4 maande gelede
Nazeem die vuurvreter
GENTLE GIANT: Nazeem Moerat pronk in sy Saru-gewaad.  ~ Salmaan Moerat

DIE Vineyards-rugbyklub in die Paarl is bekend as ’n klub wat nie terugdeins vir enige iets nie. As jy teen Vineyards te staan kom, kan jy maar weet dit gaan gerook gaan, soos menige teenstander jou sal vertel.

Nazeem Moerat, voorma­lige vuurvreter-flank van Vineyards­, die Westelike Pro­vinsie, Boland en Saru, is een van ’n horde broers, neefs en ooms wat dié familie-klub met onderskeiding ver­teenwoordig het.

Son het gister telefonies gesels met die 58-jarige Moerat, wat vandag ons held van toeka is.

Hy sê die rugbybloed vloei al van kleins af deur sy are.

Geplant

“Ek het maar vandat ek kan onthou altyd Saterdae langs die rugbyveld deurgebring. Die motivering het maar altyd van my ouers se kant gekom. My ouers en ooms het daai saadjies in ons geplant. Vineyards is maar deel van my, al vandat ek kan onthou. Dit was vir my altyd opvallend hoe gelukkig ons mense Saterdae was ten spyte van dit wat aan die politieke front gebeur het.

“Dit was van toe af my verlange om my ouers gelukkig en trots te maak.”

Hy het eers op hoërskool by Noorder-Paarl begin speel.

“Ek het so bietjie juniors vir Vineyards gespeel, maar het in die laat 1970’s by NP as ’n belowende flank ontpop.

“Ek het later begin eerste span speel vir Vineyards. Ons was ’n goeie span.”

PUNTE! Moerat druk ’n drie vir die WP. Foto Verskaf

Moerat is reeds op 18-jarige ouderdom vir die Westelike Provinsie gekies en het vroeg reeds sy merk op provinsiale vlak gemaak. Hy sukkel bietjie om die datums te onthou, maar noem een van die hoogtepunte van sy loopbaan is toe Vineyards in die middel 1980’s die Boland Top-8 teen Worcester Villagers op Esselen Park gewen het.

“Hulle het great spelers soos Kalla Josephs, Joslyn Ontong en Christie Noble in hul geledere gehad. Dit was boonop ’n goeie pak slae,” onthou hy laggend.

“Ek was bevoorreg om in my tyd saam én teen skitterende spelers te speel.

“Randy Marinus, Kalla, Jos­lyn en Christie was baie goeie senters. Silvin Isaacs kon van enige plek af oorgeskop het. Ek het ook groot respek vir Makhaya Jack.

“Daar is so baie en ’n mens is altyd bang om name uit te laat. Ek het ook onder manne soos Millin Pietersen en Kiepie Zulu gespeel, wat uitstekende afrigters was, terwyl manne soos Randy, Kaballie en Peter Jooste goeie kapteins was.”

UITBLINKER: Koerant-uitknipsel uit die 1980’s. Foto Verskaf

Moerat is weer gereeld in die paviljoen op Nuweland noudat sy seun, Salmaan (22), ’n uitblinker vir die Stormers is.

Die slot is ’n gebore leier en het reeds die SA Skole-span én die Baby Boks met onderskeiding aangevoer.

Moerat senior is baie trots op sy seun en sê: “Ek’s natuurlik baie trots op wat hy tot dusver vermag het. Hulle kry vandag die kanse wat ons nooit gehad het nie. Hy moet die beste daarvan maak.”

SARU: Moerat is sewende van links agter. Foto Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters