6 maande gelede
Shafiek herleef sy dae
BESIG: Shafiek Abrahams gesels gister met Son oor sy krieketloopbaan.  ~ Theo Jeptha

IETS wat vir Shafiek Abrahams in Salt Lake se strate begin het en nie eens sy eerste liefde was nie, het toe sy grootste passie geword.

Abrahams is onlangs verkies as die waarnemende hoofbestuurder vir Krieket van die Oostelike Provinsie Krieket (EPC) en Krieket Oos-Kaap (CEC), maar weens Covid-19 kon Son ongelukkig nie met hom by die St. George’s Park-kan­tore gaan gesels nie.

Dit omdat die kantore en stadion weens die corona-virus op lockdown is.

Al was die kantore toe, het Abrahams se werk glad nie gestop nie.

Son het hom by ’n koffiewinkel ontmoet en daar was hy steeds hard aan die werk, besig om te beplan aan OP en die Warriors se toekoms.

Speel

Almal ken hom as ’n voormalige Protea- en Titan-draaibouler, maar Abrahams vertel toe hy grootgeword het, was daar meer as net krieketballe in sy ouerhuis.

“In die Abrahams-huis was daar altyd iets gewees om mee te speel, of dit ’n sokkerbal was, rugby, maak nie saak nie. Daar was net altyd iets sportiefs waarmee ons besig was. Wat ook al sport ’n mens aan kon dink, of dit nou gholf of atletiek was, ek het alles as jong seun probeer,” sê Abrahams.

GLORIE: Abrahams in aksie vir Suid-Afrika teen Nieu-Seeland in 2000.

Hy vertel die eerste sport waarin hy uitgeblink het, was sokker.

“Ek was seker so vyf jaar oud toe ek sokker begin speel het.

“Ek dink as jong seun het ek die meeste van my tyd op die sokkerveld deurgebring. Krieket was toe net iets wat ons gedurende die somer moes speel.”

Abrahams se liefde vir krieket het eers heelwat later ontwikkel, toe hy begin klubkrieket speel het.

“Dit het vir my begin by ’n klub genaamd Good Hope­. My hele familie, broers en uncles, het basies daar gespeel.

“Ek het begin score hou vir my uncles, Arshad en Ganief Abrahams, wat albei ook vir OP gespeel het. Dit natuurlik nog op die ou manier met pen en papier en dis waar dit begin het vir my.”

Die voormalige CSA high performance-draaibalafrigter sê hy is eintlik amper geforce om saam met sy uncles te gaan.

“Met dié dat ek altyd daar was en score gehou het, het ek toe later begin speel. Dit het só goed gegaan dat ek op 18 kaptein geword het van Good Hope. My uncles het toe ook nog gespeel vir die klub en dit was toe bietjie snaaks,” sê hy laggend.

Hy vertel om vir die OP-skolespan gekies te word, moes hy eers vir sy skool, Bethelsdorp speel, want die skool het ook deelgeneem aan die liga. In daardie stadium het hy egter net vir die klub gespeel.

“In my matriekjaar moes ek toe drie wedstryde vir my skool speel om proewe toe te kon gaan, maar dit was genoeg om gekies te word vir die OP en die SA Skolespan­.

En soos vir baie krieketspelers, was dit vir hom ’n groot oomblik en eer toe hy vir Suid-Afrika uitgedraf het. Tog voeg hy by om die OP-span toeka ná unifikasie te kon maak was, vir hom iets besonders.

Kortpaaie

“Om dáárdie OP-span te haal was glad nie maklik nie.

“Dit was ’n span met Kepler­ Wessels as kaptein en hy was ’n vreeslike moeilike man. Ek dink nie mense het hom altyd goed verstaan nie.

“As hy jou gevra het om iets te doen, moes jy dit dóén. Jy kan dit ook nie net met 50% of 60% effort doen nie, jy moet 120% gee. Hy was van daai tipe. Daar was geen kortpaaie nie.”

Abrahams sê weens dít het baie mense nie van Wessels gehou nie, maar hy voeg by hy meen die oud Protea-kaptein het OP se wenkultuur daai tyd begin.

JONK: Abrahams toe hy vir OP gespeel het in 2000.

Abrahams, wat ook die Warriors se high perfor­mance-bestuurder was, vertel hy het ook jare terug in Holland gaan krieket speel.

“Dit was nie soseer vir die krieket nie, maar daar het hulle nog op matte gespeel soos ons jare terug as kinders gespeel het.

“Ag, dit is waar ek bietjie grootgeword het en na myself moes omsien. Dit is ook waar ek moes leer kook het,” sê hy laggend.

Die ster van weleer sê OP se werk is nou om weer nuwe sterre uit die gemeenskap te soek.

“Ons sport in ons gemeenskap is nie meer so sterk soos toe ek jonk was nie. Dit is nie net met krieket nie, maar alle sportkodes.

“Ek het in die straat begin speel. Jy sien dit nie meer nie en dís waar die sterre vandaan gekom het.”

Omsien

Hy noem OP wil betrokke raak met ’n straatkrieketprojek om die Warriors en OP-spelers weer nader aan hulle gemeenskap te bring.

“Ek dink op die oomblik lyk dit miskien na ’n onmoontlike droom vir van die kinders, maar die droom is iets wat ons weer by ons jeug moet begin kweek.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters