8 maande gelede
’n Vleuel met flair en vlerke
IN AKSIE: Amsterdam gaan op loop in ’n stryd teen die OP.  ~ Foto Verskaf

“FRED ‘GT’ Amsterdam praat nie sommer oor homself nie,” is ek gewaarsku toe ek bekend maak dat ek ’n onderhoud met die legen­dariese SWD- en Saru-vleuel wou voer.

Maar ek was vasbeslote om te dié eersteklas-vleuel se storie te hoor.

Gelukkig kon ek die nou 57-jarige carpenter van Mosselbaai Woensdag vastrek en met hom oor sy reis gesels.

“Man, ek dink die rugbygogga het my by Diaz Primêr gebyt,” val hy weg. “Ek was nog in sub B (gr. 2) toe ek SWD se o. 39 kg-span haal.

“Ongelukkig het Diaz daai tyd net tot standerd 6 (gr. 8) gegaan en ek het toe die skool daarna verlaat.

“In 1982 het ek my by die Mosselbaai-klub aangesluit. Ons was sewe jaar agtereenvolgens die SWD-kam­pioen,” spog hy.

Flair

Hy’t dieselfde jaar nog senior SWD-kleure gekry.

“Ek het my debuut in ’82 teen City & Suburban in Bredasdorp gemaak en daai dag was my direkte opponent Bernard ‘BA’ Adams. Hy was daai tyd die Jonah Lomu van die SA Cup.

“Vir my was die rugby baie goed daai tyd. Ons bruin mense het ál die tyd flair gehad en ons agterspelers het baie bôl gekry en kon baie geleenthede kry om daarmee te hardloop.

“Dit was ons sterk punt om te hardloop met die bal.

“Ons voorspelers was destyds baie kleiner as vandag.

“Ná eenwording, toe wou ons manne ook stampkar-rugby speel,” vertel hy terwyl hy, duidelik baie ontspanne, skater van die lag.

Ek wonder waarvandaan die bynaam GT kom en hy lag weer en vertel: “Ek het hom hier by Diaz gekry omdat ek so vinnig gehardloop het.

“Juffrou Abrahams het my so gedoop omdat ek kon motor soos ’n kar. Ek het uitgeblink in atletiek ook voordat ek my heeltemal op rugby toegespits het.”

So, wie het GT destyds harde bene laat kou?

“Ek sou sê Desmond Booysen en Desmond Kramer, destydse OP-vleuels. Maar iemand wat definitief ’n handvol was, was BA omdat hy so groot was. Hy was groot, maar ek was weer baie rats en vinnig, so dit was ’n goeie tweestryd.

“Ek was ’n stepper wat my opponent wou klop of flous met my spoed, vaartversnelling en aftrap. Ek het ook altyd ’n goeie cross kick gegee vanwaar my spanmaats baie drieë gedruk het.

“My dekverdediging was ook nie te versmaai nie,” onthou Amsterdam.

GROEN-EN-GOUD: GT is tweede van regs in die middelste ry. Foto: Verskaf

Hy sonder Millin Petersen, voormalige afrigter van Tygerberg en Saru, uit as een van die bestes onder wie hy gespeel het.

“Willie Jeffreys, destyds van die Mosselbaai-klub en SWD, was ook ’n baie goeie afrigter, sê hy.

“Kit Jones is iemand vir wie ek baie hoë agting het en wat dalk nie die erkenning kry wat hy verdien nie.

“Hy het my eintlik gevorm. Toe ek die skool verlaat, het hy my in sy eie tyd afgerig, touwys en fiks gemaak. Ek is hom baie dank verskuldig,” gee Amsterdam erkenning.

Rekord

Hy’t van 1988 tot 1990 die hoogste sport bereik toe hy Saru se nasionale span gehaal het – ’n hoogtepunt in sy lewe.

Amsterdam sê hy’t te veel drieë gedruk om te onthou hoeveel presies en “daar is destyds nie so deeglik rekord gehou soos vandag nie”.

MAAK ONS TROTS: ’n Koerantuitknipsel vertel die verhaal van Fred se speeltyd in Ierland. Foto: Verskaf

Hy voeg trots by: “Daar is egter één drie wat ek moet uitsonder. Ek onthou dit soos gister. Mosselbaai-klub teen OKSK in die D’Almeida-stadion.

“Ek het die bal (wat al oor die kantlyn getrek het) met een hand van binne die speelveld gevang en toe van die halflyn af regdeur die hele span gehardloop sonder dat daar ’n hand op my gelê is.”

Amsterdam het ná eenwording in 1992 aangehou speel en is dieselfde jaar na die Springbok-proewe genooi. Hy’t ook in 1994 saam die SA Ontwikkelingspan na die Suidsee-eilande getoer.

Dis ook die jaar dat die klub Mosselbaai Barbarians gestig is. GT is sedertdien aan die Baabaas verbonde.

Hy is met Magdelene getroud en hulle bly steeds in Mosselbaai. Fred het twee dogters, Sue-Ann en Caitlin, en Magdelene het ’n seun, Macdelin Saayman.

WEDERHELF: GT en sy vrou, Magdelene. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters