Verlede maand
Pniël amper sonder ’n toolbox

IN DIE 1980’s en ’90’s was daar in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru, Sacos) se geledere, net een “Toolbox” nodig om enige probleem op die veld te fix.

En die man wat dié gewigtige bynaam gedra het, was Pniël Villagers se Trevor Adams, ook bekend as Toelies.

Dié kranige sportman wat in rugby en krieket sy merk gemaak het, het in die nr. 2-trui vir Pniël Villagers kop en skouers bo ander uitgetroon.

Hy was sonder twyfel een van die beste spelers wat dié klub opgelewer het.

Daar is min wat nie vir Uncle Trevor ken nie.

Son het vandeesweek by dié legende gaan besoek aflê in Pniël, waar hy sy hele lewe lank bly.

Toolbox het nie net vir sy klub uitgeblink nie, hy was ’n staatmaker vir die Paarl-Unie, Boland en Saru.

Reserwes

Hy het in 1990 die eerste keer vir die Saru-span uitgedraf en was saam met nog ’n legende, Denzil Domoney, die hakers in die groep.

Adams was wel tussen 1987 en 1989 lid van die Saru-groep, maar in daai taai jare was die reserwes mos maar net daar ingeval iemand in die beginspan dalk seerkry.

“Ek weet selfs nie presies waar die bynaam Toelies vandaan kom nie,” het Adams laggend vertel terwyl hy agteroor in sy stoel sit en uitkyk oor die pragtige vrugtebome in sy agterplaas.

“Ek dink dis omdat ek op skool altyd in die nr. 2-trui gespeel het. As die ou manne so dominoes gespeel het, het hulle altyd die nommer twee die ‘toolbox’ of sommer ‘toelies’ genoem.

“So, dit is waarskynlik waar die naam vandaan kom.”

Adams het sy hele klubrugbyloopbaan net vir Pniël Villagers uitgedraf en in die afseisoen was dit krieket wat sy aandag gelok het.

Die 62-jarige afgetrede hardewarebestuurder praat met groot lof van sy dorp en die sportklub se geskiedenis.

Maar Adams het verduidelik dat dit so amper was of Pniël Villagers het nooit ’n ‘Toolbox’ in sy geledere gehad nie.

Daar was een aand voor ’n groot wedstryd ’n spanpraatjie en die gasspreker by die aangeleentheid was Danie Craven.

Teleurstelling

Dít het Adams, wat toe nog nie sy buiging as senior vir sy geliefde Pniël Villagers gemaak het nie, diep ontstel.

“Ek was diep teleurgesteld in ons klub se bestuur toe ek hoor dat Danie Craven die manne gaan kom toespreek.”

En soos Toolbox oor dié aand gesels, kan die teleurstelling steeds in sy stem opgemerk word.

“Wat my selfs meer upset het, was die feit dat daar geleerde manne onder ons spelers was, wat gaan luister het na dáái man.

“Ek was nog jonk, maar dit het my nogal baie hartseer en kwaad gemaak.”

Toelies het toe ’n kruispad bereik en hy moes haastig ’n besluit neem. Hy moes besluit of hy wou aanhou om rugby vir Pniël Villagers te speel of aanbeweeg na ’n ander klub.

Dit was sy ma wat hom oortuig het om “dit maar nog ’n kans te gee”.

Toelies verduidelik verder: “Ná daai event, of what­ever jy dit wil noem, het ek besluit ek is klaar met Pniël Villagers. Dít was hoe ek in die huis daaroor gesels het.

“My pa het ’n spesiale manier gehad om ons te motiveer. Al wat hy op daardie tydstip vir my gesê het, was: ‘Speel net rugby en doen wat jy dink goed is vir jou sport.’

“Maar dit was my ma se woorde wat my twee keer laat dink het om Pniël Villagers te verlaat en vir ’n ander klub te gaan speel.”

Soos in baie van die Saru-spanne is die haker maar altyd gesien as die vierde losvoorspeler. En met dit het Toelies tussen haker en flank gewissel vir Pniël Villagers en die Raad-span.

Vir die Saru-span het Adams op haker uitgedraf en gespeel saam met manne soos Gerald Carolus, Mervyn “Outyd” Samuels, Aubrey Manus, Riedoh Allen, Brother Khan, Bruce Julie, Salie Khan, Jumbo Neer, Sedick Gallant, Kevin de Blique, Hassiem Hendricks, Bertie Saal, John Gordon en Denzil Domoney.

Elmar Kruger, Adams se voorganger by Pniël Villagers, het die nr. 2-trui van Saru ’n gesogte een gemaak.

En so gepraat van hakers. Adams onthou die meerderheid van sy mede-hakers in die Saru-era het vir Les Bleus, die Franse span, geskree.

“Jong, ek weet nie of dit hul flambojante speelstyl was en of dit maar net die name was nie, maar iets oor die Franse se rugby het Saru-hakers altyd aangelok,” vertel Adams.

En so tussendeur haal hy sy gesigsmasker met die Franse Rugbyunie se logo daarop uit sy sak.

“Ek lag altyd so saam met die manne as ek hulle kry en ons gesels oor ‘onse Franse span’. Dit moet maar seker net ’n ding onder die hakers wees, ek weet nie.”

Adams swaai ook groot lof toe aan die skrumskakels met wie hy gespeel het. Dit sluit in Allister Coetzee, Ronnie Korkee, Peter de Villiers en Roger Lekas.

Manier

Volgens Adams is daar een spesifieke wedstryd wat hom nóú nog uit die slaap hou.

“Ek het altyd baie respek vir ’n goeie scrumhalf gehad. Allister (Coetzee) was een van die bestes. Hy het ’n manier gehad om die game op sy kop te draai met net een move, maar vir my was Ronnie die taai een, jy weet, die bull terrier.

“Met Ronnie kon jy oorlog toe gaan. Jy weet, daar is een wedstryd wat my nogal baie pla. Pniël het op City Park teen Gelvan Wallabies in ’n Top 8-eindstryd gespeel en voorgeloop toe die tyd al verstreke was.

“Allister het om die ruck gehardloop en die wing, dink ek, weggestuur om te gaan score. En daar wen hulle die final. Ek het daai dag baie respek gekry vir hoe sterk Wallabies se veggees was.”

Die Boland se sege (9-6) in die 1988 SA Cup final teen die WP in die Athlone Stadium bly een van Adams se beste oomblikke in rugby.

Met Kabalie Davids as kaptein het die Bolanders die sterbelaaide WP-span ore aangesit.

“Dit was ’n baie, baie goeie span. Dié oorwinning en oomblik is iets wat ek vir ’n baie lang ruk sal onthou,” het Toolbox gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters