” vertel Shields oor sy pa se dood.

WEEPEE: Hennie Shields merk ’n Vrystaat-speler. Foto: Verskaf

Twee jaar later het Shields ook sy ma aan die dood afgestaan en vir ’n 14-jarige laitie was dit moeilik om te verwerk.

Rugby het tóé reeds gedien as uiting vir sy emosies nadat hy by familie moes gaan bly totdat hy sy skoolloopbaan voltooi en daarna as skrynwerker begin werk het.

Sy broers was net so lief vir rugby. Hy vertel met trots: “Turkey, wat vroeg oorlede is, was ook ’n lid van die Proteas se span. Daai was die eerste bruin span wat in Engeland loop toer het.

“My ouboet, James, was op sy dag kaptein van die Somerset Rugbyraad-span toe hulle nog deel van Federasie was.”

Shields vertel sy ander broers, Christopher en Gasant, was ook kranige spelers. Christopher, sê hy, was ’n kragtige stut wat vir Wesleys (deesdae die Strand-rugbyklub) in die voorry gesak het.

Gasant het ook vir die Somerset Rugbyraad-span in die SA Cup uitgedraf.

Maar hoekom het Shields nee gesê vir ’n Springbokbaadjie?

Dít veral toe daar met eenwording besluit is Saru Sacos, Federasie, die Suid Afrikaanse Rugbyraad en Suid Afrikaanse Rugbyvereniging sal saamsmelt en spelers met baadjies vereer.

Shields vertel: “Jy sal onthou ek was omtrent die nuus toe ek nee gesê het daarvoor. Ek het geweier, want ek het nooit die kans gekry om daarvoor te speel nie.

“Ek glo steeds ek moes dieselfde tyd as Errol Tobias ’n Springbok geword het, maar my uitsprake oor goed wat vir my nie reg was nie, het my verskeie kere in die pekel by die rugbyowerhede laat beland.”

Shields verwys hier na sy TV-onderhoud as lid van die Wêreldspan wat in 1979 in Durban ’n wedstryd gespeel het.

Hy verduidelik: “In ’n onderhoud op SABC se Sport­fokus op ’n Donderdagaand het ek gesê ek wil vir die Springbokspan gekies word op meriete en nie op grond van my kleur nie.

Ingegooi

“Hoewel ek vir Federasie gespeel het, beskou ek myself as iemand met ’n Saru-Sacos-uitkyk, daarom het ek verskeie kere van dr. Danie Craven en ander afrigters verskil.”

Shields sê op skool het hy nie waffers gevaar in rugby nie omdat hy volgens gewigklassifisering moes speel. Vanweë sy groter liggaamsbou moes hy speel teen kinders ouer as hy.

SWING BALL: Hennie Shields leer ’n Fransman vlieg. Foto: Verskaf

Toe hy 17 jaar oud was, het Wesleys se afrigter Suleiman Abel hom en sy sentermaat Gavin Daniels aan die diep kant ingegooi deur hulle vir die eerste span te kies.

Dis omdat die senterpaar wat hulle moes vervang het vir hul aartsvyand Ex Sholars gaan speel het.

Hy het toe die oog van die Federasie-keurders gevang en toe hy 20 jaar oud was, is hy gekies om in ’n toets teen die SA Rugbyvereniging-span te speel.

’n Jaar later, in 1974, land Willie John McBride se Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika en Shields is gekies om op die Goodwood-skouterrein vir die Proteas teen hulle te speel.

In dié wedstryd het die Leeus ’n groot terugslag beleef toe hul beste losskakel, Alan Old, se toer weens ’n besering kortgeknip is.

“Almal het gedink dit was ek wat vir Old huis toe gestuur het, maar dit was my sentermaat, Totie Cupido, wat die skade aangerig het,” skerm Shields.

NASIONAAL: Hennie Shields (vierde van links in die middelste ry) as ’n lid van 1977 se Gazelle-span vir ’n wedstryd teen SA Plattelandse Distrikte. Foto: Verskaf

Ná die Leeus het Shields ook gespeel teen die Franse, All Blacks en verskeie internasionale spanne wat in Suid-Afrika kom toer het. Hy het vir die SA Barbarians gespeel teen van die wêreld se topspelers soos die All Blacks Andy Haden, Frank Oliver en Bill Osborne. Wat plaaslike rugby betref, het die Somerset Rugbyraad van die Federasie by Saru gaan aansluit onder die leierskap van Dullah Abbas.

Shields se klub, Wesleys, het besluit om in die Federasie te bly, hoewel baie van sy spelers saam met Somerset getrek het.

Dis omdat Turkey en Willie Reeding in Engeland saam met die Proteas gaan toer het.

Hulle was daarna onwelkom in die Somerset Rugbyraad-span en het toe maar Federasie-manne gebly.

Gepryk

Dit het die gemeenskap verdeel. Selfs op skool het leerders met mekaar slaags geraak oor dié kwessie.

Shields meen: “Ek glo as hulle in die Somerset Rugbyraad gebly het, sou Saru se SA Cup maar min in ander unies se trofeekas gepryk het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters