2 maande gelede
’n Sportdiamant

OP DIE ouderdom van 43 jaar is die voormalige Banyana Banyana goalie Astrid van Kesteren (née February) nog vol skop.

En haar dienste op die sokkerveld is nog in demand, noem sy met ’n glimlag.

“Nee wat, ek hou my nog jonk. Ek is van nature ’n baie aktiewe mens en dit gee ook balans aan my hectic leefstyl,” sê Van Kesteren.

“Ek was nog op Vasco se boeke, maar het die klub verlaat om by Shosholoza aan te sluit waar ek weer my sokker geniet.

Treurig

“Ek marshal nog die jongelinge in defence en help met coaching en ontwikkeling van die talent by die klub. Ons het ’n lekker atmos­feer en dis ideaal om nuwe talent te ontwikkel.”

Van Kesteren sê dit is treurig om deesdae nog te sien hoe vrouespanne sukkel met goalkeepers.

“Dat my talent nog op dié ouderdom benodig word, is ’n aanduiding dat dit ’n posisie is wat nog altyd afgeskeep word.

“Dit is beslis ’n rede tot kommer wat vrouesokker betref. Ek onthou hoe ek self toevallig in die posisie beland het. Maar só is my paadjie uitgesit.

Van Kesteren sê sy was aanvanklik ’n verdediger, maar die span het eendag sonder ’n goalie gesit en toe het sy gevolunteer.

“Daarna het ek nooit teruggekyk nie. Ek het tot in die nasionale span gevorder in die nr. 1-trui.”

UP AND COMING: Sy het al op skool by Belgravia High haar merk gemaak. Foto: Verskaf

Haar prestasies in sokker is nie onaardig vir iemand wat eers as 15-jarige op skoolvlak begin speel het nie.

“As ek kyk en ek sien die geleenthede wat die nasionale spelers deesdae geniet, dan wonder ek maar net.

“Hulle speel nou teen goeie teenstand soos Brasilië en speel friendlies oral in die wêreld. En moenie eers van die geld praat wat hulle nou verdien nie.

“Ons was lucky om ’n R2 000 te verdien. Die huidige generasie moet hulself as lucky beskou. Maar ons het met trots en passie gespeel. Dit was alles uit liefde van die spel.

“Ons wou altyd net die beste wees en het vir niks minder gesettle nie. Deesdae dink die youngsters dis oukei om net lid van die span te wees. Dan dink hulle hulle het dit klaar gemaak.”

Sokker was ook nie die enigste sportsoort waarin Van Kesteren nasionale kleure verwerf het nie. Sy het Suid-Afrika ook in sagtebal verteenwoordig.

Van Kesteren was uitstekend op third base en het in 2006 die SA span by die World Championships in Beijing verteenwoordig.

Die boorling van Mountview wat haar sagtebaltande by Glenthorn A’s begin slyp het, het altyd haar hande vol gehad met al haar sportverpligtinge.

“Dit was altyd ’n battle om te besluit tussen die sportkodes.

“Nadat ek egter jare sokker gespeel het, het ek in 2004 besluit om al my aandag aan sagtebal te skenk. Ek het besluit om ’n loopbaan in sagtebal te volg.

“In 2009 het die sokkergogga egter weer gebyt en ek het ’n comeback gemaak. Ek het toe weer Banyana Banyana se span gehaal.”

GROEN-EN-GOUD: Die SA sagtebalspan wat in 2006 na Beijing gereis het. Foto: Verskaf

Van Kesteren het ook op die atletiekbaan uitgeblink.

“Daar was sterk spiesgooiers in my gesin wat die Westelike Provinsie en Suid-Afrika verteenwoordig het.

“Ek het in my broer, Ian, se voetspore gevolg wat spiesgooi betref. Ek onthou nog hoe lank sy o. 15-spiesgooi-rekord van 60,78 m gestaan het.

“Op skool het ek elke jaar die WP-span gehaal en die skolerekord in spiesgooi oortref. Ek was elke jaar in die provinsiale span in my ouderdomsgroep.”

Van Kesteren was ’n leerder aan Belgravia High in Athlone.

“Ek moet eerlik wees, daar was altyd groot druk op my om in sport te presteer. Ek dink dit was omdat my familie, veral my broers, sulke goeie sportmanne was. My ouers was ook baie lief vir sport. My ma was egter nie te keen op my sportkeuses nie.”

“My ma wou hê ek moes netbal speel. Ek onthou nog hoe my pa altyd gesê het: Los die kind, man. Laat sy self kies.”

Rolmodel

Van Kesteren, wat deesdae in die finansiële kantoor van die Stad Kaapstad se afdeling vir parke en ontspanning werk, is al 15 jaar getroud met Garth. Hulle het twee kinders, Mia (13) en Lily (7).

“Dit is baie belangrik om ’n goeie rolmodel vir jou kinders te wees. Hoewel ek nie aan hulle voorskryf watter sportkodes hulle moet be­oefen nie, is dit belangrik dat hulle aktief bly.

“Dit help om ontslae te raak van die stres en hou jou positief.”

Van Kesteren sê haar dogters is bewus van hul ma se sportprestasies, maar hulle raak nie carried away daarmee nie.

“My een dogter moes ’n presentation by die skool gee oor die mees influential persoon in haar lewe. Sy het my gekies en dit het my baie trots gemaak om haar ouer te wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters