17 dae gelede
Rugby kom eers later
VANDAG: Gary Boshoff soos hy deesdae lyk.  ~ Foto Verskaf

GARY Boshoff werk deesdae by die Stellenbosch Munisipaliteit, maar in die 1980’s het hy hom onderskei as een van die beste slotte in Sacos-geledere.

Boshoff het vir die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), Tygerberg en Boland uitgeblink en ook in 1984 die hoogste sport bereik toe hy vir die Saru-span gekies is. Hy het gister saam met Son ’n terugblik oor sy lewe en loopbaan geneem.

Boshoff sê sy wortels is in die Overbergse dorp Caledon geanker.

“Ek is in 1963 in Caledon gebore. Ek was ’n laatlammetjie en my broers het almal by Progress gespeel en voor hulle het my pa ook gespeel.

“Rugby was baie gewild in Caledon, maar snaaks genoeg was ek nie dadelik versot op die spel nie.

“Ek het altyd saam met my pa en broers gaan kyk, maar was meer aangetrokke tot krieket.

“Soveel so dat ek gedroom het daarvan om vir die WP krieket te speel.

Matriekjaar

“Jy kan jou natuurlik self indink hoe groot die druk was om rugby te speel, maar ek was in daai stadium glad nie ’n noemenswaardige speler nie.

“Ek het eintlik maar net in my matriekjaar ’n paar wedstryde vir Swartberg Hoërskool se eerste span gespeel,” vertel hy.

Boshoff het Caledon in 1981 verlaat om hom akademies aan die UWK te bekwaam. Hy het ’n staatsbeurs ontvang en was so vasbeslote om ’n sukses van sy studies te maak dat hy hom eers in sy vierde jaar beskikbaar gestel het vir provinsiale keuring.

Hy onthou: “Ek het by my aankoms by UWK in 1981 vir die eerste ses maande glad nie aan sport deelgeneem nie en net op akademie gekonsentreer. Ek het my toe by UWK se rugbyklub aangesluit. Ná twee wedstryde in die tweede span is ek opgeroep na die eerste span.

“Harry Abrahams, oftewel Mr A, was ons afrigter en manne soos Ronnie Korkee en Eric Sauls was my spanmaats. Julian Smith was ook betrokke by die klub. So, ons was nogal ’n indrukwekkende span.

“Ek was egter so gefokus op my studies dat ek myself vir die eerste drie jaar nie beskikbaar gestel het vir provinsiale rugby nie.”

STORMLOOP: Gary Boshoff sit op loop teen WP. Foto Verskaf

Boshoff sê hy het ook meer polities bewus geword in sy dae by UWK.

“In Caledon was my pa en broers almal lede van Progress, wat onder die vaandel van Federasie gespeel het en ek was aanvanklik een van die voorpraters van Federasie teenoor Saru.

“Dit was egter ’n waterskeiding vir my toe ek by UWK kom en blootgestel word aan ’n alternatiewe politieke realiteit en om diverse perspektiewe te verstaan oor wat destyds in ons land aangegaan het.

“Daarna was daar nie omdraaikans nie en ek het die Saru-benadering tot die politiek en sport aangeneem en ondersteun en dit het sedertdien niks verander nie,” sê hy reguit.

Hy sê voorts dat hy in sy dae by Tygerberg baie by Pieter Jooste geleer het. “Mr A het my toe vir Tygerberg gekies en Pieter Jooste het my dadelik onder sy vlerk geneem.

“In daai stadium was daar niemand groter of beter as Piet Jooste nie en ek was geëerd om sy slotmaat te wees. Ons het eers teen mekaar in die klubkompe­tisies gespeel waar hy as 32-jarige my basies as 20-jarige groentjie rondgestoot het. Maar ek het groot respek vir hom gehad.

“Hy en manne soos Ronnie Korkee, Terrence Dean en Havelin Walker was inderdaad manne na wie ek opgekyk het. Dit was die perfekte leerskool vir ’n jongeling soos ek.”

Boshoff het ook vertel van ’n veelbesproke voorval teen WP in 1988.

“Die wedywering daai jare tussen veral WP, OP en Tygerberg was baie fisiek en soms gewelddadig. Ek is geteiken deur hulle aangesien ek baie balbesit gewen het in die lynstane.

Geopereer

“Ons het ’n lynstaanbal gewen en die bal was al by ons losskakel toe ’n opponent my met die kop stamp en my wangbeen en oogbank kraak.

“Ek moes die veld verlaat en is later die aand geopereer.”

GROEN EN GOUD: Gary Boshoff, vyfde van regs agter, in die Saru-span. Foto Verskaf

So, weet hy wie die kopstamper was?

“Ja, ek weet wie dit was,” sê hy laggend. “Ons het mekaar net voor die kopstamp in die oë gestaar, maar ek dog toe dis dit.”

Boshoff het ná eenwording steeds vir UWK gespeel en later die direkteur van sport geword. Hy het in 1999 die uitvoerende hoof van die Bulle geword.

“Die koerantplakkate op die pale het gelees: ‘Bruine nou hoof by Bulle’. So, ek was uit die staanspoor onder druk,” lag Boshoff.

Hy is deesdae direkteur van gemeenskapsdienste by die Stellenbosch-munisipaliteit en doen ook kommentaar vir SuperSport. Hy is getroud met Charleine.

Hulle het twee dogters, Sinead en Kirstin.

RANK: Gary Boshoff bemeester ’n lynstaanbal teen Kwaru. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters