6 maande gelede
Mnr. Landloop nog nie geretire
Owen Machelm  ~ Lyndon Julius

BAIE mense, veral in die sportwêreld, word ’n legende genoem vir sy of haar bydrae, maar – met respek gesê – min verdien dié titel.

Van dié “unofficial” titels word volkshelde gegun vir hul harde werk en bydrae tot ’n sportsoort, en soms tot sport in die algemeen.

Hierdie elitegroep van yes­teryear se sportlui word meestal gekies op grond van die emosionele verbintenis met ’n tydperk wat beskryf kan word as die glory days van die publiek se gunstelingspan.

Baie sal van jou verskil as jy sekere legendes “beter” as ander ag, veral omdat sport voor 1994 nie verenig was nie.

Daar was nie ’n platform waarop almal kon kompeteer om hulle met eweknieë in die land te vergelyk nie.

Maar daar is ook min wat in beide eras tops in sy of haar sportsoort was. Een só ’n langafstandatleet is Owen Machelm, die unsung hero van Macassar.

Selfs peers in ander sportkodes gee Machelm die eretitel van legende as hulle oor hom uitgevra word.

Baie min weet een van die Macassar-rugbyvoetbalklub se suksesvolste eerstespanbestuurders is en was die land se langafstand- en landlooprekordhouer en dat hy eintlik met atletiek naam gemaak het. Dis afgesien van sy sukses met die MC Boys in die vroeë 2000’s.

Grootwordjare

Machelm is in Firgrove gebore. Al het hy vir ’n deel van sy skoolloopbaan in Kuilsrivier skoolgegaan, het hy dit in Macassar voltooi.

Hy, sy broer, Rodney, en drie susters, Sandy, Belinda en Charlene, het almal hul grootwordjare in Macassar deurgebring.

Machelm en sy vrou, Bonitha, is al 22 jaar getroud en hulle het twee kinders, Shenay en Sevaan.

Hy grap en sê hy het al vanaf laerskool sy oog op Bonitha gehad, maar sy sport – rugby en atletiek – het altyd eerste gekom.

“Ek ken my vrou al van laerskool af en het maar net altyd vir haar so gekyk,” vertel Mac­helm glimlaggend terwyl hy agteroorsit op sy rusbank en by die voordeur uitstaar.

In die Sacos- en post-unification-era het hy sy naam uitgekerf in die annale van skole- en klubatletiek. Die 5 000 m-spesialis se rekord van 14:31:08 in die seunsopewedloop en die South African Senior Schools Sports Association-rekord van 14:31 flat het lank onder “unified” sport bly staan.

Machelm en John September het mekaar gereeld voor gepakte stadions landwyd gedruk om die beste uit mekaar te trek.

In 1994 het hy Protea-kleure gewerf vir die Chiba Ekiden, ’n jaarlikse internasionale spanpadwedloop in Japan. Hy was by die Commonwealth Games, in 1994 en 1995 by die wêreldlandloop-kampioenskapsbyeenkoms en in 1997 en 1998 die wêreldmarathonbyeenkoms.

Prestasies

Machelm was een van die land se voorste langafstand­atlete. By vele byeenkomste het hy die skare op hul voete gehad vir ál 12,5 rondtes rondom die baan.

Hy het oorgenoeg foto’s, memorabilia, medaljes en ander roemryke prestasies om sy huis se mure binne en buite vol te maak, maar dis vir hom onbelangrik.

In sy voorkamer sê Mac­helm baie beskeie: “Ek beskou nie myself as ’n legende of topatleet nie.

“Baie ander het meer as ek bereik en moet daai eer ontvang.

“Daar is wel mylpale wat ek bereik het waarop ek nogal baie trots is. Jy sal sien my mure is leeg en geen foto’s van my prestasies is opgesit nie.

“Dis nie omdat ek nie trots is op my loopbaan nie. Ek dink dis tyd dat my kinders hul eie mure volmaak.

“Ons moet ons heroes vereer terwyl hulle nog lewe. Ek is net bly ek kan nog my talent en ervaring met die volgende geslagte deel.”

Machelm sal altyd ’n sterk band hê met ander Sacos-helde soos September, Donovan Wright, Farwa Mentoor, Jowaine Parrott, Melody Marcus en Keith Court.

Vir hom is die hartseerste dat daar nie veel oor dié en baie ander topatlete geskryf word nie.

Machelm het ook sterk bande met twee klubs waarvan hy baie lank lid was, Atlantics in Seepunt en MRP Maties in Stellenbosch.

In sy tyd kon min atlete met borge spog, maar Mac­helm het ’n lang verhouding met borge soos Adidas, MRP, Nike en Puma gehad.

Hy sê: “Frans Pienaar van Eersterivier was my coach. Hy het my baie goed bygestaan, veral in my pogings om sponsorships en dies meer te kry.

“Kevin Kiewitz, tans die Tygerberg-RVK se voorsitter, het in 1997 my eerste en enigste agent geword. Hy het my goed bygestaan en geweet waarvandaan ons kom, veral in die Sacos-era. Dit was ’n maklike en baie vrugbare verhouding.”

BEKENDES: Machelm (regs) saam met die langafstand­sensasie Elana Meyer en die paalspringer Okkert Brits. Foto: Verskaf

Die 52-jarige is van die min atlete wat onder die Sacos-vaandel van nierassige sport gehardloop het. In alle media was groot opslae oor dié langafstandsensasie. Hy en baie van die land se top-atlete en sportsterre het gereeld skouers geskuur.

Tog beskryf Machelm die bemarking vir die World Cross-Country Champion­ship in 1996 in Stellenbosch as een van sy wonderlikste oomblikke in sy loopbaan.

Wynlande

Machelm was een van drie atlete wat die event bemark het. Dit was die eerste keer dat die event in Suid Afrika aangebied is.

“Ek, Okkert Brits (paalspringer) en Elana Meyer (langafstand-atleet) was die gesigte van dié event. Ons het byvoorbeeld in die wynlande gaan hardloop en dan vat hulle foto’s van ons en dan moet ons radio- en televisie-onderhoude doen.

“Daai was een van die hoogtepunte van my loopbaan – veral na unification,” vertel Machelm baie trots.

Minder

Daar is nog baie kilometers in Machelm, maar die landlooplegende wil sy tyd nou saam met sy familie deurbring en atlete in Macassar en soortgelyke gemeenskappe help.

“Ek is nog nie retired nie,” lag Machelm.

Tog het hy ’n ferm boodskap: “Kyk, ’n langafstand­atleet kan nooit retire nie.

“Jy doen net minder wedlope as voorheen. Ek gaan my nou op my familie fokus en die jonger atlete coach.

“Ek sê altyd vir dié wat my approach om hulle te coach: Jy moet fokus op jou skoolwerk en studie. As dit onder die knie is, dan kan jy na my toe kom. Education is baie belangrik.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters