3 maande gelede
Paarwater was pure kookwater

JEROME Paarwater moes dinge in sy rugbyloopbaan deurmaak wat ’n mens nie eens jou vyand sal toewens nie.

Die losvoorspeler is in sommige kringe in die bruin gemeenskap as “ ’n wit boetie en verraaier” uitgekryt, sy kar is moedswillig geskraap en hy moes selfs aan die “Federasiekant” van die kerk sit.

Aan die ander kant is hy deur ’n wit rugby-fan met ’n bierbottel gegooi en gevra om “weg te bliksem, want jy hoort nie hier nie”. Hy moes selfs eendag vir die AWB ’n U-turn maak.

Son het gister via Zoom saam met die begaafde losvoorspeler gepraat oor sy loopbaan – eers as speler vir die WP-liga en die WP en later as afrigter van verskeie spanne.

Die nou 53-jarige Paar­water het in Bellville-Suid grootgeword.

“Ek is in 1966 gebore en ek het as sesjarige kaalvoetseun begin rugby speel.

“My pa het destyds die rugbyklub in Bellville-Suid begin. Al ses my broers het ook gespeel. My ma, Rosina, was ook baie betrokke by die gemeenskap, soveel so dat die Rosina Paarwater-stadion na haar genoem is.”

Hy sê hy het by die Bell­ville-liga deur die ranks gekom voordat hy as jongeling vir die WP-liga gekies is.

Saamgestem

Hy sê hy het as tiener ál meer bewus geword van die politieke onrus in die land, wat in daai stadium in die middel van die apartheid-era was.

“Ja, ek was bewus, veral op hoërskool. My pa en my broers het nooit saamgestem met apartheid nie.

“Ons het aan sport deelgeneem. Jy wou jou altyd teen die beste meet en jy wou teen almal, wit, bruin en swart, speel. Elkeen het ’n standpunt ingeneem en dit was ons standpunt.”

Charles Williams, een van Paarwater se afrigters destyds by die WP-liga en later by die SA Ontwikkeling-span, beskryf hom as ’n balvaardige en intelligente speler.

“Jerome het by die WP-liga en Federasie se junior sisteem deur die ranks gekom.

“Hy was ook lid van die WP-liga-span wat die Sport Pienaar-beker in 1990 gewen het.

“Hy was later, in 1994, my kaptein van die Ontwikkelingspan wat na Brittanje getoer het saam met manne soos Garry Pagel en Pieter Rossouw, wat later Bokke geword het.”

Paarwater is in 1989 vir die eerste keer vir die WP gekies. Hy het in die Currie- en Lion-beker gespeel.

“Dit was een van my groot oomblikke destyds, veral omdat ek ’n lang tyd die enigste gekleurde voorspeler in die Curriebeker was. (Spelers soos Wilfred Cupido en Christie Noble het in die agterlyn gespeel.)

“Ek het hard gewerk om my doelwitte op so ’n jong ouderdom te bereik. Ek vermoed Dawie Snyman (WP-afrigter) sou my nie eens gekies het as hy geweet het hoe jonk ek was nie.

“Hy het toevallig eendag ná ’n TV-game teen Vrystaat op Nuweland gehoor een van die kommentators wens my met my 22ste verjaardag geluk. Manne soos De Villiers Visser, Carel du Plessis en Calla Scholtz was almal 10 jaar ouer as ek.”

Met eenwording in 1992 was Paarwater ’n wyle in die Springbokspan.

Hy verduidelik: “Daar was ’n vergadering van die Springbok-keurkomitee, het ek gehoor, en ek was glo ’n paar sekondes in die span, maar hulle (die keurders) het my toe weer uitgehaal.

“Dit sou vir my die cherry op die koek gewees het om saam twee van my beste pelle, Tinus Linee en Chester Williams, vir die Bokke gekies te word. Dit was dalk te vroeg daai tyd vir ’n gekleurde Springbok-voorspeler,” meen Paarwater.

Hy het in 1994 in Italië gaan speel en hom daarna as afrigter bekwaam. Hy het in Italië afgerig en by sy terugkeer ook by Boland, die Stormers, Opkomende Bokke, Kenia en die WP. By laasgenoemde speel hy ’n beduidende rol in afrigting, die strukture en die afrigting van afrigters. Hy is ook die hoofafrigter van WP in die SuperSport Challenge.

Hy vertel ook van ’n tyd dat hy moes standpunt inneem. “Ek en Kobus van Wyk is as afrigters van die Stormers gefire, maar ek het vyf minute ná daai meeting teruggedraai en kapsie gemaak. Ek het hulle gesê hulle het my uit Italië uit laat terugkom en kan my nie afdank omdat ek nie die hoofafrigter was nie.

“Ek sê toe dat ek die o. 21-span na die titel sal coach. As ek daarin faal, sal ek loop. Ons het daai jaar teen Boland die final gewen,” onthou hy trots.

Louis de Villiers, veteraan-rugbyskrywer, sê Paarwater was ’n uitstekende flank. “Hy was rateltaai en vinnig en hy het goeie ball skills gehad.

Beskryf

“Ek het hom op toere as mens leer ken. Dit het my net meer van hom laat hou.”

Paarwater beskryf Cupido en Pompies Williams as die beste spelers saam met wie hy gespeel het, en die Bokke Quinton Davids en Dale Santon as die beste spelers wat hy afgerig het. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters