21 dae gelede
Muntstuk nie aan sy kant geval
ONNIE: ’n Onlangse foto van Willie Booysen.  ~ Foto Verskaf

MENIGE rugbyondersteuner beskou Willie Booysen as een van die beste spelers wat nooit die Saru-span voor eenwording gehaal het nie.

Son het gister met dié 60-jarige onderwyser van Montagu oor sy roemryke loopbaan gesels.

“Die rugby-gogga het my sommer vroeg in my lewe gebyt,” vertel Booysen.

“Alles het maar begin by WA Primêr hier op Montagu. Ek het altyd die wedstryde op die veld gaan kyk en was van kindsbeen af versot op die spel. Ons het destyds ondergewig gespeel.

“Ek het aanvanklik regtervleuel gespeel voordat ek ’n draai in die pak gaan maak het en flank gespeel het.

“Skrumskakel sou later my permanente posisie word. Een van my eerste hoogtepunte was toe ek die MRB-span, dis nou die Montagu, Robertson, Bonnie­vale-span, se onder 32 kg-span gehaal het. Dis dalk toe dat ek besef ek het ietsie in my.”

Hy vertel hy’t op hoërskool nog hoër hoogtes bereik: “Ek het die Boland-skolespan as flank gehaal. Dit was die onder 65 kg-span.

“Ek het my ná skool as onderwyser bekwaam toe ek by die Bellville Opleidingskollege (BOK) gaan swot het. Hier was Jeff van der Merwe my afrigter.

“Hy was ook ’n kranige vleuel wat vir Federasie gespeel het. Ek is gekies vir die WP Kolleges se A-span en in daai tydperk het ek ook vir Tygerberg onder die leiding van Peter Jooste gespeel.

“Daar was heelwat groot name in daai jare by Tygerberg. Iemand soos Ronnie Korkee kom onmiddellik by my op.”

FLINK DIENS: Booysen gee ’n duikaangee teen die Saru-span. Foto Verskaf

Booysen noem ook dat Allister Coetzee in daardie tyd die Saru-skrumskakel was. Baie kenners meen Booysen moes ook nasio­nale kleure verwerf het.

Passievol

“Ja, dis maar nou soos die lewe loop,” is Booysen se antwoord.

“Allister was ’n baie goeie skrumskakel en dis maar nou net so dat die muntstuk nooit aan my kant geval het nie. Dit (Saru-kleure) was seker maar nie vir my beskore nie. Ek het ’n paar keer teen hom gespeel toe hy vir OP gespeel het en ons was ook opponente toe hy vir Saru en ek vir die WP Platteland op Moorreesburg gespeel het. Hy was ’n goeie skrumskakel.”

Booysen praat passievol oor sy dorpspan, Montagu Villagers.

“Ek het in 1979 lid geraak van die klub en in 1980 die A-span gehaal wat destyds deur Ivan Pekeur, die huidige president van die Boland Rugbyunie, afgerig is.

“Ek het in 1983 ook die eerste keer die SWD A-span gehaal onder die afrigting van mnr. Willie Beukes wat al oorlede is. Daar was ook destyds ’n mnr. Jeffrey wat aan Mosselbaai verbonde was, wat ’n groot rol in my loopbaan gespeel het.

Aangedurf

“Ek is 1985 as SWD-kaptein gekies – wat ek ook as ’n hoogtepunt in my loopbaan beskou. Ek was SWD se sportman van die jaar in 1987 en die daaropvolgende jaar het ek ’n toekenning ontvang vir uitstaande spel,” vertel Booysen trots.

“Ons het destyds in SWD meegeding om die NCCA-beker en ons het Mosselbaai Rugbyklub in 1986 om die beker aangedurf.

“Ek is ook in die jaar 2000 deur Montagu Villagers gekies as die speler van die eeu. Dit was en is steeds vir my ’n reuse-eer.”

’N WARE STAATMAKER: Booysen was in die 1980’s een van die voorste skrumskakels in die land.

Booysen het met eenwording aanhou speel, hoewel hy toe al in sy 30’s was.

“Ek was bevoorreg om die Boland Kavaliers se B-span te verteenwoordig en het ook in vier wedstryde vir die Boland Rugbyunie gespeel.”

Hy noem dat hy in 1988 vir die Saru Juniors gekies is en beskou dit as ’n ander hoogtepunt van sy loopbaan.

Hoe beskryf Booysen sy skrumskakel-spel?

“Ek was baie lief vir breekslae om die skrum. Gelukkig het ek taamlik spoed gehad. Dit was een van my sterk punte. Ek wou altyd die opposisie aan die raai hou.”

Booysen is tans ’n opvoeder by Ashbury Primêr in Montagu, getroud met Merencia en hulle het twee seuns.

OP LOOP: Booysen se spoed was een van sy grootse bates.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters