Verlede maand
‘Popeye’ ’n ware leier
TROTS: Ebrahim “Popeye” Rinquest met sy Springbok-baadjie en die Saru- en WP-wapens van die spanne wat hy oor die jare verteenwoordig het.  ~ Adnaan Mohamed

EBRAHIM “Popeye” Rinquest, die oudste lewende Saru-kaptein, se eerste Saru-blazer was net ’n groot stuk groen lap.

Dié 85-jarige het vandeesweek in ’n onderhoud met Son uit sy bed in Woodstock vertel hoe hy die destydse WP-span gehaal het en aangegaan het om die Saru-span te verteenwoordig en uiteindelik aan te voer.

“Ja, dit was ’n ongelooflike eer om my WP- en Saru-klere te verwerf. Ek onthou destyds het hulle jou nie ’n blazer gegee as jy die span haal nie. Jy het net ’n badge en ’n groot stuk groen lap gekry.

“Jy moet dan jou eie tailor kry om jou baadjie te maak. Ek onthou die tailors het onder mekaar baklei om ’n WP- of Saru-speler se baadjie te sny, omdat hulle dit as ’n groot voorreg beskou het.”

Rinquest het egter nooit syne laat maak nie. Hy het sy kleinseun Aashiq Majiet gevra om die stuk groen lap uit die kas te gaan haal – en sy Springbok-baadjie wat hy in 2013 op ’n spesiale geleentheid vir oud-Bok-kapteins van SA Rugby ontvang het.

Rinquest het die Bok-baadjie aangetrek en die stuk groen lap voor hom op die bed oopgemaak.

“Hierdie lap is meer as 50 jaar oud. Dit bring baie goeie herinneringe van my speeldae. Ek het in 1949 op die ouderdom van 13 jaar begin speel.

“Meneer Effendi was een van my onderwysers by die Laerskool Chapel Street in Distrik Ses. Hy het my geleer om rugby te speel en die grondslag gelê vir my loopbaan. In dieselfde jaar het ek juniors vir Caledonian Roses gespeel en later vir die Crusaders en Hamediehs uitgedraf.

“Ek het eers begin sokker speel in Groenpunt. My eerste keer op die sokkerveld het ek ’n jong seun se been stukkend geskop. Ek is toe lewenslank uit sokker geskors.

“Meneer Effendi het vir my gesê sokker is nie vir my nie. Hy was ’n great coach van alle sportsoorte en het my aangeraai om eerder al my aandag op rugby toe te spits en dit is waar my rugbyloopbaan begin het.”

LEIER: Popeye Rinquest (links bo) was die kaptein van ’n sterbelaaide WP-span. Foto: Verskaf

Die Rinquest-familie het ’n lang verbintenis met die Hamediehs Rugbyklub wat in 1895 gestig is.

Sukses

“My oupa was ’n ondervoorsitter van Hamediehs in 1932 toe die span vier Rinquest-broers in sy geledere gehad het.

“Ek het Hamediehs vir baie jare aangevoer en later ook die span afgerig. In my tyd het Hamediehs die WP-liga baie kere gewen. Ondanks Hamediehs se sukses was ek egter die enigste speler wat die WP-span gehaal het.”

In 1956 het Popeye as 21-jarige stut vir die eerste keer die WP-span onder die kapteinskap van Noortjie Khan van Roslyns verteenwoordig. In 1957 het hy vir die seëvierende WP-span in die Rhodes Cup in Kimberley gespeel.

“Ek is toe vir die Saru-span gekies. In 1965 is ek aangestel as kaptein van die Saru-span. Ek beskou dit as ’n besondere voorreg om saam met spelers van die kaliber van die agtsteman Ismail ‘Fatty’ Bohardien, die skrumskakel LB Blanchard, Mogamad ‘Kakvoet’ Theunissen (heelagter) en Manie Taliep (senter) te kon speel.”

Rinquest was aanvanklik ’n veelsydige agterspeler wat senter en heelagter kon speel. Hy het later op die flank uitgedraf.

Dit is egter op stut waar hy naam gemaak het. In die voorry moet jy uiteraard baie sterk wees. Die strokieskarakter Popeye was veral bekend vir sy sterk voorarms wanneer hy spinasie geëet het.

ERFENIS: Popeye Rinquest het in 2017 saam met sy kleinkinders die Springbok Experience Rugby Museum besoek. Foto: Verskaf

Rinquest was nie net bekend vir sy ongelooflike krag nie, maar hy het ook ’n besondere skrumtegniek gehad. Dit kan waarskynlik wees waar sy bynaam Popeye vandaan kom.

Volgens hom is hy dié bynaam gegee oor hoe hy sy een oog toegeknyp het wanneer die son direk in sy gesig geskyn het.

Maar Rinquest se mede-spelers beskryf hom as ’n baie beskeie persoon en die ander Saru-legendes wat by Son se besoek aan Rinquest teenwoordig was, het toe die waarheid agter die bynaam onthul.

Oordonder

Die oudspelers sê Rinquest se reputasie as stut was altyd om van meet af sy stempel in die eerste skrum af te druk.

Hy het nie net sy opponent fisiek oordonder nie, maar sommer in die eerste skrum met ’n blitsvinnige opstopper gewys wie is baas.

En dís hoe die naam Popeye eintlik ontstaan het.

GESKIEDENIS: ’n Koerant-uitknipsel van 1964. Foto Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters