22 dae gelede
Rugby was Jowa se lewe
TROTS: Jowa Abrahams spog met sy Saru-kleure en ’n foto van sy spanmaats in 1968.  ~ Adnaan Mohamed

YUSUF “Jowa” Abrahams het nie net naam gemaak as ’n uiters intelligente rugbyspeler nie, hy het homself onderskei as een van die beste rugbyadministrateurs van sy era.

Die 79-jarige het laas week by sy huis in Retreat in die suidelike voorstede van Kaapstad in ’n openhartige onderhoud met Son oor sy roemryke loopbaan gesels.

Abrahams se merkwaardige rugbyloopbaan het op die ouderdom van 13 afgeskop toe hy agtsteman vir die Hoërskool Livingstone in Claremont gespeel het.

As 19-jarige het hy hom by die Violets Rugbyklub aangesluit.

Toe Violets in 1962 weens die Groepsgebiedewet ontbind het, het hy die volgende jaar aangeskuif na Primrose in die City and Suburban Rugbyunie.

Hy het voortgegaan om City and Suburban tot 1980 te verteenwoordig. Hy het Cities ook van 1965 tot 1970 aangevoer.

Sy besonderse vaardig­hede as ’n uitgeslape nr. 8 het erkenning gekry toe hy in 1968 sy buiging vir die nasionale Saru-span gemaak het.

Belange

Ná sy spelersloopbaan het hy as rugbyadministrateur betrokke geraak waar hy ’n beduidende rol in eenwording in 1992 gespeel het.

Hy vertel: “My belange in sport het op ’n baie jong ouderdom begin. Ek is in Proteaweg in Claremont gebore. My familie was baie lief vir rugby en krieket. Daar was destyds twee rugbyklubs in Claremont – Violets en Watsonians.

“My ooms en my pa het almal vir Watsonians gespeel. Ek onthou hulle het destyds vergaderings by ons huis gehou. Ons het rugby en krieket in die pad gespeel.

BOESEMVRIENDE: Dickie Conrad en Jowa Abrahams as laities saam op die rugbyveld. Foto: Verskaf

Die Nuweland-rugbystadion en -krieketstadion was net ’n klipgooi weg. Ons het ons eie straatspan gevorm met die naam van Daffodils.

“Op Hoërskool by Livingstone in Claremont was Rushdi Magiet die kaptein van die o. 13-rugbyspan. Ons kaptein op o. 17-vlak was Dickie Conrad.”

Ná skool het hy die Hewat Onderwysopleidingskol­lege in Crawford in Athlone bygewoon.

Sy amptelike senior-rugbyloopbaan het dus by Hewat en Violets begin.

Aangebring

As 20-jarige het hy as onderwyser by die Hoërskool Oaklands gewerk.

Volgens Jowa het City and Suburban ’n baie omstrede geskiedenis gehad.

Dié unie het dit voor 1960 in hul grondwet gehad dat geen Moesliem Cities kon verteenwoordig nie.

BAASBREINE: Cassiem Jabaar, Saru-legende, Jowa Abrahams en Ebrahim Rasool (Voormalige Premier van die Wes-Kaap en huidige voorsitter van die WP Rugby se sakevleuel). Foto: Verskaf

Cities was ook destyds aan die SA Rugby Federasie geaffilieer. In 1965 het Cities by Saru aangesluit.

“Mense soos Ben Groepes, onder andere, het baie veranderinge aangebring.

“Ek was dus die eerste kaptein van die Moesliemgeloof wat Cities aangevoer het. Ek het baie trotse oomblikke met Cities gehad.

“Die taaiste kragmetings was teen die WP op die Green Point Track. Ek dink nie geloof het so baie van ’n rol gespeel nie. Daar was maar altyd intense rivalry tussen die twee unies.

“Die rugby is hard gespeel, met spelers wat dikwels geniepsig was.

“Agterna was ons egter die beste van vriende.

“In 1967 het Cities die Rhodes Cup gewen. In 1968 was drie van ons uit die geledere van Cities in die Saru-span gekies. Dit was Gerard Peters (van die Lansdowne Rugbyklub), wat laas week afgesterf het, ek en Okkie Morkel (van Hewat en Universals). Die Saru-span is deur Salie Fredericks aangevoer, met Gerard as die onderkaptein. Clive Sharp van Transvaal was die bestuurder.

Verlof

“Ons het destyds nie ’n afrigter gehad nie omdat Saru nie geld gehad het nie. Ons moes in twee Kombi’s na die game reis. Ons het Vrydag in Port Elizabeth aangekom en moes die Maandagoggend weer terug by die werk wees.

“Jy moes dus die Vrydag vir spesiale verlof aansoek doen. Die game is in die Isaac Wolfson-stadion in New Brighton in Port Elizabeth gespeel.”

In 1963 was Jowa die eerste sekretaris van Prim­rose. Dis ’n posisie wat hy baie jare gehou het. Hy het daarna voorsitter en president van die klub geword.

SPANWERK: Jowa Abrahams (middel) het die suksesvolle Primrose-rugbyspan jare lank aangevoer. Foto: Verskaf

Die prestasie waarop Abrahams die trotsste is, is toe hy in 2012 die toekenning van Primrose gekry het vir sy lewenslange diens aan rugby.

In 1980 is Jowa aangewys as die bestuurder van Cities.

Hy was ook die eerste persoon in Saru-geledere wat in 1983 as die direkteur van rugby van die City and Suburban Rugbyunie aangestel is.

In 1994 was hy die bestuurder van die SA World Rugby Classics-span wat internasionale wedstryde teen spanne soos Nieu-Seeland, Engeland, Australië, Frank­ryk, Ierland, Wallis en Skotland in Bermuda gespeel het.

“Dit was die eerste nie­rassige span wat oorsee gaan toer het. Spelers soos Aslam Toefy, Aubrey Poggenpoel en Desmond Booysen het saam met spelers soos Divan Serfontein (die kaptein), Nick Mallett, Burger Geldenhuys en Vleis Visagie in een span gespeel.”

Ná eenwording het Abrahams lank op die WP Rugbyunie se raad gedien.

Hy het ook ’n toekenning van die WP ontvang vir sy lewenslange bydrae tot rugby. As 70-jarige kon hy nie verder op die WP se raad dien nie.

In 2012 is hy ingehuldig as ’n lewenslange lid van die WP Rugbyunie. So, ’n mens kan sê hy het ’n lewenslange loopbaan as rugbyspeler en administrateur gehad.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters