4 maande gelede
’n Klubman in murg en in been
Kalielie Arnold  ~ Lyndon Julius

JALIELOEDIEN Arnold was een van die gevreesde spelers onder die destydse Saru se Sacos-vaandel.

Min mense weet wie dit is, want dié legendariese kaptein van die Strand United-rugbyklub en Somerset Board is beter bekend op sy bynaam – Kalielie.

Dié gentle giant het Son oorgenooi na sy huis in Boschstraat, Strand.

Hy het diep spore getrap, veral met die bou van sy geliefde United.

Arnold is een van agt kinders. Dié afgetrede City of Cape Town-motorwerktuigkundige word as een van die beste spelers van die Somerset Board (SA Cup) beskou. Wanneer Kalielie egter so in sy voorkamer sit en uitkyk na die motors wat verbyry, lag hy stilweg as daar na hom as ’n legende verwys word. In ’n beskeie stemtoon spring hy weg en begin praat oor sy klub, Strand United.

“Legende? Nee, man. Dis mos vir die manne wat ek mee saamgespeel het,” sê Kalielie trots. “Kyk, ons het een ding gehad wat baie van die manne nie vandag mee kan spog nie – respek.

“Al speel jy vir All Saints, Macassar of St. George’s, daar bestaan net respek.”

Kalielie het vier susters en drie broers. Sy broers, Moutie, Siraat en Waleed, het vir United uitgedraf. Waleed is laas jaar oorlede.

Al was daar nie ’n tekort aan aanbiedinge van ander spanne nie, veral vir Moutie en Kalielie, was die Arnold-broers toegewyd en lojaal aan die span van die Kraal (Abattoir Park). Sy senior rugbyloopbaan het in 1972 afgeskop en hy’t sy tokse eers in die vroeë 2000’s opgehang.

“My senior rugby het in 1972 begin. Ek het in 1971 vir Marines gespeel – die laaste jaar dat ons in die Silver Trophy (Federasie-rugby) gespeel het. Daarna het ons ons by die Somerset-unie aangesluit. Dis nou die Saru Sacos.

“Daar het ek tot 1978 vir Marines gespeel. Toe het ons, Auroras en Methodist Ex-Scholars ge-amalgamate om Strand United te vorm. Nou dít was my klub,” sê Kalielie.

“Baie mense sal seker skrik as hulle dié lees of hoor van my, maar ek hou nie van rugby nie. Ek is net baie lief vir my klub. My pa het altyd vir ons gesê: ‘Ek gee nie om waar julle sports maak nie, maar dit moet vir één klub wees.’ Dis seker hoekom ons so lief is vir die klub. Ons familie is vanaf die begin verbonde aan United.”

Al is sy naam sinoniem met rugby, was Kalielie ’n ewe kranige krieketspeler.

Sport was groot in die huis van die Arnolds van Lower Gordon’s Bay Road, Strand.

BEKERDAE: Kalielie Arnold (agter, heel links) as lid van die Somerset Board-span voor ’n wedstryd teen NWK in die SA Cup. Foto: Verskaf

Kalielie het vir Hottentots-Holland klubkrieket gespeel. Daar het hy ook hegte bande met lewenslange vriende gevorm.

Kaptein

Dis in die middel tot laat 1980’s dat die naam Kalielie Arnold behoorlik in die breër­ Saru Sacos en SA Cup se annale opgeskryf is. Nes hy lojaal aan sy geliefde United was, het Kalielie ook die Somerset Board-span met toewyding gedien.

Die geharde slot het hom in die Board-span gevestig en was ’n gereelde kaptein in dié span. Reuben Riffel, Somerset Board se bestuurder en afrigter in die laat 1980’s, is vol lof vir Kalielie.

Riffel gesels oor ’n game tussen Somerset en Tygerberg in Ravensmead.

“Ek dink dit was in 1982. In ’n SA Cup-semi of selfs finaal teen Tygerberg op Florida Park onthou ek dat ek eintlik gesien het hoe hardgebak Kalielie was,” vertel Riffel aan Son.

“Ons het daai wedstryd met 15-19 verloor, maar daai dag voor ’n gepakte Florida Park het ons gesien hoe hard Kalielie Arnold eintlik is.”

Wanneer staaltjies en ander se weergawes van Kalielie se glory years aan hom genoem word, is die legende beskeie en bring hy altyd die gesprek terug na respek en natuurlik sy klub, United.

Dié wat voor en saam met hom in die Marines, United of selfs Somerset Board se jersey gespeel het, asook dié wat ná hom gekom het, beaam almal: Kalielie het almal gerespekteer en hy het tyd vir almal gemaak.

“Jy sien, daar is baie min wat dit in die lewe maak as volmaakte rugbyspeler, maar tog is daar dié wat die sport gebruik om sy familie ’n beter lewe te gee. Ek is net bly ek kon speel met manne by wie daar altyd respek en dissipline was, of dit nou in ’n United- of selfs in die Board-span was.

“Kyk, in ’n Board team is jy mos veronderstel om die bestes van die bestes te wees. So, daar kan maklik op ’n Saterdag ego’s inkruip in die hokkie, maar dit was nooit die geval nie.

“Al was dit jou eerste game of al het jy al jare gespeel, almal het vir almal respek gehad. Daarvoor sal ek altyd bly en trots wees om in daardie era te kon speel.”

Vir Kalielie is daar baie mooi herinneringe, maar in sy oë is dit die ondersteuners wat die grootste lof moes kry.

DIE MANNE: Kalielie Arnold (regs voor) het op sy dag ook krieket vir die bekende Hottentots-Holland-klub gespeel. Foto: Verskaf

So in die gesels onderbreek Kalielie se vroulief, auntie Yasmin, hom en vra of ons iets wil drink, “want julle moet dors wees, want julle praat lank sonder rus”.

Geskreeu

Hy merk op een spesifieke ondersteuner, ene Benson, van Garden Village in Somerset-Wes, het vir hom uitgestaan in sy Board-dae.

“Ja, ja, daar was een ou, Benson, van All Saints,” sê Kalielie trots en skuif reg in sy stoel vir ’n lekker staaltjie.

“Hy was altyd teen die veld en het hard geskreeu: ‘Maroon and white, maroon and white!’ Dit was mos die Board se colours. Hy’t eintlik die ander spanne bang gepraat. Lyk my hy het ’n loudspeaker ingesluk die way wat jy hom van ver kon hoor praat en skreeu.

“Jy kan Randy Marinus vra van Benson. Randy was een jaar hier en het gevra: ‘Waar is daai mannetjie?’

“Ek weet nou nie of Randy hom ooit gekry het nie.”

United bly na aan Kalielie se hart. Hy en sy gesin is nog aktief betrokke. Dis die tweede generasie ná hom en sy broers wat die wynrooi-en-wit oor hul kop trek.

Die groot gees van Kalielie sal nog baie lank ná sy vertrek daar te vinde wees.

Dís nou ’n legende wat ’n behoorlike legacy saam met sy medemens gebou het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters