5 maande gelede
Najaar was wonderbaar
TROTS: Riyaadh Najaar spog met al sy bekers wat hy oor die jare vir sy prestasies verower het.  ~ Adnaan Mohamed

RIYAADH “Arab” Najaar sal nie net onthou word vir sy ongenaakbare spel op die rugbyveld nie.

Dit is ook sy invloed as ’n mentor, opvoeder en leier van formaat wat hom so ’n besonderse persoonlikheid maak.

Die 65-jarige sê dit het alles vir hom op laerskool begin – by Muir Street in Distrik Ses.

Hy vertel: “Ek het daar ’n bietjie rugby gespeel en junior rugby vir die Roslyns-rugbyklub.

“Op hoërskool, by Harold Cressy, het ’n onderwyser, Isgak Abrahams, my rugbytalent raakgesien.

“Ek het die WP Skolespan gehaal en die heel eerste SA Skolespan, wat dieselfde jaar in Kimberley gaan speel het.”

Ná skool het hy sy senior rugby vir Watsonians op Green Point Track gespeel.

Daarna het hy die Hewat-opleidingskollege in Ath­lone bygewoon om onderwys te studeer. Daar was hy die kaptein van Hewat en hy het in 1975 vir die eerste keer die City and Suburban-rugbyunie se span gehaal.

Sy eerste game vir Cities was teen Sentraal-Karoo.

Daarna het hy hom by die Primrose-rugbyklub aangesluit. Hy was baie jare kaptein van Primrose voordat hy ook City and Suburban aangevoer het.

Eenwording

In 1988 het Najaar aangesluit by Violets, wat in die Westelike Provinsie Rugbyunie gespeel het.

In 1989 was hy ’n lid van die span wat die SA Cup final teen Tygerberg op Green Point Track gewen het.

BOBAAS-BREIER: Najaar (bo in die middel met baadjie) toe hy destyds die WP Skolerugbyspan afgerig het. Foto Verskaf

Met eenwording in 1992 was hy ’n player-coach by Violets.

Hy het in 1994 sy stewels opgehang, maar hy het aangehou met afrigting.

Oor sy bynaam, Arab, sê Najaar: “My pa is oorspronklik afkomstig van Saoedi-Arabië.

“Hy het Arabiese kleredrag in Distrik Ses gedra.

“Dit is waar ek die bynaam Arab opgetel het.

“Dit het my hele lewe lank met my gebly.

“Baie mense in die sportgemeenskap weet nou nog nie eens wat my regte naam is nie.”

Arab het hom op die hoogste vlak onderskei teen gedugte teenstanders soos Salie “Lippe” Fredericks, Yusuf “Touch” Davids, Ebrahiem “Bollie” Ganief (WP), Pieter Jooste (Tygerberg) en Percy Kleintjies (Boland), Stag Mitchell (OP) en Kalilie Arnold (Somerset Board) onder andere.

“Hulle was almal roem­ryke opponente wat formidabele slotte was. Ek het dit baie geniet om met hulle kragte te meet.”

Twee spelers wat vir Najaar uitgestaan het as uitstekende veelsydige sport­sterre, was Edgar Siljeur van SWD en Saait Magiet van City and Suburban.

“Edgar was destyds my spanmaat by Hewat. Hulle was albei befaamde veelsydige sportpersoonlikhede met ongelooflike talent in rugby en krieket.”

KRAGMAN: Najaar in aksie vir City and Suburban teen die Oostelike Provinsie. Foto Verskaf

Najaar het ook mense soos Jowa Abrahams, Gerard Peters, Charlie le Roux by Cities en Salie Fredericks en Cassiem Jabaar by WP uitgesonder as mentors wat ’n groot impak in sy lewe gehad het.

Najaar het nie net as speler vir homself naam gemaak nie, hy het ook as afrigter sy stempel afgedruk.

“As onderwyser was ek maar nog altyd betrokke by die afrigting van rugby. Ek was ’n paar jaar die WP Skole-afrigter.

“Ek onthou Fagmie Solomons (die legendariese Saru-losskakel) was ’n lid van die eerste WP-span wat ek gecoach het. Die span was gelaai met spelers wat dit later groot gemaak het,” sê hy trots.

“By Violets het ek spelers van die kaliber van onder andere Nadir Isaacs, Faiek Davids, Faizel Hugo, Taureq Britton en Bollie Ganief afgerig. Ek het die voorreg gehad om saam met hulle te speel en te coach.”

Najaar was ook jare lank die hoof by die Hoërskool Spine Road in Mitchells Plain. Hy het nie net bekendheid verwerf vir sy uitmuntende akademiese prestasies nie, hy het ook heelparty sporthelde ontgin.

KOM HIER! Najaar spook met Pieter Jooste van die Tygerberg-rugbyunie om besit van die bal. Foto Verskaf

Ná eenwording het die skool Springbokke soos Dale Santon en Norman Jordaan opgelewer.

“Dale was ’n uitstaande aggressiewe voorspeler, terwyl Norman ’n skrumskakel en senter was. Albei van hulle het Springbok-kleure verwerf. Hulle is tot vandag by die skool betrokke.

“Dale het die eerste tjek wat hy as ’n beroepsrugbyspeler verdien het aan die skool geskenk om die gimnasium daar te voltooi.

“Nadat Norman teruggekeer het van beroepsrugby speel in Frankryk, het hy by Spine Road kom onderwys gee.

“Baie van die oudleerders het teruggeploeg in hul ou skool. Dit is baie bevredigend.”

Najaar hou hom deesdae besig met sy stokperdjie as ’n pigeon fancier. Hy is al meer as 50 jaar besig met renduiwe.

Vrede

“Ek het nog altyd duiwe by my huis gehad. Die mensdom kan by duiwe baie leer van lojaliteit en liefde. Duiwe is ongelooflik lojaal en hulle sal alles doen om by hul tuiste uit te kom.

“Die duif is ’n simbool van vrede. Wanneer jy in ’n stresvolle job is, is dit nice om huis toe te kom na iets wat jou daardie ongevraagde liefde betoon. Daar is baie morele lesse wat van hulle geleer kan word.”

WENNERS: Clive Thomas en Najaar deel hier die Top 8-beker. Foto Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters