Verlede maand
September is spesiaal

AS YOUNGSTER wat in Hanover Park grootgeword het, kon hy nooit tol gekap het nie.

So, hy kon nie saam speel nie en moes weghardloop omdat hy altyd wanted was.

In die Laerskool Summit wou hy altyd die skoolkampioen geklop het, maar hy het nie ’n geboortesertifikaat gehad nie en daarom is hy nie toegelaat om aan atletiek deel te neem nie.

Maar in sy laaste jaar voordat hy die Hoërskool Mountview bygewoon het, is daar egter vir hom ’n plan gemaak. En John “Seppie” September het uiteindelik die skoolkampioen geword.

September beskou Mark Jacobs, een van sy onder­wysers by Mountview, as die man wat die grootste invloed in sy lewe gehad het. Jacobs was ’n voormalige 400 m- en 800 m-atleet.

“Mnr. Jacobs het my onder sy kloue gevat en ons het saam ’n klub, Vikings, gestig,” vertel September.

“Hy het my laat hardloop en die regte pad gewys, anders sou ek net nog ’n skollie in Hanover Park geword het.

“Ek het oorkant Benni McCarthy en Jerome, sy broer, gewoon. Hulle was goeie sokkerspelers. Ek was maar ’n goalkeeper.

“Ons het saam op die sementblad gespeel. Benni-hulle het oorkant my gebly in Blinkwaterhof, terwyl ek in Lansuryhof gewoon het.

“Wanneer ons die vensters stukkend geskop het, moes ek hardloop, want ek het geweet ek gaan pak kry.

Spesialiseer

“Op skool het mnr. Jacobs my aangemoedig om middelafstande te hardloop.

“Ek het sommer baie gou ontwikkel en die Champs of Champs in die 1 500 m, die 3 000 m-hindernis en die 5 000 m gehaal. In later jare het ek meer in die 10 000 m en in die halfmarathon (21,1 km) begin spesialiseer.

“Ek het nie soseer van skool gehou nie en het baie gebunk, maar dit was atletiek wat my by die skool gehou het.

“Ek het veral aan die begin van die jaar uitgesien na die atletiek wanneer ek meegeding het teen manne soos Owen Machelm en David Scheepers van Macassar en Scottsdene.

“Mnr. Jacobs was soos ’n vaderfiguur toe ek my pa op negejarige ouderdom verloor het. Hy was ook my afrigter.

“Sy afrigting het my weg­gehou van ál die slegte elemente soos gangsterism, dwelms, drank en baie ander negatiewe dinge.”

TOEGEWYD: John September hardloop deesdae steeds mededingend in die kleure van die Itheko-atletiekklub. Foto: Brakkies Sportfoto's

September was toe ná sy Sacos-dae op ’n missie om sy tye te verbeter en een van die beste baan- en padwedloopatlete in die Westelike Provinsie en Suid-Afrika te word.

In Augustus 1994 het September in die kleure van Spartan Harriers ’n tyd van 29 minute en 6 sekondes in ’n 10 km-wedloop in Ottery afgelê.

Sy prestasie (sesde) het hom op die Suid-Afrikaanse lys van tye geplaas saam met atlete van die kaliber van Xolile Yawa en Gert Thys.

Slegs Matthews “Loop enVal” Motshwarateu (28:37), Matthews Temane (28:39), Shadrack Magotsi (29:03), Shadrack Hoff (29:04 en Adam Motlagale (29:05) was in 1994 hoër as hy geplaas.

Later het September sy 10 km-tyd verbeter tot 28 minute en 43 sekondes toe hy ’n nuwe WP-rekord in Pinelands opgestel het.

Hy het Marius Hugo-Schlechter se rekord met 11 sekondes verpletter.

Gehol

Nog ’n verstommende vertoning deur September was in 1994 toe hy die driedubbele Springbok Ewald Bonzet se WP halfmarathonrekord van 1 uur 2 minute en 53 sekondes in Bellville kafgedraf het.

September het 1:02:52 gehol in ’n wedloop wat deur Thys (1:02:41) gewen is.

“Op daai dag het ek besef ek is ’n redelik goeie atleet. Ek het met Gert Thys, die SA marathonrekordhouer, gehardloop en Ewald Bonzet se rekord oortref.”

LEGENDES: September (2977) was ’n uitstekende landloop-atleet. Foto: Gallo Images

Hy bewonder die prestasies van die plaaslike atleet Matthews Temane sowel as Haile Gebrselassie van Ethiopië op internasionale vlak, veral omdat hulle so nederig was.

Donovan Wright en Owen Machelm het saam met September die gesig van atletiek in die Wes-Kaap – en in ’n mate Suid-Afrika – verander.

Dié drie het bewys dat hulle die beste in hul onderskeie dissiplines kan wees.

Hulle het saam met die legendariese Tobias Philander die pad- en landloopwedlope oorheers.

Sodoende het hulle duisende Sacos-atlete wat nie die kans gekry het om hul talente ná 1994 ten toon te stel nie, gewys dat hulle ook onder die bestes kon tel as hulle gelyke geleenthede gekry het.

Dogter

Ná sowat 42 jaar in sy sportsoort, ding die 55-jarige deesdae steeds as ’n meestersatleet op internasionale vlak mee.

FAMILIE: John en sy dogter, Nicole, het die Comrades-marathon in 2016 saam kafgedraf.

Hy beskou dit as sy beste prestasie toe hy in 2005 in Spanje op die Wêreldbyeenkoms vir Meesters ’n goue medalje in die 10 000 m gewen het. Dit was ook ’n groot eer om die uitmergelende Comrades-marathon oor 90 km twee keer back to back saam met Nicole, sy dogter, klaar te maak.

Sy vrou, Shereen, en sy seun, Tamen, neem ook gereeld aan wedlope deel.

Hulle is almal lede van die Itheko-atletiekklub.

“Dis ’n besonderse sportsoort wat families saam kan beoefen,” sê September.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters